Gepubliseer in Reisjoernaal

So, wat dink die Qazaqs van ons koeksisters?

Manlief is vanoggend met die bak koeksisters waarvan ek gister vertel het werk toe. En kom al glimlaggend vanmiddag vir middagete tuis. Met die leë bak in die hand.

Hulle het baie daarvan gehou, vertel hy. Die mans en die dames. En dit het hom beïndruk, want nie almal het dankie gesê toe hy vir hulle biltong van Suid-Afrika af gebring het nie.

En ek was toe nogal omgekrap. Want dié biltong het so bietjie onmin en baie lag tussen ons twee veroorsaak.

Wat die onmin betref, wou hy vir elkeen ‘n 250 g pakkie saambring. Toe kry ek dit darem na 200 g afgestry. Wat ‘n groot verskil in die gewig van sy tas gemaak het. ‘n Hele kilogram.

Nie dat ek suinig is nie, hy het net soveel goed gehad wat hy wou saambring.

Die potjie vir potjiekos (ek jok nie), ‘n biltongkerwer al het hy ‘n baie skerp mes. En nog swaar goed moes in sy tas inpas.

Wat die lag betref, die biltong het sy tas oorgewig gemaak.

Het so lekker plat ingepas, maar was ‘n hele 5 kg swaar.

Het ons gedink. Want die slagter het vir hom 30 in plaas van 20 pakkies ingepak. En dit het ons eers hier besef. Toe ons die werk s’n uithaal en daar nog steeds baie pakkies oor was.

My tas was te lig, al was sy so opgestop dat sy swanger gelyk het. Syne was soos hy, dink dit is lig, maar is toe eintlik baie swaar.

Ons het geweet die tasse is te swaar, manlief sou vir oorgewig inbetaal.

Toe nie, bokant 32kg mag ‘n tas nie gaan nie. En dit is te verstane, iemand moes daardie swaar tas optel en laai. Mens moet daardie mense in ag neem. Dus moes die gewig tussen ons tasse skuif.

Die vrou het vere gevoel vir die biltong wat in die tasse was. Ek dink hulle het al moed opgegee met die Afrikaanse mans wat land uit gaan.

Sy het net seker gemaak dat ons daar by die lughawe die gewig verskuif.

En toe is daar mense wat nie eens vir him dankie sê of sê hoe dit geproe het nie.

Ek was vies, want dit het nog ‘n arm en ‘n been ook gekos. Dink net bietjie, dit was 6 kg biltong. Op hulle versoek gebring.

Omdat hulle wou weet hoe proe die biltong waaroor die twee Suid-Afrikaanse mans in die kantoor so liries raak.

Soos ek gesê het, ek was dankbaar dat hulle darem van die koeksisters gehou het, want daar is ek by die moeite betrek.

O my jitte, en toe lag ons vir al die kommentaar wat manlief oorvertel.

Almal was beïndruk met die koeksisters en het hulle vingers afgelek.

Die een wat laas nie dankie gesê het nie, het na een hap gehhhhmmmm-hhmmm. I like sweet things!

Wat die Qazaqs die meeste getref het, was dat dit crispy buite is, met die stroop binne-in. Ons was ook beïndruk met ons nuutste probeerslag.

Dit was nie buite taai nie, dus wou hulle weet hoe ons die stroop binne gekry het. So eweredig versprei.

Manlief het aanvanklik gesê dat dit ons geheim is, maar hulle het bly raai en vra.

Raai wat raai die Qazaqs?

Dat ons dit met ‘n inspuitingnaald ingespuit het!

Hy het toe maar vertel dat die koeksister baie warm uit die olie moet kom en baie vinnig in baie koue stroop ingedruk moet word. Om die stroop in te suig.

Ruslan, die tolk wat gevra het dat ons die koeksisters bak, het seker gemaak dat hy drie kry. ‘n Paar van die mense was nie vandag op kantoor nie, hulle s’n kon nie verlore gaan nie!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “So, wat dink die Qazaqs van ons koeksisters?

  1. Ek sal my geboortereg verkoop vir ‘n lekker koeksister, maar het nog nooit probeer bak nie. Jasmyn verkoop sulke lekkeres, cripspy buite en vol stroop, ‘n pakkie hou dit nie tot by die huis nie

    Like

  2. O wee….nou gaan jy op gereelde basis moet koeksisters bak!! Ek is bly dit het beter afgegaan as die biltong!

    Like

      1. Ons het die Chinese kontrakwerkers en ook van die Indiese mense laat proe daaraan..die algemene opvatting is dat dit veels te soet is!! Ons SA’ners is gebore soettande….

        Like

        1. Die Qazaks hou baie daarvan. Hulle is koeketers, maak volgens manlief die lekkerste koeke. My vriendin hier sê sy weier om weer vir haar man te bak, hy is verslaaf aan die koeke hier.

          Maar ek gaan nie die bakster word nie. Ek is juffrou, leer hulle liewer om te maak … 🙈

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.