Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Ons Miniatuur Schnauzer reisgeselle

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

Mooi woord, is dit nie? Reisgeselle. Ek kon ook reisgenote, toggenote, medereisigers, of toergroep gekies het … Ek hou van reisgeselle.

Ons was so effens bekommerd om met ons Miniatuur Schnauzers tussen Roodepoort en Kuruman te reis. Dit is ‘n ver pad, so ses ure en selfs langer se reis, afhangende van die verkeer. As ons gelukkig is, vang ons nie soveel trokke nie. Maar op ‘n moeilike dag is die ertstrokke soos treine soos wat hulle mekaar opgevang het. En dan moet jy geduldig wees om ‘n kans te kry om verby te steek.

En wakker wees, want padvarke jaag van agter af verby die opgehoopte string voertuie en trokke. En as jy nie mooi kyk as jy wil verbysteek nie, is jy in jou maai in.

Om met ons drie Miniatuur Schnauzers te reis, is egter een van die lekkerste dinge in my en manlief se reisdagboeke. Hulle reis maklik en gemaklik saam met ons.

Hulle weet wanneer ons die huis gaan verlaat om lank weg te wees, vereenselwig dit seker met taspakkery, en dan maak hulle baie seker dat ons nie van hulle kan vergeet nie. As ons begin tasse pak, is hulle om ons voete. En wanneer manlief in die gang afstap, stap een gewoonlik saam met hom, terwyl die ander twee agter bly om seker te maak hy vergeet my nie. Dan word daar heen en weer tussen ons geloop, en ek kry sulke kyke van roer-daai-boude-van-jou, pa wag vir ons almal.

Wanneer ek uit die huis stap, staan hulle by die bakkie gereed om gelaai te word.

BB kies elke keer die voordeur, sy dink sy gaan weer soos altyd op my bene slaap. Maar Sondag het Bekka en Shilo daar gaan staan en wag om ingetel te word (foto 1). Ek lief die uitdrukking in Shilo (agter) en Bekka (voor) se ogies – jy gaan ons nie vergeet nie, gaan jy? Of dalk iets soos roer jou stert, ons wil ry.

Vandat ons die sitplekseil gekoop het, slapies almal op die agtersitplek. En noudat ons so ver ry, moet die harnasse aan wees dat ons die leibande net hoef te haak as ons stop en uitklim.

BB staan stil en kyk my baie verwytend aan terwyl ek die harnas aantrek. Shilo sal in die laaste tyd enige iets doen as ek tog net aan hom vat, dus staan hy reg. Soms knor hy as ek hom optel, nie kwaai nie, eerder skamerig. Bekka staan, sodra ek met die harnas nader staan, weg. Sit selfs so effens onder die bakkie.

Maar nou ja, hy weet hy het verloor as ek hom gebied om te kom. Dan staan hy maar traag op en kom nog traer nader vir die straf – om ‘n harnas aan te trek. Ook hy knor met die intelslag, ek giggel elke keer vir die twee manne. As dit nou ‘n kar was, kon hulle self inklim. Voel seker skaam omdat ‘n meisie hulle moet help?

Tussen die rivier en die stadshuis reis ons so drie ure lank en ons het nog nie een keer nodig gehad om vir ‘n waterafslaan te stop nie – nooit in al die jare met Schnauzers nie en BB het so pas 11 jaar oud geword.

Tussen die stadshuis en Kuruman is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Tydens die reis van 465 km is dit vreeslik lank om nie ‘n nood te ontwikkel nie. Hulle laat weet ons wanneer een ‘n nood het. Staan dan op en staan met die gesiggies wat oor die rand van die seil druk. Tussen ons twee voor in die bakkie.

Of Bekka staan verlangend by die venster en uitkyk, met ‘n uitdrukking van: Gaan hy stop of nie?

En dit is juis een van ons grootste probleme. Om ‘n geskikte stopplek tussen Krugersdorp en Kuruman te kry.

Die eerste geskikte stop is die garage buite Venstersdorp, so 100 km vanaf die huis. Daar is tafeltjies en gras. Ons het hulle skaars uitgetel, dan is staan die saak reg met hulle. Hulle moet onmiddellik water afslaan waar vorige 4-beenkinders die ding gedoen het. BB hurk ook vinnig. Ons het nog nooit iets hier gekoop nie, ons maak padkos voor ons vertrek.

Die tweede stop is ‘n garage net oorkant die t-aansluiting waar die N14 regs na Vryburg toe draai. So 143 km van Kuruman af. Daar is ook tafeltjies waar mens kan sit, maar ons hoef nie. Want die manne ruik die nood om bo-oor ander se plekke hulle water af te slaan. BB ook. En ons stop gereeld daar om die pad te breek, bene te rek en biltong en droë wors te koop.

Foto’s: Ky tog net BB (naaste aan my) se kyk, Bekka (links) en Shilo (regs) vra dat ons stop vir ‘n waterafslaan, ons stop vir groot trop beeste wat oor pad gejaag word en ‘n onsie …

Al wat ek weet, is dat dit so lekker is om met hierdie kinders van my te reis. Hulle kerm nie as ons eet om ons kos te kry nie, hulle blaf nie onnodig vir mense wat langs die pad of op sypaadjies loop nie. En … hulle waarsku ons as iemand te naby aan die bakkie verby loop.

Ons is skaars by die huis weg, of hulle slaap. En hulle bly slaap tot ons stop om uit te klim. Stop by garage om vol te maak, tel nie vir hulle as stop nie. Dit is slapenstyd …

Ek is so lief vir hierdie drie 4-beenkinders van my.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Ons Miniatuur Schnauzer reisgeselle

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.