Gepubliseer in Joernaal

Toe bad mens nie daarmee nie …

Manlief hou van die netagtige goedjies om homself mee te was. Daardie soort wat so saamgefrommel is om ‘n badsponsie te vorm. En so by die bad of stort opgehang kan word.

Ek nie, maar gebruik dit tog omdat dit beter as waslap is.

Toe sien ek nou die dag die mooiste wittes in ADK in Ust’-Kamenogorsk, ons tuisdorp. Sommiges het breë wit satyn om die randjies. Almal van ‘n blinkerige sjifon gemaak. Spierwit. Mens koop twee-twee.

Dit was nie by badgoed nie. Dit was op ‘n uitstalrakkie naby die ingang. Ek het dadelik besluit dat dit my badsponsie sou word. Al moes ek twee koop. Een kan maar in my tas bly vir wanneer ons reis.

Intussen bad ek lekker met my sponsie. Al is dit so effens glibberig as dit nat is. Manlief sê nee kyk, hy bly maar by die plastiekerige netagtiges, hierdie werk nie so lekker nie. Ek voel egter of ek in weelde bad.

Gister eet ons in restaurant in Almaty. Dit is die dag voor die skole vir die nuwe jaar oopmaak. En die dogtertjies loop met hulle skooldrag rond. Swart rokkies en wit hempies.

Almal se haartjies is alte fraai vasgemaak. Met my badsponsies.

Sommiges se twee hang aan die punte van dun vlegseltjies. Ander s’n sit teen hulle koppies, een groot wit bal aan elke kant van die kop, of soos groot balle hoër teen die koppies, of soos een groot ovaal aan bo-op die koppie waar twee van die balle teen mekaar sit.

Ons sit saam met ons Almaty-vriende en eet. En dit is te opmerklik om nie raak te sien nie.

In plaas daarvan om te sien en ignoreer, vra manlief vir my of dit nie my wasgoedjies is nie. Tot almal se vermaak moet ek bieg.

Ja, dit is. Manlief gaan aan oor hoe ongemaklik dit was. En ek voel soos ‘n skaap. Vriendin wil weet of ek nie kon sien daar is rekkies aan nie. Alle badsponsies het hakies aan, dus is dit nie ‘n manier om die sponsie en haarrekkie uit te ken nie. Dit was ook nie in die rakke by haargoed nie, dan sou ek mos geweet het.

Gemeet aan die grootte van die dogtertjies, vermoed ek dat die kleintjies wat vir die eerste keer skool toe gaan, hierdie rekkies dra. Die kinders gaan almal die Sondag voor die skole begin skool toe, ek is nie presies seker waarom nie. Dalk word die kleintjies so aan die groot kinders voorgestel?

Ons woon nou ses maande in Ust, waarvan die skole die eerste vier maande oop was. As dit algemene gebruik is, sou ek dit beslis al raakgesien het. Die rekkies is te opmerklik om nie raak te sien nie. En ek het hierdie opmerklike rekkies beslis nog nie in Ust gesien nie.

Gaan ek dit in my hare dra?

Ek twyfel. Dit is massief, selfs groter as manlief se pers sponsie. Ek bad te lekker daarmee. Buitendien, ek lyk nie naastenby so oulik soos daardie kleine dogtertjies met die massiewe haarversiersels nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Toe bad mens nie daarmee nie …

  1. O my wêreld…..so leer ek nog meer en meer van die rare tradisies ken van ‘n wêreld wat nie vir my bestaan het voor ek jou raakgelees het nie!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.