Gepubliseer in Joernaal

My eerste PhD dien in …

Drie jaar gelede het ek aangebied om te help om studieleiding te doen om die nodige ervaring op te doen.

Teen daardie tyd was ek al kritiese leser vir vele studente wat my gekontak het om hulle te help omdat hulle nie verstaan nie. Sukkel. En nie weet waarheen nie. M’s en PhDs. Hulle het goed deurgekom, my selfs onder bedankings in hulle PhD’s genoem. En toe besluit ek om die bul by die horings te pak – om self studieleier te wees.

Dit is deel van dosente se werk – om studieleiding te doen. Ek is nie ‘n dosent nie. Dus is dit nie deel van my werk nie. Daarom is ek as eksterne studieleier aangestel, medestudieleier.

Die hoofstudieleier kontak my toe in die selfde jaar. Hy tree af, die student is nou my verantwoordelikheid – ek is nou die alleenstudieleier. Ek was geskok, dit was onverwags. En toe staan ek alleen – met ‘n PhD was skaars begin het. Ons het so pas etiese klaring gekry.

Wel, ek het so pas kennis gegee dat hy gaan indien, dat ek soveel gelei het as wat ek kon. En dat hy gereed is om getoets te word.

Daar heers opgewondenheid in my.

Dit is amper gereed vir die taalversorger. Dan word dit gedruk, ingestuur en kom die wag vir uitslae – wat so ses weke sal duur. Ek glo dat hy dit gaan maak, dan die rooi toga syne is om gedra te word.

En iewers ontdek ek die groter ding wat op my wag … ek wat nie meer voor mense wil praat nie!

Weet nie of hierdie universiteit ook so werk nie – maar my studieleier, professor Duan van der Westhuizen (oorlede) moes daar by die podium staan en my opsomming lees. Gaan dit van my verwag word?

En dan die ander saak – ek gaan die rooi toga weer kan dra. Ek is nou spyt en het gehuur en nie gekoop nie, die toga het intussen verander. dit is so mooi soos myne nie.

My PhD toga, petloos gedra

So kontak ek die verhuurders, ek wil graag die ou toga aankoop. Myne was een van die mooistes wat daar is …Maar nee, daar is nie meer nie – dit is mos 13 jaar gelede. Hulle kan vir my een maak – R8000! Soveel gaan ek nie vir die ou toga betaal nie. Buitendien, wat gaan ek daarmee maak op die ou einde? Al is daardie swart geborduurde deel vir my ontsaglik mooi.

Dan huur ek maar die nuwe toga …

Nuwe PhD toga met pet gedra

Die grootste verskil is dat die hele toga nou rooi is, die swart deel is nie meer daar nie. Ek was verras toe daar swart in die toga was, dat dit nie oorwegend rooi was nie. O ja, en ons het nie pette gedra nie – dit was nogal baie lekker! Maar, my toga was soveel mooier as my studieleier s’n. Toe het hulle iets gedra was amper soos ‘n japon gelyk het. Laat ek soek vir ‘n foto. Ag nee, ek kry nie. Maar dit het ‘n kappue effek gehad …

Nou is die hele jas rooi, met die oranje so bo-oor gedrapeer. Voel vir my of die kleure tee. mekaar skop, ook die swart pet in plaas van rooi.

O ja, en dan gaan ek mos ewe deftig met my rooi toga deur die saal stap tot op die verhoog … om my plek daar in te neem … Dit stuur ‘n opgewondenheid deur my, ‘n heimweë, ‘n bekendheid.

By Welkom High het die onderwysers elke liewe Maandag met saalopening so deur die saal na hulle sitplekke gestap. Met die regte toga en als – wat jou akademiese kwalifikases adverteer. Mensig, dit was lekker, veral omdat ek drie bande gedra het, anders as al die onder onderwysers, die hoof inkluis – omdat ek toe reeds my Meestersgraad gehad het.

En nou dra ek die rooi toga! Weer.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “My eerste PhD dien in …

Lewer kommentaar op Aletta - nowathome Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.