Gepubliseer in Akademies,Tegnologie

Onderwysers se persepsies van Facebook en Gesels.net as e-leeromgewings: implikasies vir nood-afstandonderwys

Hierdie artikel het so pas in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn.

In hierdie artikel word onderwysers se persepsies van Gesels.net (Arend) en Facebook gemeet om ‘n e-leeromgewing vir die 50 onderwysers van ‘n sekondêre skool in Gauteng voor te stel. Die onderwysers se persepsies is voor nood-afstandonderwys (of die oorkskaling na tegnologie-gesteunde onderwys tydens die pandemie) gemeet. Dus ook voordat Facebook besluit het om WhatsApp-gebruikers te dwing om hulle persoonlike inligting met hom te deel – of hulle nou Facebook gebruik of nie. Ek het Gesels.net self ontwikkel – dus is ek opgewonde oor die resultate.

Die artikel het so pas aanlyn verskyn …

Opsomming:

Gesels.net1 is ’n e-leeromgewing (eLO) wat ontwerp is om die professionele ontwikkeling van Suid-Afrikaanse onderwysers te ondersteun. Die gebruik van nuwe tegnologie word egter deur persepsies beïnvloed. Aangesien baie onderwysers Facebook gebruik, het hierdie gelyktydiggeneste-gemengdemetodes-navorsing ten doel gehad om die onderwyspersoneel van ’n skool in Gauteng se persepsies van Gesels.net en Facebook te meet en vergelyk om ’n geskikte eLO voor te stel. Persepsies van Facebook is voor die aanvang van ’n werkswinkel gemeet en persepsies van Gesels.net daarna. Hierdie kwantitatiewe data is statisties verwerk om die persepsies van die twee eLO’s te meet en te vergelyk. Aanhalings uit die gedeeltelik gestruktureerde onderhoude wat tydens die werkswinkel op Gesels.net gevoer is, word gebruik om die bevindinge van die kwantitatiewe navorsing te ondersteun of teen te staan. Van die 50 onderwysers wat die werkswinkel bygewoon het, het 48 (96%) die vraelys en 40 (80%) die onderhoude voltooi. Drie faktore is geïdentifiseer en as die waargenome dimensies van die eLO’s beskou, naamlik bruikbaarheid, werksverrigtingverwagting en insetverwagting. Persepsies van die bruikbaarheid van Gesels.net en die verwagting dat Gesels.net hulle werksverrigting kon bevorder, het hoër as dié van Facebook gemeet. Die verskil in persepsies van hierdie twee dimensies is op ’n 95%-vertrouensvlak as betekenisvol bevind. Hulle het Gesels.net beskou as moeiliker om te gebruik, maar die verskil in persepsies was nie betekenisvol nie. Daarom kon aanbeveel word dat die spesifieke groep onderwysers Gesels.net gebruik om ’n e-leergemeenskap te vestig. Daar is verder aanbeveel dat die onderwysers in die gebruik van hierdie eLO opgelei word, omdat navorsing toon dat insetverwagting die opneem en gebruik van ’n nuwe tegnologie beïnvloed. Aangesien die onderwysers Gesels.net bo tradisionele werkswinkels verkies het, kan die opleiding in hierdie eLO geskied.

***

Klik hier om die volledige artikel in Afrikaans te lees.

Klik hier om die langer opsomming in Engels te lees.

***

Ek kan nie regtig vertel hoe dit voel as ek die e-pos kry dat my artikel gepubliseer is nie. Dit is dalk iets tussen verligting en blydskap en tevredenheid en dankbaarheid. Soos my mentor elke keer te vertelle gehad het, glo ek ook vas. Dit is net genade.

Dit is ‘n reis, vanaf die idee vir die artikel, na die navorsing en die skryfproses. Ek werk maande daaraan en dink nooit dit is goed genoeg om ingestuur te word nie. Ek druk myself, verander al minder en minder en op ‘n dag besluit ek dat ek daaraan vlerke gaan gee, maak ek seker dat die bronnelys perfek is (en mis steeds iets) en tik ek die e-pos vir die redakteur.

En dan begin die proses waarna ek nie noodwendig uitsien nie. Want sien, hier op my blog is ek klaar as ek klaar is. Die redakteur sien iets raak, stuur terug en ek verander. En al probeer ek hoe hard, daar is altyd iets wat sy raaksien. Ek gaan nog ‘n lys van punte teen my muur vasplak om die hele tyd daarna te kyk voor ek instuur. Dan laat weet hy of sy sy dat die artikel op pad na die keurders is.

En kan ek weer ontspan … As mens dit ontspan an noem, want die spanning is daar en ek wag. My evalueerders het sover al my artikels goedgekeur, daarom vrees ek sowaar die dag wat die antwoord ag nee wat gaan wees. Hulle vra – soos ek as ek keur – vir veranderinge, want hulle lees deeglik en maak aanbevelings. Ek waardeer die insette, hulle is kenners in die veld.

Dan maak ek reg, verander waar nodig, want ek verstaan waar ek die leser misgeloop het. En as hulle tevrede is, gaan dit na die taalversorger.

Wanneer dit terugkom, voel ek soos iemand wat nie Afrikaans magtig is nie … tog waardeer ek die insette, dit voeg waarde tot my werk. sommige voorstelle word aanvaar, ander word nie. Veral wanneer dit by ‘n nuwe term kom wat ek vir die eerste keer in Afrikaans gebruik. Soos tegnologiese-en-pedagogiese-inhoudkennis.

Dan gaan dit na die span wat dit publiseer. Kry ek die e-pos dat dit op pad is, en nie lank daarna nie die een dat dit ontvang is. En as ek weer sien, kry ek die e-pos wat vra dat ek moet kyk na die bladuitleg, want ek moet ook tevrede wees.

En dan is dit uiteindelik klaar.

My lesers is nie noodwendig onderwysers nie, maar as jy is, en dit lees, sal ek  kommentaar waardeer …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Onderwysers se persepsies van Facebook en Gesels.net as e-leeromgewings: implikasies vir nood-afstandonderwys

  1. Ek het die artikel gelees( nou nie in detail al die stats nie!) En is beïndruk! Dien jy al joy stats self of gee jy dit deur aan n statistikus? Opvallend hoeveel van d navorsing jy self gedoen het. Al in 2012 Jy is sowaar ‘n wereldleier op d gebied. Gaan gee maar daardie lesings oorsee! En vertel Stellenbosch jy het dit in Afrikaans reggekry. Hulle moet hulle koppe laat lees.

    Liked by 1 person

    1. Ag Seegogga, baie dankie! Nee, ek het ‘n statistikus betaal om die statistiese verwerkings te doen – my werk was die res. Om die faktore te identifiseer en te verstaan wat die stats vir my vertel. Ek werk eintlik met sosiale netwerk analise, hierdie was die eerste keer wat ek die kwantitatiewe navorsingsveld deur middel van statistiese verwerking betree het. Was interessant, ek oorweeg om self te leer om die programme te gebruik. Het wel in statistiek onderskeiding op universiteit gekry en dit as vak aangebied. Hou daarvan.

      Like

  2. Dis beslis baie goed dat jy so n projek aangepak en deurgevoer het. Baie geluk met jou navorsing en program. Wens ek was nog n onderwyser wat met so n program kan werk. Met die begin van rekenaars in skool het ek ook altyd belanggestel in programme om aanlyn engels te verbeter in die ho” erskool.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.