Gepubliseer in Joernaal

Die flaminke van Flaminkepan in Welkom

Toe ons in 1983 na Welkom verhuis het, was die flaminke van Flaminkepan in Welkom een van die grootste besienswaardighede in hierdie jongste goudstad van Suid-Afrika.

Flaminkepan kan gesien word vanaf die pad tussen Odendaalsrus en Theunissen. Maar ons het die pan gesien wanneer ons vanaf Naudeville deur die stad na die rugbystadium gery het. Die stadium was die tuiste van die Griffons, die Noord-Vrystaatse rugbyspan.

In al die jare wat ons tussen 1983 en 2005 – met enkele kort onderbrekings – in Welkom gebly het, kon niemand ons oortuig om vir die Vrystaat te skree nie. Daarvoor was ons bloed heeltemal te blou. Maar die pers span (Griffons) het ons tweede span geword. Ek wonder of iemand kan onthou dat pers en mosterdgeel op ‘n stadium hoogmode was? Wel, dit is die kleure van my tweede rugbyspan. Dit kon nie anders nie. Manlief was op die bestuur van Noord-Vrystaat rugby – wat later as die Griffons bekend gestaan het. En ons vriende het vir die Griffons gespeel.

Maar, ek wil mos van die flaminke van Welkom vertel.

Dit is nogal skokkend dat ek geen foto’s daarvan het nie. Maar daar is darem redes daarvoor. Kameras was in ons jonger dae ‘n luukse, ook die ontwikkeling van films. En teen die tyd wat mens met ‘n selfoon foto’s kon neem, het die flaminke van Flaminkepan uitgesterf.

Of het hulle dalkies net weggetrek?

Maar, nee, daar was groot ongelukkigheid in Welkom toe die flaminke weens die besoedeling van die water van die pan uitgesterf het. Die sondebok was die myne in die gebied.

Ons het in November 2005 weggetrek, toe die myne in die gebied goed gedoen het. Die stad uit sy nate gebars het. Intussen het die mynbedrywighede in die gebied so agteruitgegaan dat verskeie myne moes sluit of afskaal of verkoop. Veral weens die inmenging van die staat en unies. En natuurlik ook die invloed van die “nuwe” Suid-Afrika om ‘n welgestelde, vooruitstrewende “ou” Suid-Afrika te vervang.

Ek neem aan daar was in die ou Suid-Afrika ook korrupsie, daar is in bykans elke welgestelde land op die aarde korrupsie. Maar, die soort korrupsie waaraan die “nuwe” Suid-Afrika gekenmerk word, het geen perke nie.

Mense verryk hulself met geld wat bestem is om stede in stand te hou. En hulle word nie verantwoordbaar gehou nie. Ek het onlangs gelees dat bykans elke munisipaliteit in Suid-Afrika ‘n slegte rekord van boekhouding het. En nie kan verklaar waarheen miljoene der miljoene gegaan het nie.

Ons was so vyf of tien jaar gelede in Welkom. En toe het ons deur die strate gery om te gaan kyk hoe die huise waar ons gebly het nou lyk. Die skok was groot.

Die huis in Jangriemoabstraat in Naudeville het erg agteruitgegaan, so ook die huis in St Helena waar ons lank gewoon het. Beide was mynhuise. In ons jong dae het mens bykans gratis in mynhuise gewoon. Maar, die staat het mos intussen besluit om myne so te belas dat hulle die huise verkoop het. Ons huis naby Welkom Gimnasium is steeds pragtig. Dit was ‘n privaathuis en ons het dit aan mense van Bloemfontein af verkoop. Hulle hou die plek pragtig in stand.

Iedergeval, ek wou oor die flaminke vertel. Want ek het op een van my blogvriendinne se plasing oor ‘n flamink kommentaar gelewer dat die flaminke in Welkom so bekende gesig was dat woonbuurte daarna vernoem is. En toe is hulle op ‘n dag net weg.

Iewers tussen 1983 en 2005.

Wel, die flaminke was so ‘n bekende gesig dat Welkom se tweede naam onder ons inwoners Flaminkestad was. En daar is Flaminkepan, Flaminke Drukkers, en vele ander plekke wat hulle name aan die flaminke gekoppel het.

Ek het geskryf dat ek bietjie sal uitvind of die flaminke terug is. En toe soek ek sommer gou op Google. En kyk wat kry ek! ‘n Baie swak video wat in 2020 geneem is. En daar is baie, baie flaminke op Flaminkepan.

Dit maak mens sommer opgewonde. En lus om te gaan kyk en foto’s te neem.

Daar is egter een groot probleem. Mens moet van die N1 by Kroonstad wegdraai om deur Welkom na Bloem en Stilbaai te ry. En ek gaan manlief nie sommer maklik oortuig om dit te doen nie.

Want … ons het so vier weke gelede van die rivier af Wesselbron oor na Bloem gery omdat die pad tussen Bothaville en Welkom toegemaak is. Oorstromings van die pan by Allanridge het groot skade veroorsaak wat veroorsaak het dat verskeie motorongelukke by Allanridge plaasgevind het. Dus moet mens Wesselsbron of Kroonstad om na Bloem ry.

Ons het die pad net na sononder aangepak. En dit was ‘n baie, baie onaangename verrassing om in die nag die seker 120 km pad vol slaggate te ry. Op plekke is die pad mooi en dan kry mens weer spoed. Om die volgende oomblik deur ‘n slaggat te gaan. Nee wat, selfs in die lig sal ek die pad nie weer aanpak nie …

Nou gaan ek vriende en skoolkinders in Welkom moet vra om vir my beter foto’s te deel as wat hierdie video vertoon.

Maar ja, De Wet Wild en Nowathome, die flaminke was in 2020 in hulle volle glorie terug in Welkom.

Een voordeel van die tanende mynbedrywinghede?

Iedergeval, ek kon paar onlangse foto’s van die flaminke van Flaminkepan op Google opspoor. En dit maak my hart gelukkig!

Is dit nie een van die mooiste voëls op aarde nie?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Die flaminke van Flaminkepan in Welkom

  1. Dit is baie goeie nuus! Die natuur het mos maar net ‘n manier om ‘n “comeback” te maak. Dis jammer die paaie verval so want mens mis so baie as jy op die hoofpaaie ry, maar eish…ons kleiner dorpies se toegangspaaie is nie meer veilig nie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.