Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

As ouma iets nie so moois vir ‘n ouma by kleinkind leer …

Kyk, daar is mos goed wat ek nie meer doen of sê nie. Want die sponsie-kleinkinders van my suig op, en spoeg op ongeleë plekke uit.

Ek sal my byvoorbeeld doodskaam as hulle vir ‘n onderwyser moet sê dat hulle ‘n baie lelike woord by my geleer het. Oumas moenie dat kleinkinders deur hulle in die moeilikheid kom nie, maar oumas wil ook nie graag deur hulle oordra van wat hulle by haar geleer het, in die moeilikheid kom nie.

So kom ek die afgelope twee dae agter die bladsy het omgeblaai, ek het Sondag iets by kleinkind geleer. En dit moet ek vinnig afleer. Of is dit dalk juis iets goeds wat ek moet behou?

Hy was vir my kwaad. Hoe moes ek weet hy het kwaai hier aangekom? So sit ek by my rekenaar en tik, toe hy inkom, twee handjies in die lug hou en wys hy het ‘n key holder (kubus) en ‘n suigstokkie. Ek dog ek speel saam en vra of ek maar die keyholder kan kry. En o my aarde, die vraag het veroorsaak dat die aarde vergaan. Hy vlieg ontsteld om, reguit na pappa en mamma wat my nie kon sien nie en kla dat ek sy keyholder en sy suigstokkie wil vat. En voor ek my kan keer, antwoord ek van die stoep af dat hy jok, ek het gevra of ek die keyholder kan kry. Ek wou dit nie vat nie, het gespeel soos ons twee altyd speel.

Kleinseun bly egter die hele dag verder vir my kwaad. Ouma mag nie eens in sy rigting kyk nie, dan kry ek ‘n kwaai kyk en snorkblaas hy ‘n geluid amper soos ‘n woef wat waarsku dat mens weg moet bly. Om die vrede te bewaar, maak ek kos en gesels ek heerlik met pappa en mamma, waarvoor ek nooit kans kry nie. Kleinkind eis my gewoonlik op as sy maatjie wat saam moet speel en verf en TV kyk. Ons twee is altyd soos boude, waar die een is, is die ander. Nie vandag nie.

Gewoonlik vra hy vir my wat ek gekoop het. En ek het toevallig die oulikste akrielkryte gekoop waarmee ons twee kan verf. Nie Sondag nie. Ek sê iewers dat hy op die tafel moet kyk, ek het vir hom kryte gekoop. En hy antwoord dat hy nie kryte soek nie, hy het sy eie!

Gewoonlik speel ek en hy as hulle ry. Ons hardloop na die bure se garage deur en wag daar dat pappa en mamma sê hulle is reg. Dan hardloop ons twee oor die lawa kar toe dat hy veilig in die kar gesit kan word. Aangesien hy kwaad is, staan ek reeds buite toe hy uitkom. Tussen die voordeur en die ander garagedeur. Pappa sê van lawa en ek speel dat ek gaan wen. Gewoonlik sal hy hardloop om my te wen. Nie Sondag nie, hy is ontsteld – ek moet saam by die wegspringplek gaan staan. Ek maak toe so, maar sê ook vir hom dat ek nie so lelik met hom praat nie, en dat hy dan nie so lelik met my kan praat nie.

So hardloop ek toe maar tot by die deur, hy wen lankal vir ouma. Om daar verjaag te word, ek moet teruggaan na die wegspringplek!

Kyk! ek is van nature nie die soort mens wat die hele tyd verjaag kan word sonder om my boude iewers te begin wip nie. Toe gesels ek maar met my woef terwyl ek terugstap huis toe. “Kom nou, jou stoute ding, wie het gesê jy mag uitkom? Ai pa, ons sal die ou silwer lyfie mos maklik in die nag miskyk en dan kan hy verdwaal of wegraak.” Tel die een mens wat my vir alles vergewe op en dra hom in die huis in. Voel hoe die liefde van my woef oor my hart spoel. Speel met sy haartjies tot my gemoed so vlindersag voel soos wat sy haartjies onder my vingers is.

Toe ek terugstap na waar die kinders gereed maak om te ry, waag ek dit nie om soos gewoonlik na sy venster te gaan nie. Ek bly by pappa se venster staan, saam met oupa. Ons ander speletjie is om te last touch. Net ekke, hy doen nie. Maar soms moet ek honderd keer touch. En aangesien die man nou tot 100 kan tel, mag ek nie ‘n getal oorslaan nie. Ook nie in 10e tel nie. Dit het al ontevredenheid veroorsaak.

Pappa weet nie ek is versigtig nie, sê ouma jy moet gaan last touch – en ek stap skoorvoetend om. Nie lus om weer verjaag te word nie, nie lus om die rede vir die mannetjie se ongelukkigheid te wees nie. Maar, dit gaan goed, hy het gewag vir die last touch ritueel. En toe is daar wragtig weer rede vir ongelukkigheid. Eers moet ek 10 keer touch, toe elf. Met die opdrag dat ek agter moet begin. Ek neem aan dit is van 11 na 1, maar die man is ontevrede. Hy bedoel van 1-11! So tel ek toe maar van 1-11 en is hy “happy” soos hy sal sê.

Ouma is minder “happy” ek het geen idee waarom ek nie uit sy dogbox mag kom nie, maar ook nie waarom ek in die eerste plek daar is nie.

Maandae en Woensdae weet ons instrukteur by Planet Fitness al – as kleinseun opkom boontoe los ek alles waarmee ek besig is om eers die lyfie te groet. Hy kom gewoonlik in my arms ingevlieg en dan soentjie ons en dan gaan hy na sy “gim” terwyl pappa en mamma oefen. Dit is so ‘n tradisie dat hy een keer erg gehuil het toe hy my sien en nie kon groet nie! Hulle was in die toilet, ek het bietjie gewag en toe teruggegaan, anders dink manlief dat ek jippo! Ek het raas gekry, jy wil net gim, dit is al wat jy wil doen …

Maandagaand los ek weer soos gewoonlik alles en stap na hulle toe toe hulle aankom. Hy gee my net een kyk en vlieg agter sy mamma se rok in. En ek weet sommer dat hy steeds de hoenders in is. Toe groet ek maar mamma oor sy kop en stap weg … om in die vraende oë van die instrukteur vas te kyk. Wat nou? Ek sê net ek weet nie en oefen harder – om vandag met baie seer boude en binnebene wakker te word!

Die kind gaan my lyk my nie vergewe vir die vraag nie.

Ai tog, ek wou eintlik nie skryf oor wat bygedra het om by kleinseun te leer nie, maar dit is so bietjie nodig om die res te verstaan.

Ek kom die week agter dat ek so ‘n diep grom maak as ek met iets sukkel wat moet werk. Soos die verdomde Word wat nou besluit het om my taal in die kommentaar blokkies te redigeer – in Hollands! Elke keer as ek moet teruggaan om reg te maak, bou die grom in my op!

Ek grom ook as ek besig is en manlief kom vra vrae. Gewoonlik sal ek my vreeslik vererg, dan sê hy sy sê en is ek nog vieser. Nou grom ek – en dit werk, die man verstaan sonder woorde dat ek besig is om te tik. Dat ek nie nou kan los en antwoord nie …

Ek vermoed hy leer om die emosie so uit te druk in sy tekenprente! Dalk moet ek meer kyk om my eie gevoelens weer te gee as hy my in die dog box sit en ek nie daar mag uitkom nie?

Vir nou grom ek lekker! Vir ‘n telebemarker wat my bel as ek besig is, vir Word wat my Hollands maak, vir Word wat my artikel verloor het toe ek gereed was om terug te stuur omdat hulle 10 uur lank van lyn af was. Vir die vind van die dele wat verander is – gelukkig het ek ‘n PDF gemaak en kon ek dit gebruik om voorgestelde veranderinge aan te bring. Om een of ander rede wou die PDF nie na Word omskakel nie – nog ‘n woeste grom …

Terwyl ek ‘n foto vir hierdie skrywe soek, lag ek vir myself.

Sommige van die woewe wat waarskuwend knor is allesbehalwe gevaarlik – soos kleinkind.

My grom kan egter maklik met die grom van die woeste kwaai hond in die foto meeding …

Ek wens. Dit is ook sag …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “As ouma iets nie so moois vir ‘n ouma by kleinkind leer …

  1. Met ons eerste kleinkinders het ons gou geleer dat daar dae was wanneer hulle net by my wou wees; ander dae was dit met oupa en het gemaak asof ek nie daar was nie. Ek moes ‘grom’ opsoek: dit is wat ek gedink het … wat ‘n goeie woord!

    Liked by 1 person

  2. Ja nee, grom is ook maar nie die beste om mense om jou te laat weet jy is nie nou beskikbaar nie of dat iets nie reg is nie. My oudste kleinkind sal soggens vroeg nie toelaat om haar te help nie. Net Pappa kan help. Ek vererg my heel vir haar as sy so is. Dan soos handomkeer is sy die liewe gewillige kind wat wil hê ouma moet haar help. Dit maak nie net my wiele pap nie maar Pappa s’n ook. As Ma tuis is laat sy gladnie toe dat mens regtig naby kom om te help nie. Sug, eks bly ek gaan haar nie eendag as vrou kry nie. Moodswings se Moses.

    Liked by 2 people

  3. Dit lyk my hulle is almal so op ‘n stadium en gaan seker deur ‘fases’ – ek het nie so iets met my eie kinders beleef toe hulle so klein was nie – maar hierdie 4 jarige een van ons is af en toe so – slegs wanneer mamma en pappa moet ry – dan moet ons nie te naby kom om te groet nie, maar sodra sy in haar stoeltjie sit, dan is dit doodveilig om te groet en sal sy jou byna pap wil druk ook. ha-ha die mengelmoes van gene seker.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.