Sedert die eerste nuus ons hier in Qazaqstan bereik het, het ek geweet dat die dag vir ons ook sou kom. Om onder kwarantyn te gaan om die SARS-CoV-2 virus se tentakels te beperk. Die probleem is nie dat dit mense siek maak nie, maar eerder dat mense ander aansteek nog voordat hulle self weet dat hulle siek is.
Die eerste nuus het ons bereik net nadat ons vroeg in Januarie van Suid-Afrika teruggekom het. Sjina het ‘n virus, die virus laat hom nie hok slaan nie en ‘n redelike groot persentasie van die mense wat aansteek, word baie, baie siek. Longontsteking. In Sjina het meer as 80 000 mense vinnig aangesteek, waarvan meer as 3000 gesterf het.
Ons leef na aan die Sjinese grens, wat meer as 1000 km sterk. En kleinhandelaars gaan dikwels oor die grens om produkte goedkoop aan te koop. Die grens is gelukkig nie plat nie, die twee lande word deur ‘n bergreeks geskei. Ons stad is die eerste groot stad in die noordoostelike hoek van Qazaqstan en is so 200 km van die grenspos af weg.
Die Sjinese wat op die myn werk, moes dadelik eers vir twee weke in self-isolasie gaan voordat hulle met die ander werkers in aanraking kom wanneer hulle die land binnekom. Tog was mens die hele tyd bewus van die virus wat langs ons amok maak en Qazaqstan wat nog geen gevalle geregistreer het nie.
Intussen het die virus die grens saam met reisigers oorgesteek en die getal gevalle in Italië het Sjina gou verbygesteek. Vanoggend het bykans 13 915 Italianers reeds as gevolg van die virus gesterf. Die VSA het Italië gou verbygesteek, maar die dodetal was minder. En nou het Spanje Italië verbygesteek met meer gevalle, en ‘n klein bietjie minder sterfgevalle (10 915). Daar word bereken dat Italië, met sy groot persentasie ouer mense, nie van hierdie terugslag sal kan herstel nie.
Intussen is die eerste gevalle in Suid-Afrika en Qazaqstan aangeteken net voor of nadat Covid-19 as ‘n pandemie verklaar is. Suid-Afrika het sy grense gesluit en die hele land onder kwarantyn geplaas toe daar nog enkele gevalle was. Daarmee is tyd gekoop om reg te maak vir die gevalle wat kan kom.
Qazaqstan het, nadat enkele gevalle aangemeld is, die land se grense gesluit en die twee grootste stede, naamlik Almaty, die vorige hoofstad en Nur-Sultan die huidige hoofstad onder kwarantyn geplaas.
Ons stad is nie gesluit nie, maar mense is verbied om byeen te kom. Konserte en sportbyeenkomste is afgestel, teaters is toegemaak en ‘n klub wat ‘n karioke gehou het, se deure is vir hom gesluit.
Mense het van die huis af begin werk en baie van die mense het begin om maskers te dra.
Ek het nie meer met vriendinne gekuier nie, want hulle het steeds winkels besoek. Miskien omdat ek nie self ‘n masker te koop kon kry nie. En eintlik nie daarmee wil loop nie, dit voel of ek versmoor.
Ek het nie die storie geglo dat maskers nie kan help nie. Die fynskrif was dat daar nie te koop was nie omdat die maskers vir noodpersoneel gespaar moes word.
En toe begin die gerugte vroeg vandeesweek, ons gaan gesluit word. En hier word dinge anders as in die ander lande gedoen. Lyk dit my. Alles moes eers in plek gestel word.
Dinsdagoggend 2 April moes alle winkels om 0:00 hulle deure toemaak, behalwe apteke, kruidenierswarewinkels, garages en ander plekke waar noodwerkers werk.
Ons moes voor 6 April paste kry om in die stad te beweeg en die landlord moes vir ons s’n aansoek doen.
Ons het dit vandag, 3 April gekry. Daar is twee soorte, wit en groen. Ons s’n is groen, daarom mag ons op dae van die maand waarvan die datum ‘n ewe getal is uitgaan om kos, medisyne en kruideniersware te koop.
Sondae mag niemand uitgaan nie en naweke mag daar geen motors op die paaie wees nie.
Ek het ook ‘n brief in Russies van manlief se werk gekry, wat die hele tyd saam met my paspoort by my moet wees en wat bevestig dat ek wel in hierdie woonstel en hierdie woonstelblok woon. As die blok skielik gesluit word, kan net daardie brief vir my toegang tot die gebou gee.
Restaurante wat kan, mag aanlyn gaan en winkels ook. Om af te lewer.
Vandag eers besef ek dat ek ‘n probleem het, my minder warm skoene het in Suid-Afrika agtergebly omdat my tas te vol was. Ek sou in Maart gaan haal, maar die virus het ons reis gekanselleer. Gelukkig moet ons in die huis bly waar ek kaalvoet loop, want my winterskoene is te warm.
Dink net, in die winter dra ek in Suid-Afrika dun skoene, met sykouse. Hier dra ek wolkouse, met leerstewels wat met pels uitgevoer is. En selfs dan kan my tone koud kry.
Selfs al dra ek sykouse, gaan dit nie werk nie. Die skoene is nie alleen te groot as gevolg van die dik kouse nie, dit is ook baie te warm om daarmee te loop. Dink maar net daaraan – dit is gemaak vir temperature laer as -30!
Dit is nou tussen 8 en 11 bedags, lekker warm. En dit gaan nog na +38 gaan, maar darem eers teen Augustus.
Ons stad gaan blykbaar ook in 220 sones ingedeel word, en jy mag net binne jou sone beweeg.
As jy die dag buite is, word jou pas geknip. En vir nou het elkeen van ons net 15 knipplekke, dus gaan mens maar mooi moet werk om dit te rek. Ons het geen sperdatum gekry nie, net ‘n begindatum. Hoor juis vandag dat Rusland sy kwarantyn met ‘n maand verleng, die virus is nog nie beheer nie. Dit sal dan hier ook gebeur.
Ons kwarantyn sou Maandag begin, maar die eerste geval, wat toevallig ook baie ernstig is, is vandag in ons stad geregistreer. Bevestig my vermoedens, die virus is lankal hier. Mens word nie in een dag doodsiek nie.
Nou begin die kwarantyn reeds môre, 4 April 2020.
Ek vertel vandag vir vriende en hulle vra hoe dit gaan werk, is daar hospitale ensovoorts in elke sone?
En toe gaan stap ek met my selfgemaakte masker om foto’s te neem om te verduidelik hoe dit hier werk.
Die stad bestaan hoofsaaklik uit woonstelblokke wat so 3 tot 10 verdiepings hoog is. Ek moet nou eers hier verduidelik.
Ust is baie oud, word vanjaar 300 jaar oud. Die stad was lank onder Russiese beheer en die meeste woonstelblokke en geboue lyk dieselfde. Dit is nie esteties nie, hulle is nogal lelik, maar funksioneel. Ek het aan die lelik gewoond geraak, ook aan die geboue wat so eenders lyk. Dit is nou vir my nogal mooi.
Hierdie foto wat ek op Instagram gaan leen het, gee ‘n goeie idee van hoe ‘n blok met woonstelle lyk. Die meeste woonstelle is sulke lang reguit blokke soos in die onderste hoek van die foto aan die agterkant van die gebou gesien kan word wat om ‘n straathoek gebou is.
Aan die straatkant van die geboue bestaan die meeste van die woonstelblokke se eerste vloer, wat ons as die grondvloer ken, uit winkels. Die ingange na die woonstelle is aan die agterkant van die geboue, met parkeerplek vir die inwoners. Die vier rooi woonstelblokke is nuwer as die res, die meeste woonstelblokke is sulke lang, aanmekaar geboue, met deurgange op verskeie plekke na agter.
Dit het nie soos Suid-Afrikaanse woonstelblokke buitegange waar mens van die eerste tot die laaste woonstel op ‘n vloer kan stap nie, om baie goeie redes. Mens sal in die winter daar vergaan. Die geboue bestaan uit kolomme, en elke kolom het sy eie ingang wat met sekuriteitslotte beheer word.
Elke blok bestaan die meeste van die tyd uit twee tot vier woonstelle per vloer. Ons gebou is nuwer, het ses woonstelle per vloer.
Dit is dus maklik om ‘n blok of kolom van ‘n woonstelblok af te perk en te isoleer. Alhoewel daar baie woonstelle per vloer is, kan jy, as jy by een ingang ingaan, net toegang tot die twee tot vier op die vloer verkry waartoe die ingang toegang verleen.
Die blokke wat om straathoek gebou is, lyk op grondvlak aan die straat se kant soortgelyk aan hierdie ene wat deel van ons blok woonstelle vorm.
Aan die linkerkant kan DSL se kantoor gesien word. Ons was baie opgewonde, is daar in om ‘n pakkie Suid-Afrika toe te stuur en weer uit sonder om te pos. R2000.00 om ‘n brief en twee pakkies tee en sjokolade vir die kinders te stuur. Toe laat vaar ons maar die pos gedagte.
Aan die sykant van die linkerkant van die gebou, is ‘n apteek, waar mens enige iets kan koop wat ‘n dokter kan voorskryf, antibiotika ook. Hier gee die apteker die medisyne, jy gaan net dokter toe as jy baie siek voel. Maar in klein hoeveelhede. Soos 1 pilletjie vir blaasonsteking en nie ‘n pakkie nie.
Dit is nuwe mode in Ust om die geboue aan die buitekant met teëls toe te maak. Ek kan dit verstaan, verf hou net nie in hierdie uiterste temperature nie. Die buitekante van die geboue is ook regtig vreeslik lelik. Die meeste is nie geverf nie.
Lyk vir my skoon en mooi. Onder in die gebou oorkant die apteek is ‘n ingang na ‘n koswinkel wat ek die week vir die eerste keer gaan besoek het.
Dit verkoop gerookte vis, die reuk daarvan het my gekeer om weer daar in te stap. Ek het nog net die notarius (prokureur) raakgesien. Daar is in bykans elke gebou in die stad ‘n prokureur, en hierdie mense werk hard. Hulle word selfs by besighede se besluite betrek. Daar is baie wette en die wette moet gehoorsaam word.
Ons bly gelukkig op Central Square, daarom is die hooftakke van banke ook hier om ons rond. En autotellers waar geld getrek kan word. Moet maar mooi kies, party verstaan net Russies en Qazaq.
Tans moet mens buite die bank in ‘n ry staan, een-een word in die bank toegelaat.
Hulle verstaan nog nie so lekker van sosiale afstand nie, hulle bondel voor die deure saam. Ek gaan maar ver van die bank bly, net koop waar ek met my kaart kan betaal. Geld gaan trek wanneer ek buite mag wees en op tye wat die mense nog nie winkels toe gaan nie. Winkels maak mos hier eers 10 uur soggens oop, maar dit bly tot 10 uur saans oop. Vreemd in die somer, verstaanbaar in die winter as die son 9 uur nog nie op is nie.
Soos gesien kan word, is die bouwerk ook maar vaal en verbeeldingloos, Ust is ‘n werkerstad, hier word gewerk en min gespeel. Hierdie woonstel het ‘n mooier ingang, met dames wat die kantoortjie beman en as sekuriteit dien.
Soos wat gesien kan word aan die gebou aan die linkerkant, is estetiese nie in gedagte gebring toe die geboue ontwerp is nie. Binne is dit ‘n ander storie. Die woonstelle is mooi en funksioneel ingerig.
Kyk hoe vaal lyk die straat noudat die sneeu gesmelt het. Ek mis die mooi wit wat vir vyf maande deel van my lewe was, maar geniet die warmer weer omdat ek buite kan gaan stap.
Die nuwe winkelsentrum, blou gebou heel agter, het Desember sy deure oopgemaak en nou is al die winkels gesluit, behalwe die supermark, A+. Dit is ook stapafstand van ons woonstel af.
Agter die woonstelblok aan die linkerkant is ‘n speelpark vir kinders. Alle woonstelblokke het so iets.
Kyk ook na die lelike onderkant van die gebou, soos ek sê, dit gaan hier nie oor estetiese waarde nie, maar oor funksionaliteit. Die gebou aan die regterkant strek al die pad tot by die mall, met drie deurgange waardeur mense kan ry of loop om na die agterkant van die gebou te gaan om in hulle woonstelle in te gaan.
Aan die oorkant van die straat is Sulpak, waar jy enige iets tegnologies van aard kan koop, daar is ook een in die nuwe winkelsentrum. Ek wil amper skryf verskoon tog die vaal, dit was twee weke gelede nog onder skitterwit sneeu versteek.
Die platter woonstelblokke in die stad lyk baie soos die een hier onder, en soos jy kan sien is die hele eerstevloer winkels. Elke winkel het sy eie ingang, jy stap nie in en binne van hoek tot kant nie. Sommige van die blokke is ook in kleure geverf, maar verf is nie ‘n goeie idee in hierdie uiterste temperature nie.
Aan die linkerkantste punt van die gebou is ons een gunsteling eetplek. En Gastronom, waar mens kos kan koop.
Hierdie is die voorkant van die blok woonstelle waarin ons woon en strek vanaf die gebou op die hoek (eerste fotoO tot by die winkelsentrum. Verskillende geboue is net so ingelas en aanmekaar vas.
Net langs Nurbank is die een deurgang na die agterkant van die gebou.
Da Vinci is ‘n duurderige restaurant wat baie lekker kos maak en ‘n lekker atmosfeer het, nogal duur.
‘n Ander interessantheid om aan gewoond te raak is dat woonstelgeboue nie name het nie.
Die een half links op die foto, wat dieper instaan, is van die enigstes met ‘n naam. Die adres is die naam van die gebou, byvoorbeeld Kazakhstand 61. Of as daar nog later gebou is, Kazakhstanstraat 61/1. Die nommers volg mekaar ook nie noodwendig op nie, nommer 73 kan in ‘n ander blok ver van nommer 72 of 74 wees.
Dit gee ‘n gesoekery af, maar 2Gis, die toep, help mens mooi daarmee, wys tot hoe die ingang lyk en waar hy is.
Die voorkant van Da Vinci is ook mooier as die res van die gebou.
Olive, die naam in groen en oranje, is ‘n interessante soort plek waar mens kos kan koop. Jy stap in, kry soos in ‘n koshuis ‘n skinkbord, vat servet en eetgerei en stap verby al die toonbanke waar jy kos kies en dit vir jou ingeskep word. Jy kan nie stop as jy dink sy skep te veel in nie, dit word geweeg.
Jy moet vat wat jy kry. Die vrugtetee is klaar in glase, jy maak met warm water vol nadat jy betaal het. Dan gaan kies jy ‘n sitplek en los jou skinkbord as jy klaar is. Dit word verwyder. Ons drink nogal gereeld daar tee, veral omdat die kos spotgoedkoop is.
Hier is nog voorbeelde van winkels met eie ingange onder hierdie lang blok woonstelle. Daar is ‘n apteek, skoonheidsalon, haarsalon, plek waar jy goed vir jou motor kan koop (Abto ons was nog nie daar in nie) en ek weet nie wat alles nie.
Ek hou gewoonlik verby, na Muken toe. Dus was ek was nog nie in een van die deure in nie. Nou is ek sommer jammer daaroor.
Ek ken sowaar nie die waarde van die goed wat dalk in my sone beskikbaar sal wees nie.
Nie dat ek wil uitgaan nie.
Na die derde deurgang is nog winkeltjies. Ek weet nie wat die eerste een verkoop nie, was nog nie daarin nie.
Muken is ‘n groot winkel waarbinne verskeie stalletjie-agtige winkels is. Jy koop by die een wegneemkos, by die ander een naellak en skoonmaakgoed en toiletpapier, by ‘n ander een sjokolade en tee en so aan. Die stalletjies verkoop ook drank, vleis, eiers, melk en koeldrank, jy moet by elkeen gaan stilstaan en vir jou aankope betaal.
Langs Muken is ‘n oulike, goedkoop plek, Pizza Blue, waar ons Sondae gaan pizza en slaai eet het in die winter. Nou is die restaurante gesluit. De nuwe winkelsentrum is langs Pizza Blue.
Dit is dan hoe die wêreld om my lyk, die een wat die volgende maand dalk die enigste plek gaan wees waar ek mag stap, elke tweede dag en met ‘n doel,- om kos of medisyne te koop en dan in my woonstel terug te gaan.
Ons het een voordeel, ons woonstel se stoepie is nie toegebou nie. In die winter was dit aaklig, gevries en koud, ons kon nie waag om daar te staan nie. Nou kan ons weer op die stoepie braai, soos wat ek al vertel het.
Sien, die lewe gaan nie so erg wees nie. Al voel dit so. Ek het nou vir vyf maande lank nie baie uitgegaan nie omdat dit baie, baie koud was en die aarde so geys was dat mens die hele tyd moet keer om te val. Ek is seker gewoond daaraan om nie uit te gaan nie? Ek weet nie, daai was nie my eie keuse nie, ek het so na die somer uitgesien.
Nou is dit lente, vaal, maar lente. En ek word tot die woonstel beperk. Omdat ‘n Sjinees veroorsaak het dat ‘n virus die hele aarde se gemeenskappe lam lê, gesondheidstelsels ooreis en mense laat sterf omdat hulle die virus nie kon beveg nie.
In Suid-Afrika is my eerste kleinkind aan seun se kant in isolasie gebore, kan sy ouma en tannies wat daar is, nie eens gaan kyk nie. Hierdie ouma sou daar wees, maar die virus het haar gekeer omdat hy reeds tussen my en Suid-Afrika was, al het nie een van die twee lande toe al gevalle gehad nie.
Ek vermoed ons gaan nie sukkel om proviand te kry nie, die winkels was vanoggend nog mooi vol. Die probleem gaan wees om buite te wil wees, maar nie te gaan nie.
Daar is twee belangrike redes daarvoor.
Eerstens, moet ek in ‘n hysbak afgaan wat baie klein is. Soos ek verstaan, hang die mikroskopiese spoegmolekules in sulke plekkies rond. As die virus in een is, wag hy vir my. Dus dra ek ‘n masker in die hysbak, maar o my genade, ek sukkel om met die ding asem te haal. Voel of ek gaan versmoor.
Tweedens verstaan die mense om ons nie sosiale afstand nie. Hulle bondel nog om banke en restaurante en winkels rond. Omdat hulle beperk word om in te gaan. Ek verstaan die logika nie. Is dit nie net so erg om buite saamgebondel te wees nie?
Vir die mense wat wonder, Ust het darem ‘n paar mooi geboue ook.
Soos hierdie bank wat oorkant een van die hoeke van Central Park staan. ‘n Bank. Moet sê, dit is soort van die mooiste wat hier is. Dit vergelyk glad nie met die geboue in die twee hoofstede nie. Daar is pragtige geboue.
Soos ek sê, Ust is in die Russies-beheerde tyd gebou. Toe funksionaliteit die wagwoord was. Seker onkostes ook. Een plan vir ‘n hele klomp woonstelle, dit is mos beslis koste-effektief.
Hoop dit het insig gegee in die lewe in Ust’-Kamenogorsk, alle Öskemen.
Sommige mense gaan ingehok voel, ek voel anders.
In my huis kan ek vry asem haal, sonder om elkeen wat verbykom, selfs my vriendinne, te wantrou.
Hier voel ek soos daardie kinderspeletjie, wat was sy naam nou weer? Wolf-wolf hoe laat is dit?
Hier kan ek die deur toemaak en sluit. Die virus buite los, iets soos: 1-2-3 blok myself.
Hooffoto: Ek het vandag so buite gaan stap. My tuisgemaakte masker onderaan en as mense sonder maskers van voor af kom, het ek hierdie kontrêpsie oor my masker getrek. Dit word in die winter gedra om mens se gesig teen die weer te beskerm. Ek het gekoop, maar min gedra, dit is ‘n ding om hom af te haal as ons in ‘n winkel ingaan en jasse uittrek. Die kontrêpsie moes keer dat mense nie in my gesig hoes nie, want dit het nou te veel keer gebeur dat iemand onverwags en oopmond hoes net wanneer ek naby kom. Dit was warm en ek het gevoel of ek versmoor. Snaaks, nê? Dit voel nie in die winter soos versmoor nie … verbeelding? Het jy gesien? Geen jas, gewone langmou T-hemp. Uiteindelik is die baie dik jasse nie meer nodig nie. Dit is lente …
Dankie vir die toer, dit was interessant om te sien waar jy woon.
LikeLike
Dankie Anne, so anders as waaraan mens gewoond is. In Suid-Afrika sal my omgewing onveilig wees. Middestad van ‘n stad.
LikeLike
Dit was werklik baie interessant. Die reëls van julle inperking ook. 💖
LikeLike
Dankie Gedigte, ek vind dit baie vreemd, maar die mense is gehoorsaam, hoor. Ek dink nie mens vat hier kanse nie, inteendeel, ek wil net in my huis wees om my hoofstukke klaar te maak.
LikeLike