Winkels moet al meer doen om te keer dat produkte sommer net weggedra word. Oral in die wêreld.
Hier in Qazaqstan vertrou die mense mekaar. Seker maar omdat produkte tradisioneel agter toonbanke uitgestal is. En kopers moet wys en vra om aan te gee en te betaal.
Op die mark word produkte in houers uitgestal. En niemand vat sonder om te betaal. Anders sou die produkte mos ook agter toonbanke uitgestal gewees het?
Met die koms van al meer winkels in Ust’-Kamenogorsk (Öskemen) word die Westerse manier al meer in winkels gevolg. Met die ronde skyfies wat in klere ingedruk word om te verhoed dat klere uitgedra word.
Sonder dat daar eers betaal is.
Ek en manlief vlieg nou baie, ons het ses vliegtuie nodig om ons heen en weer te neem as ons huis toe gaan. En dit beteken dat ons ses keer deur skandeerders moet stap.
Ses keer wat manlief die alarms luidkeels laat afgaan. Omdat hy ‘n titaniumknieg het. Daarom moet mens begrip vir my hê as ek my wip as ek by winkel uitstap en die alarm gaan af.
Begrip omdat ek alles in my vermoë doen dat die alarms nie ook vir my afgaan nie. Daarvan kry ons genoeg!
Ek dra styfpassende klere, mens moet kan sien niks is aan my lyf versteek nie. Geen ritssluiters, ysterknope of enige iets anders as materiaal, plasties of rubber nie.
Ek haal horlosie af, oorbelle en al. Want die wagte het al gesê ek moenie oorbelle afhaal nie. Dan skreeu die masjien en sy staan nader. Dan wys ek nee, ek haal oorbelle af, sit in bakkie en stap weer deur. Met ‘n sien-ek-het-jou-mos-gesê-ek-moet-dit-afhaal uitdrukking op my gesig.
En ‘n bevoel iemand anders, hierdie een is nie te bevoel nie.
Ek verpes dit as mense aan my vat. Soos wat sekuriteitswagte doen. Hulle hande in biddende posisie wat tussen mens se boobs ingly.
Enige iemand anders wat dit sou waag, sou een wilde klap kry. Ongeag.
Ek dra styfpassende klere, ek sal baie goed moet wees as ek iets wil steel en wegsteek sonder dat dit met die blote oog gesien kan word. Maar nee, die vrouens moet doen wat hulle geleer is om te doen.
En ek moet staan en my impuls met alles in my keer. Veral as hulle hande oor my onderlyf wil dwaal.
Kan jy jou voorstel ek geen een op ‘n lughawe ‘n taai klap? Waar ons mekaar nie verstaan nie?
Ek is ‘n Christen. En steel is nie deel van die pakket nie. Ook nie enige vorm van terreur nie. Ek wil net groot asseblief in vrede deurstap.
Sommige mense sê dit is hulle werk. Ja, mag wees. Vang asseblief die regte boewe.
So stap ek November laas jaar by Sportmaster in en niks gaan af nie. Toe ek uitstap, skree die masjien: Dief, dief!
Die vrou kom aangestap, vra of sy deur my handsak kan gaan. En ek moet alles uitlig en wys. Kry niks want daar is niks en ek stap stert-in-die-lug daar weg.
By die volgende winkel in en hit. Geen probleem. By die volgende een in, geen probleem. Toe ek uitstap skree die masjien: dief! Dief!
By hierdie winkel is die assistente al om jou die hele tyd. Dus wys hulle ek kan gaan. En ek doen.
Maar ek is kwaad!
My handsak het dit nog nooit gedoen nie. So wat is vandag anders?
Ek pak hom tuis vies versigtig uit. Al wat anders is, is my buisie handeroom wat ek die oggend ingesit het omdat die ander een leeg was.
Bevoel die buisie, alles voel reg. Maar die plakker aan die kant voel dikker as wat papier gewoonlik is.
Trek dit af en daar sit die sondebok (hooffoto).
Die plat draadjies klik as goed gesteel word.
Ek het die handeroom by Metro gekoop. Dit was in ‘n boksie. Hulle sekuriteitskoonmaker het dus nie die een onskadelik gemaak nie.
Die winkels waarin ek was, verkoop nie eens die handeroom nie, maar hulle skanderders roep my ‘n dief!
Die ding is verwyder en van toe af maak ek seker dat alles van my handeroom en goed in my handsak afgehaal word. Voor ‘n masjien by ‘n winkel weer dief skree.
So koop ek verlede week by Sportmaster vir my twee Merril langbroeke. Die een is nommer te groot, maar mooi en ek besluit om hom wel te koop en kleiner te maak.
Ek kan mos.
Al haat ek lostorring.
En wat vind ek in die een naat?
Daardie selfde skandeerpes. Netjies in ‘n linnesakkie toegewerk.
Met die opdrag om af te sny!
En ek is weer vies. Ek sny nooit my klere se etikette af nie. Al is party van die goed so lank soos my arm. Omdat dit hier in beide Russies en Qazaq beskryf is.
En sowaar, toe ek my ander broek gaan haal, is dieselfde versteekte ding in haar sy vasgewerk.
Nou sny ek etikette af. Want dit is nie snaaks om voorgekeer te word as ek uit ‘n winkel stap nie. En dié goedjies sou vir vele sulke oomblikke gesorg het.
As ek nie dié broek wou kleiner maak nie.