Gepubliseer in kleinkinders

Gideonsbende-kleinkind drink water soos my woefkinders

Ek pas die afgelope paar maande my kleinseun aan seun se kant twee dae per week op. Daarom skryf ek al hoe minder, want ek is ook besig met my akademiese artikels.

Ek moet egter begin om sy snaaksighede neer te pen. Anders gaan dit verlore raak.

Nou die dag kuier die mannetjie weer by my. Ek het sy skulpie swembad mooi vol gemaak dat hy kan swem. Hy het so bietjie geswem en gespeel. Toe speel ons twee op die gras aan die voorkant van die huis.

Ek sit nog so en kyk hoe my drie Schauzers by die swemdammetjie gaan staan om water daaruit te drink. Toe hy na hulle toe stap en tussen twee van hulle op sy hurkies gaan staan, handjies op die rand, koppie oor die watervlak.

En toe ek weer sien, buk hy vorentoe om soos die woefkinders van my water te drink.

Ek het amper ‘n floute gekry. As hy vooroor val, kan hy net sowel skrik en dan kan vreeslike goed gebeur.

Hy het nie. En het selfs gesorg dat sy neusie nie in die water kom nie.

En dit het my aan ‘n groot man uit die Bybel laat dink.

Gideon, wat sy manne moes skei op grond van die manier waarop hulle water by die rivier gedrink het.

Toe gaan soek ek die gedeelte in die Bybel. Rigters 7 en kry ‘n verrassing. Hoe verstaan ek dit al die jare? Want die keuse van die manne lyk nou baie verkeerd.

In vers 5 staan die volgende:

Een groep sou water oplek soos ‘n hond. En die ander groep sou kniel om die water te drink. Die groep wat gekies word, verwar my nou so half. Want in die volgende vers staan dat die een groep (dus wat water soos hond drink) met die hande geskep het en die ander groep gekniel het om te drink.

Vers 7 kan mos nie reg wees nie? Honde kan nie water met hande skep om dit dan te drink nie? Dit moet dan mos die groep wees wat gelê het om soos hond te drink?

Toe ek ‘n prentjie soek om by hierdie stuk te pas, verwoord die prentjie my gedagtes. Diegene wat gekniel het, het water in hande opgeskep en gedrink. Diegene wat gelê het, het water soos honde opgelek (vers 5).

Ek gaan nou nie daarop ingaan nie, ek is nie teoloog nie. Wat ek wel weet, is dat kleinkind soos die honde by die water gaan staan het. En dit sonder handjies opgelek het, net soos die honde. En dit is waarom vers 7 vir my nou baie verkeerd voel.

Hy het net soos die honde langs die water gestaan, vooroor gebuig, geen handjies gebruik nie en die water uit die swembadjie opgelek.

Soos ‘n hond.

Verstaan jy nou waarom vers 7 vir my baie verkeerd voel?

Kleinseun weet nie van hierdie Bybelvers nie, tog het hy die water nie met sy hande opgeskep nie, hy het soos die honde gestaan en die water opgelek …

Ek gaan saam met vers 5 gaan – diegene wat soos honde opgelek het, is gekies om te gaan veg. En kleinseun het presies so gemaak.

Dus is hy deel van ons Gideonsbende – eeue nadat Gideon sy manskappe gekies het …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.