Gepubliseer in Joernaal

Die vinnige trek na nr 17 Towerinstraat, Rebusfontein

Hierdie bloginskrywing wyk van my ander af en vorm deel van ‘n prettige kammawêreld in die blogwêreld waarin mens uitgedaag word om oor iets spesifieks ‘n eier te lê, met ‘n kink. Ek het, en hierdie is my eerste opdrag, om my alterego of ander persona aan die res van die inwoners van die towerdorp bekend te stel, op so ‘n wyse dat ek hulle by die vertelling betrek.

‘n Opdrag wat amper soos ‘n navorsingsartikel gevoel het, want ek moes veel erger kophou om hulle so vinnig te leer ken. Hier gaan ekke in die vreemde vaarwaters in.

Ek het gedink dat ek ‘n alleenmens is en maklik ‘n kluisenaar sal kan word. Kleintyd al het ek plekkies op die plaas gevind waar ek alleen met my gedagtes en drome kon wees. En al het ek voor my siel geweet dit is onmoontlik, het ek tog op die mat gelê en musiek luister, met my kop onder die HiFi se houtkas, in die hoop dat ek wel die feëtjies sou kon sien wat saam met die musiek dans. Maar toe word ek groot en leer dat daar nie iets soos feëtjies en kabouters en towerinne is nie.

Ek het onlangs begin blog en ‘n hele paar ander bloggers het my begin volg. Maar dit is nie al nie, hulle lees nie net nie, hulle leef saam met my in my vertellings in. En lewer kommentaar. Nie om my te beledig nie, maar eerder om my hand te vat en my te help om woorde te kan snoer soos hulle. Dus het ek ‘n paar dekades later, en gelukkig voor ek my kop neerlê, uitgevind dat towerinne wel bestaan. Jy moet net op die regte plekke gaan soek.

Agtergrond om te kan verstaan

Die towerinne woon in die towerdorpie Rebusfontein, langs die stille Rebusrivier waarop Hester se vlot lê en wag dat hulle weer kom kuier om maltrapdinge aan te vang. Hulle pret laat my terugdink aan die dae toe ek die Maasdorpers gelees het en die storieboekkarakters se lewens so in my gedagtes saamgeleef het.

Maar, hulle is nie storieboekkarakters nie, al het hulle storieboekkaraktername soos Vuurvliegie (14), Perdebytjie (6), Scrapy (3), Kameel (4), VirgoC (9), Seegogga (10), Trommeltjie (12), en Woordnoot (13) of name soos Tannie Frannie (7), Toortsie (5), Una (2), Sonell (15), Hester (1) en selfs name van titels van boeke soos Bondels Gedagtes (11), Hier Blok Ek (16) en Sonell se Hoekie (18) of toekomsdrome soos Positief (8).

Hulle adresse in Towerinstraat is in hakies agter hulle name geplaas, die uwe trek vanaand in nommer 17 in.

Ek het toevallig op hierdie dorpie afgekom toe ek Afrikaanse blogs gesoek het om te lees en al so lekker vir hulle kaskenades in hierdie kamma-dorpie gelag. Omdat die towerinne die alterego’s van mense in die regte wêreld is. Ek het gevra of ek kan gaan kuier, maar is verras met ‘n sleutel wat Vuurvliegie in die hand gesit het, my eie huisie in Towerinstraat. Anders as in regte dorpe waar die klieks so dig is dat mens net as buitestaander mag toekyk, trek hierdie groep towerinne mens in ‘n wêreld vol stilte en lag in. Dit kan nie toeval wees dat nommer 17 myne is nie, dit is ‘n spesiale dag in my lewe, vasgevang in my paspoort en ID-boek, ek bedoel kaart.

Terwyl ek die towerinne se blogs gelees en kommentaar gelewer het, het hulle myne ook begin lees en so het ons gou-gou vriendinne geword. Sommige van hulle het hulle reeds aan my bekendgestel, elkeen op sy eie blog-manier deur ‘n skakel. Ek wag nog vir die ander. En nou wag hulle in spanning dat die nuwe intrekker in die dorp haarself bekend stel.

Towerinne, ek sukkel! Julle skryf die oulikste goed en toor met woorde. Maar ek gaan probeer, so gordel vas, julle weet al teen die tyd dat ek sukkel om binne ‘n woordbeperking te bly.

Ego in die werklike wêreld

Ego is met manlief getroud, het twee kinders, ‘n seun en ‘n dogter, twee skoonkinders en drie kleinkinders, almal by my dogter gekry. Seun en sy vrou dink nog ‘n kat en ‘n hond is die enigste kinders wat mens nodig het. Ego het ‘n pa en ‘n ma, vier susters, swaers by sommiges en kinders by almal, ‘n swaer en ‘n liewe skoonsuster en haar dogter en kêrel. Iewers is daar nog ‘n swaer en nog ‘n skoonsuster en hulle kinders, maar hulle vermy kontak. En daar is ‘n oorlede swaer se dogter. Ego is ‘n oud-onderwyseres, soos baie van die towerinne, daarom sal julle verstaan as die juffrou gereeld na die voorgrond tree en het Afrikaans en Geografie op hoërskoolvlak aangebied, maar het ook op universiteitsvlak klasgegee. Ego het een van haar emmerskopdinge, skuus ek het nou die dag geskryf dat ek nie so iets gehad het nie, in haar 50ste jaar reggekry, naamlik om met maklik die mooiste rooi jas in die wêreld oor die universiteit te verhoog te stap. Daarom sal daar so nou en dan akademiese artikels op haar blog verskyn, vergewe maar, dit is deel van Ego se lewe.

Alter-ego trek in Rebusfontein in

Dit is nou ek, wat in huisie nommer 17 intrek. Ek is die dromersy van Ego, die een wat alle probleme in haar drome kan oplos. Dankie vir die sleutel Vuurvliegie, ek hou sommer baie van die glow in the dark 17 wat daaraan hang. En dankie vir die adreslys, nou weet ek darem ook wie waar bly en wie my bure is. Hoop dat Hier Blog Ek en Sonell se Hoekie gou gaan kom voorstel, ek voel so bietjie verlore sonder die twee buurvrouens. Ek verstaan jy weet alles van almal, en ek lees dat Virgo en Tannie Frannie en haar skelmpie (Silver) op motorfietse rondjaag, maar wie het netnou in daardie kort rooi rokkie op die rooi motorfiets verbygejaag?

Ek distansieer my van Ego, sy ly ernstig aan die oudste kindsindroom. In die werklike wêreld steek Ego haar neus in as sy dink mense baklei onnodig, ek sal hard probeer om hier van daardie sindroom ontslae te raak. Ek betree hierdie towerwêreld dus susterloos. Manlief is bietjie ongelukkig dat hy agtergelaat word, hy is pret as hy die dag lus het en ons lag lekker hier in Kazakhstan waar hy ‘n projek kom bestuur vir drie jaar. Maar hy verstaan dat sy vrou soms in ‘n towerwêreld wil wegraak. Om asem te skep, tussen vrouens wat lekkerder as susters geword het.

Ek gaan nie veel aan my prentjie verander nie, ek is op die oomblik half gelukkig in my lyf. En dit is soort van die eerste keer in my lewe. Ego is nie, veral nie nadat ‘n Russiese verkoopsdame kouse voorgestel het om haar maag in toom te hou nie. Ek het, soos sy lang hare, maar dit is altyd in ‘n poniestert, dat ek vinnig en maklik saam kan gaan as die towerinne roep. Daar is dus geen spesiale strykers vir hare op my spieëlkas in Rebusfontein nie. Ek is fiks, anders as Ego, wat dink oefening is vir ander mense. Kan nie wag om saam in Una se giggelbus te ry nie, ek dink giggel is goed vir die maagspiere.

O ja, en ek is bang vir Goggas. Sonell, jammer, Rambo vertel my gereeld dat jy goggatjies lief. Ek is jammer, ek kan nie help nie, Ego se jonger sus het haar kleintyd met spinnekoppe gejaag. Dankie VirgoC, nou weet ek dat die goggas in Perdebytjie se tuin bly en nie weggaan nie. Rambo se mamma woon ook hier, sy het die goggas nodig.

Daar is geen heinings voor nommer 17 nie, net ‘n laning Jakarandas waardeur mens stap om om by die voordeur te kom. Oktobermaande gaan ek moeite doen om in Rebusfontein te gaan kuier, die pers blommetjies moet nog op my kop val, hulle val gereeld mis.

Die erf grens aan die rivier, waar Hester se vlot is. En daar hang my speedboat aan ‘n tak, gereed om al die ander towerinne se hare deurmekaar te waai as ons teen ‘n spoed rivier-op vaar.

Daar is ‘n swembad, ek sal later vertel waarom. Ek het nie gras nie, want ek het hier in Kazakhstan geleer dat mens sommer die bossies met ‘n weedeater gelyk sny om soos gras te lyk. Hester, kan ek Lorenzo leen vir die gelyksny? Hy is veilig, Perdebytjie het reeds gewaarsku, sy neem afpersfoto’s. En ek het nir Camilla se lyf nie. En ek neem aan VirgoC airstream al die nuus? Dalk moet ek ‘n paar van die opelugbad neem, net vir ingeval? Alla my sepie wat ek mis, Getroud Met Rugby.

Die huisie is klein, daar is een slaapkamer met plek vir my rekenaar om by die towerinne uit te kom, ‘n dubbelbed, kas en groot bad met handstort vir die hare. Die kombuis het ‘n lekker stoof vir kosmaak. Al is ek nie so lief daarvoor nie.

Ek hou baie van Scrapy en VirgoC se karavane, verkyk my elke keer hoe Scrapy hare draai dat die son dit vang. My huisie is, soos Toortsie s’n, so effens deurmekaar, anders het ek niks om te doen as die ander spring clean nie. Ego leer in Kazakhstan om, net soos Perdebytjie minimalisties te leef, maar in die werklike wêreld gooi sy baie min goed weg. Ek vermoed ek het haar gene oorgebring, nommer 17 gaan dalk met julle hulp met verloop van tyd aangebou moet word.

Dankie vir die uitnodigings om iets saam te doen, ek sien baie uit en reageer gou daarop. Ek is soos Hester, dus sal ek net graag die wyn en sjampanje met water of tee vervang.

Bondels Gedagtes, my eetvoorkeure verander soos my gemoed. Maar ‘n vrug sal altyd welkom wees. Hier in Kazakhstan het ek ‘n goudgeel spanspek met ‘n soet, wit binnekant en pitte wat soos pampoenpitte lyk, ontdek. En kersies en aarbeie en piesangs. O gaats, dit is seker te veel, ek sal ‘n kersieboom moet plant. dalk aarbeie onder die Jakarandas?

Ek bring my drie Miniatuur Schnauzers saam, BB, Shilo en Sobek, want Ego verlang haar stukkend na hulle.

Van links na regs: Shilo, Sobek en BB. Hulle lyk maar net dikbek, hulle hou nie van foto’s neem nie. Hulle wag by haar seun vir haar tot sy weer huis toe trek. En ek gaan Woensdag kuier.

Ja toe, Perdebytjie, jou kinder in die werklike wêreld kry maats hier in Rebusfontein. Gaan jy kom voorstel? Onthou net dat Sobek en Shilo amoreus kan raak, alles aan hulle lyfies werk nog perfek. Maar, wees gerus, hulle is geregistreerd, die babas sal darem op hulle pa trots kan wees, as dit nou ‘n sy is wat jy het? Hier kan hulle enige dag vir my kom kuier. Daarom stel ek hulle eers gou aan julle voor.

BB is my eersteling en die mamma van die ander twee. Sy is 9 jaar oud en ek sal nog baie foto’s van haar deel. Sy is die matriarg, speel baie oulik met die twee manne op die gras, maar as hulle geniepsig raak, is een grom genoeg om hulle op aandag te laat staan. Sy geniet dit vreeslik om op die gras op haar rug te lê, daarom is daar so stukkie gras om die swembad. Sy verpes swem en gaan kruip agter een van die Jakarandas weg as sy swem hoor. Ook wanneer sy die woord bad hoor, daarom gebruik ek dit selde. Maar sy is baie, baie lief vir droogblaas. BB slaap saam in die bed, en ek verstaan nie heltemal hoe sy asem kry onder al die komberse nie, maar sy doen.

Sobek is haar seun uit ‘n eerste huwelik. Sy naam is verkry van Egiptiese gode, as ek nou reg onthou. Hy het my as baba die eerste ruk gekgemaak terwyl hulle langs my bed geslaap het. Net die voorbeentjies beweeg mos, die agterstes sleep agterna. So het hy bo-oor almal gekruip en almal wakker gemaak. En by hierdie vies mensma die naam krokodil gekry, Sobek was die afgod met die krokodil kop, dus het hy die naam gekry. Sy tweede naam is Nero, maar hy is die sagste ou dingetjie. Sobek sal enige iets doen om saam met my te wees, spring in die swembad en swem saam. O ja, en hy geniet dit om in die swembad soos ‘n baba gedra te word … Hy hou nie van bad nie, staan stil om my te please en is net soos sy ma gek oor droogblaas. My arms is al lam, dan sit hy nog en wag. Hy is my langarmdansmaat. Ego het hom mooi geleer, as jy my nie glo nie, loer na die video wat Ego van hulle twee geneem het.

Shilo is Sobek se boetie uit BB se tweede huwelik gebore. ‘n Pragding en vreeslik trots. Ek dink natuurlik ook dat hy my perfekte teelhond is, maar ek is nog nie daar nie. Om hom uit te huur om sy sade goed te versprei, soos Steve Hofmeyer oor oom Danie Craven se Bliksem sing. Hy swem saam, hou nie van bad nie en ek sukkel om hom droog te blaas, maar hy kom daar. Maar, as jy nou regtig ‘n steekse Schnauzer wil sien, moet jy vir hom ‘n lyfbandjie aantrek. Hy gaan sit en weier om te beweeg, ek hoop my seun gaan hom in die drie jaar by hom kan leer om aan ‘n bandjie te stap.

My kuiers in Rebusfontein sal dus gekenmerk word aan hierdie drie kinders van my, kinders wat soos my boude is, ons is nooit geskei nie.

My drie kinders gaan van Saterdag af by my seun bly. En my seun se Schnauzer, Seth, is Sobek se boetie uit die eerste huwelik. En hy het ‘n kat as huismaat. Dus hoef Woordnoot, Camilla, Toortsie (wat na Kameel se kat kyk), Una en tannie Frannie se Lelik nie oor kattehaat bekommerd te wees nie, ek vermoed hulle gaan groot maats word. Scrapy jou Trompie gaan dalk net by hulle leer om katte te verdra. En Una, met my drie daar kan jy so nou en dan ene leen om jou Towerhond te wees. Maar net leen hoor, saans moet hy of sy terug wees. In my kooi.

Anders as Hester se katjie in die regte lewe, is die drie Shnauzers gek oor reis, sit drie ure lank stil op die agtersitplek terwyl ons plaas toe ry.

Scrapy, jy sal dalk net ogie moet hou by die voëlbad, ek verstaan van seun dat hulle die week ‘n duif gevang het. Ek is dankbaar ek was nie daar nie. Hulle moes dit by Nevan hulle Huskyboetie wat November hemel toe is, geleer het. Hy het hulle kans gegee om sy kos te eet, wat nie vir hulle lywe gemaak is nie. En as hulle dan te swaar is om vinnig op te vlieg, het hy skielik wolf gespeel. My baie kwaad gemaak, maar ek sou nooit waag om ‘n voël uit sy mond te haal nie. Al was hy die saghartigste wolf wat ek ken. Waarsku net vir Porkie, maar ek dink hy is slim genoeg. En die pratende papegaai moet ook maar waarsku.

Scrapy, ek gaan nie kla oor die lawaai wat jy maak as jy kom land nie, my Schnauzers skrik nie eens Nuwe Jaar vir klappers nie. Hulle bly by Ego waar die donderweer veel erger is. Buitendien, hulle sal versigtig wees vir Positief se Minoraskerp tong as hulle haar wakker lawaai.

Ek is seker ek het baie vergeet terwyl ek so dink hoe alles kan pas, en ek wil nog so baie oor julle leer. Tannie Frannie en Kameel, ek lees self graag, maar tans geniet ek die bloglees so baie dat ek nie daarvoor kans kry nie. Toortsie, jou huisie is gelukkig naby, ek hoop ek hoor jou musiek. dalk sal tannie Frannie se Silver my ook leer tango? Ek sien vreeslik uit om te sien hoe julle my in julle verbeeldingsvlugte gaan inweef om goed te doen wat Ego nooit sal doen nie. Ek beloof om te probeer om in my verbeeldingsvlugte net so met woorde te toor !

Die towerinne word hiermee uitgenooi om gereeld by my swembad te kom tee drink. VirgoC se Padda sal daarvan hou. Die tee word in Kazakhstyl in ronde koppies geskink, en net halfvol. Nie omdat ek suinig is nie, as ek vol skink sê ek sonder woorde dat kuiertyd verby is en dat julle moet gaan. Ek wil elkeen van die towerinne, asook die wat nog nie hulle intrek in Rebusfontein geneem het nie, solank verlei met die geure van die tees wat Ego uit Kazakhstan saamgebring het.

Kies asseblief een en vertel in die kommentaar as ny wil waarom jy daardie tee gekies het en wat jy dink daarin is. Toortsie, ek hoor hoeka dat jy nou baie tyd op hande het. Ek skat joune gaan die langste wees? Ek sal antwoord met die bestanddele, as ek die boksie nog het want so drie vyf soorte is in ander houers oorgesit, en die naam van die produkhuis.

Hier is die lysie in geen spesifieke orde. En dit is die punt van die ysberg, Ego dra steeds meer soorte aan. Die enigste reël is dat ‘n tee net een keer gekies kan word:

  1. Chocolate toffee
  2. Lemon Spark (Geneem)
  3. Summer Bouquet
  4. Barberry Garden
  5. Orange Jaipur
  6. Magic Rooibos (skuus, dit proe nie soos ons rooibos nie)
  7. Cherry desert
  8. Chamomile Morning
  9. Wildberry Rooibos (selfde, proe nie soos ons rooibos nie)
  10. Festive Grape
  11. Strawberry Gourmet
  12. Vanilla Cranberry
  13. Orange Chocolate
  14. Banana Flambe
  15. Summer Time
  16. Forest Dream
  17. Ginger Mojito (Geneem)
  18. Earl Grey (vir die waaghalsiges)

*****

Aan my ander lesers.

Speel saam toe. As ek kan, kan jy ook inspring en saamkuier in ‘n towerdorpie waar ons nie beoordeel word nie.

Dit werk so:

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel?Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Of volg hierdie skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/4d37c70b99244affaf04d8ea985b9271

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

48 gedagtes oor “Die vinnige trek na nr 17 Towerinstraat, Rebusfontein

    1. Ek sal moet gaan aankoop. Daai is Kaz tee. Heerlik, kies een wat jy dink by jou sal pas. Ek het vandag die Banana een gekoop, en dit is heerlik. Die sjokolade toffie een is ook ‘n gunsteling. En daar is twee soorte rooibos. Kan jy glo? Hulle ken nie Engels of Afrikaans nie, maar hulle het rooibos.

      Like

  1. Welkom in Rebusfonten….ek sien jy gaan lekker inskakel….jy verstaan van wegraak uit die werklikheid om net weer asem te skep. Ek sal gaan vir die lemon spark….of die earl grey, sonder suiker. Jare gelede het ek begin kuier by ‘n vrou en sy het vir my die heel eerste koppie Earl Grey gemaak. Sy drink nie suiker nie en het my nooit gevra of ek wil suiker hê nie. Ek was vreemd en het toe maar die tee so bitter afgesluk. Ek het na dit nog honderde koppies Earl grey by haar gedrink, sonder suiker. En ek kon nog nooit soet Earl grrey in my lyf kry nie!

    Like

    1. Hallo woordnoot! Die lemon spark is baie lekker. Gemaak deur Greenfields.
      ‘n Vriendin wou my kultiveer toe ek jonl was, maar tevergeefs! Ek kom Earl Grey nie afsluk. Hier weer probeer, kan nou. Met moeite. Sonder suiker. Dankie vir die kuier.

      Like

      1. Perfek. Ek lees nou weer jou skrywe. Met jou hondekinders, Perdeby se twee, Scrapy se Trompie en my Ringo is Rebusfontein se alias Schnauzerville. Hulle is darem die dierbaarste hondekinders. Ek stem dat Ego laat staan word en oudste sinroom is my goed bekend. Dis wonderlik hoe ons mekaar eien en ken hier in blogland, raakvlakke ragfyn gespin om ons te verbind. Kosbaar.

        Like

  2. Sjoe jy skryf lekker! Wat my verwonder, is dat jy al soveel van die Towerinne weet en dit onthou! 😁 My verstandjie is te kort en ek vergeet die helfte.
    Oor die tees. Jy verstaan nie. Jare gelede het ek begin om gegeurde tees te drink, hoofsaaklik rooibosgegeurde tee, omdat ek koffie, waarvoor ek verskriklik lief is, vas. Dus, as ek ‘n interessante gegeurde tee raakloop, koop ek dit onmiddellik.
    Daarom wil ek vra, mag ek asseblief elke keer ‘n ander geur kry om te drink, maar nog iets, ek hou regtig egtig van ‘n vol koppie tee. Mag ek maar ‘n volle kry? Ek sal loop as hy leeg is, maar ek moet jou waarsku, ek praat baie en drink stadig! 😳

    Like

  3. Agteros kom ook in die kraal! Ek het jou skrywe gemis, moes nou ver terugblaai om hom te kry. Kyk, jy is klaar ingeburger, nogal met ñ speedboat en al! Jou diere-kinders is pragtig, ek weet sommer my Kieter sal hulle redelik amusant vind. Sy verbeel haar sy is ñ koninklike en dat alle ander wesens benede haar is.

    Tee, nee Christa, daardie een het ek nooit aangeleer nie. Koffie en wyn en water, nie noodwendig in daardie volgorde nie. Maar dat ek baie by jou gaan kom kuier is gewis. Ek geniet jou skryfstyl terdeë. En dan moet ons mos nou maar die Towerin-Christa help ontpop!

    Like

  4. Baie welkom in Rebusfontein. Ek is seker jy gaan gou tuis wees en ‘n paar eienaardige gewoontes aanleer – dit gebeur maar. Jou hondekinders sal beslis gelukkig wees hier. Ek “doen” nie juis tee nie, maar soms, net om my gasvrou te laat goed voel, drink ek tee met ys. Summer Time lyk dus na my ding.

    Like

  5. Ek hoef niks verder as chocolate te lees nie… toe sê ek dis hy daai!!! Welkom Christa en ek sê sommer by voorbaat verskoon my Afrikaans… of bargoens soos my man sê. Ek was laaaaasnk gelede Afrikaans, toe trou en met ‘n Engelsman, het ‘n Griekse seun, Portugese dogter, en amper Indiëse skoondogter. Jy sal meer met Kameel as Camilla te doen kry. Camilla is skoon deur Hester en Frannie die dorp uitgejaag… en dit oor Lorenzo. Ai, ek trap maar versigtig om Hester… maar liefdevolle Frannie!!! Hoop jy geniet jou huisie en wanneer jy ons op jou speedboat uitvat mag ek asseblief agteraan op ‘n “tube” ry. Ek is baie lief vir opwindende bloedstollende rygoed.

    Liked by 1 person

    1. Hallo kameel, daar is twee. Een met toffie en een met lemoen. Die lemoen een is hemels. Natuurlik, ek weet hoe om dit pret te maak, al in die rondte, en so nou en dan ‘n 8 oor die breedte van die rivier. Ek weet darem jy sal kan vasklou.

      Liked by 1 person

  6. Tog te pragtig vertel en ek is bly jy het jou intrek gemaak. Welkom in Rebusfontein. Ek is seker ons gaan lekker bly daar. Ek is nog hewiglik besig om als in orde te kry en dit gaan maar stadig. Ek vat mos my tyd. 😅

    Ek sien ons gaan nog lekker tee saamdrink en toemaar, al my goggas sal aan my kant van my erfie bly. hahaha. Net die spinnekop op my arm sal jy niks aan kan doen nie. 😂

    Like

    1. Dankie Sonel, ek jet self stadig getrek. Ek verstaan jou spinnekop is baie ma-vas, sal nie sommer laat los nie. En slim, weet ek gaan nie ‘n goeie ma wees nie. Ek sien ook baie uit. Wou vra, daar is Sonel en Sonel se hoekie. Beide joune?

      Liked by 1 person

      1. Hahahah! Ja, al my diere en goggas is baie ma-vas. 😂

        My blog se naam is Sonel se hoekie (dit was Sonel’s Corner) en ek is Sonel met een L. Ek sien daar is ‘n ander Sonell maar met 2 L’e. Ek ken haar nog nie, maar is nog in die proses om almal te leer ken. 😀

        Like

  7. Ma sê sy sal al julle mannewales in Rebusfontein dophou want sy het besluit sy gaan nie deelneem nie. Sy voel te ongemaklik. Ma is maar weird hoor. Sy hou van baie dinge waarvan julle hou maar sy is nie gewoond om tussen so baie mense te wees en sy sê sy het geen verbeelding nie, so sy los dit oor aan julle. 😀

    Ek hoop jy kry lekker bure wat darem nie so mal soos ma is oor spinnekoppe en goggas nie. 😂😂😂 Ma sê ons diere en goggas bly maar die beste maaitjies en sy kan nie haar lewe indink sonder ons nie. So, geniet jou towerin huisie en ek sal gereeld kom inloer en kyk hoe dit gaan. 😀

    Like

      1. Ma sê baie dankie maar sy dink jy het net so goeie verbeelding soos die towerinne van Rebusfontein, so jy sal baie goed daar inpas. Sy dink nie sy doen nie. 😀

        Baie dankie. Ek en Ma waardeer jou ook en dis maklik om lief te raak vir goggatjies. Hulle is banger vir ons as ons vir hulle. 😀

        Like

      1. Ek is my ma se towerhond. Sy is eintlik ‘n heks (darem nie ‘n slegte een nie) en ek is haar ‘familiar’ want ek en katte is nie maats nie. Maar ek dink Una het haar towerhond gekry. Hy is tog te oulik. 😀

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.