Gepubliseer in Reisjoernaal

Kathu – ‘n dorpie in die Noord-Kaap

Ek het nog nie regtig vertel nie, dus doen ek dit eers voordat ek meer oor my nuwe omtes kan vertel.

So kom manlief in November by my aan, hy het ‘n kort kontrak gekry om in Hotazel te gaan werk. Hoe voel ek daaroor. Al wat ek van Hotazel geweet het, is dat die naam afgelei is van Hot as Hell, en genugtig, hoe vreemd is dit?

Ons is so pas terug van Kazakhstan waar ons 18 maande gebly het in ‘n stad in die noorde wat ses maande en langer kouer as vriespunt is. Waar ek geleer het hoe koud -38 grade Celsius is. In domgeid uitgegaan het om foto’s te neem en ligte vriesbrand in ses minute opgedoen het.

En nou wil hy na die warmste plek is Suid-Afrika gaan?

Ek vra op Facebook vir my vriende waar die warmste plek in Suid-Afrika is en niemand raai Hotazel nie. Goed dan ken nulle nie die plek nie – of dit is nie so warm nie?

Google wys ook ander plekke in die land, selfs in die ou Oos-Transvaal, as die warmste plekke aan. Hotazel is toe nie die warmste plek op aarde nie.

Maar, dit is ‘n piepklein dorpie. So klein cat die manne van die myn nie daar kan bly nie.

My dollatjie Google things to do in Hotazel. En ons lag ons slap toe Google antwoord:

‘There are 0 things to do in Hotazel.’

Regtig, net so. Nul. Niks. Geen. Daar gaan niks aan nie.

Niks om te doen nie, pas my. Ek het stilte nodig om navorsing te doen. Stilte om my video’s te maak. Is buitendien gewoond aan Kazakhstan waar ek vir 18 maande soos ‘n lêhoender op hok gestaan het. Daar sal ek ten minste op die grondvloer wees. En buite kan sit en loop, die hele haar lank.

Manlief gaan die eerste twee weke van Desember alleen, ek het later gevolg. Na kersnaweek. En die week by die see wat klaar bespreek is. Hy bly vir eers in Kuruman in ‘n gastehuis, saam met iemand van hoofkantoor – ek besluit die tweede week om die tyd te vat en by my kinders te gaan bly. Dit was absoluut heerlik om so saam met my kleinkinders te bly.

Manlief hou niks van die gastehuis nie, ook nie van Kuruman nie. Rapporteer saans dat die pad baie besig is, die dorp vuil, hy gewaarsku word dat mens nie in enige deel van Kuruman rond kan loop nie. Jy gaan besteel word. En vandag word ek deur ‘n vrou gewaarsku om my handsak styf vas te hou. Dus moet ek dit glo.

Die petroljoggie vra hom of hy sy kar gesluit het toe hy langs hom staan terwyl hy petrol ingooi. Soos altyd. Dit laat mens wonder of jy in Kuruman wil bly.

O ja, terloops, ons kan nie in Hotazel bly nie, al is die myn reg langs Hotazel, is dit ‘n myndorpie vir die ander myn. Ons moet in Kuruman of Kathu bly.

Die tweede week beproef hy Kathu op ‘n kollega se aanbeveling. Mooi dorpie, rapporteer hy. Skoon. Pad tussen Kathu en Hotazel is baie lelik, maar hy verkies Kathu. Ons gaan die paar maande in Kathu kom woon.

Hy kry vir ons ‘n gemeubileerde woonstel in ‘n inwoner se erf. En nadat ons ‘n week by die see was en kersnaweek saam met dollatjie en kleinkinders by die rivier geniet het, pak ons ons twee groot tasse en een kleintjie (baie minder as na Kazakhstan toe) en sy gholfsak, my goot iMac wat tuis moes bly toe ons in Kazakhstan was en Thermie en vat ons die lang pad Kathu toe.

Om vir twee maande in iemand anders se erf in ‘n woonstel te bly.

Baie, baie duur, R17 000 per maand. Weens die groot aanbod en klein aanvraag kan die mense vra net wat hulle wil. En prys sal hulle kry. So terloops, dit is ‘n klein dorpie, wat aangebied word, is in sommige gevalle nie juis leefbaar nie. Die woonstel het goed gelyk – op foto’s. Hy kon dit nie sien nie.

Kathu is so ses, sewe ure se ry vanaf ons huis in die groot stad.

Die pad was lank en op plekke werklik lelik. Tussen Krugersdorp en Ventersdorp. Langs die pad is dit mooi. Het later al platter geword, terwyl ons reg wes ry vanaf die stad. Na ‘n plek in die Noord-Kaap waar ons twee nog nooit was nie. Ons moes deur Kuruman ry om by Kathu uit te kom.

Ek wou in Kurumn bly, nader aan die huis. Maar het by manlief se besluit berus. Die mense op die myn sou weet.

Kathu is wel skoner sien ek toe ons in die dorpie inry, dalk veiliger as ek opmerk dat huise nie hoë mure het nie, ons s’n is van die enigste wat elektriese heining het – net agter, omdat dit aan ‘n veld grens. Voor is oop, daar is wel elektriese hek, maar die muur langs die hek is so laag dat dit net vir die mooi is. Nie om skelms uit te hou nie.

En voor ek weet, is die tweede week in Kathu verby.

Ek het van my onaangename ervaring met die verhuurder vertel. Toe hy die plek oopsluit terwyl ek nog nie volledig gekleed was nie, met verskoning dat hy gedink het dat ek en manlief reeds weg is vir die lang naweek. Gisteraand vertel agent dat hy dink ons is kwaad vir hom omdat goed nie gewerk het toe ons ingetrek het nie.

Ek verduidelik vir haar dat die kwaad nie daaroor is nie, hy het alles dadelik reggemaak. Ek is kwaad omdat hy my plek oopgesluit het terwyl ek binne is. Dit is onaanvaarbaar, ek soek nuwe slot op die hek. Een waarvn net ons die sleutels het.

Sy verduidelik dat die mense skadeloos is. Ek stel dat ek nie omgee nie, sy ken hulle dalk. Ek nie. En oopsluit en inkom as ek nie daarvan weet nie, is onaanvaarbaar. Twee minute later was ek naak in die stort!

Intussen het ek nog nie veel van Kathu gesien nie.

Hier is twee groterige winkelsentrums naby die N14 en een aan ‘n ander kant. Pick n Pay is deurmekaar en hopeloos, dus het ons oorgeskakel na Checkers, waarvan manlief om een of ander rede nie hou nie.

Ek het reeds vertel dat KFC hier die slegste hoender maak wat ek nog ooit gekry het, verbrande vel en kurkdroë vleis. Maar, dit is nie probleem nie, want ons braai sans en ek maak kos. Ons is nie in ‘n hotel of gastehuis vasgevang nie.

Dit is dus ons eerste naweek hier, manlief gaan my vandag wys waar die myn is, hoe Hotazel lyk en dan gaan ons Kuruman toe. Ons moet sy medisyne by Dischem gaan oplaai.

Snaaks om so 50 km na die groter dorp te ry om ‘n apteek te kry. Hier is wel ‘n Clicks, meer as een. Ons sou dus die medisyne wel hier kon kry as ons moet. Moet net nuwe voorskrif kry. En daai is mos nou weer ‘n geldmaakstorie. Moet dokter R500 betaal omdat hy mens kastig eers moet sien – maar dan tog die voorskrif gee …

Gister kla my ma, wanneer gaan sy ons weer sien. En ek kan nie help om te spot nie.

Haai ma, ons twee is mos ou mense. Ons kan nie vir ‘n naweek 16 ure op die pad wees nie. En sy lag haar slap. Wat moet sy dan sê? Sy en my pa is 20 en 27 jaar ouer as ek. Niks, antwoord ekke, sy verstaan dan mos dat lang paaie nie ‘n grap is nie.

Hoe voel ek oor Kathu?

Ek dink ons kan aanpas.

Ons kan oor ‘n lang naweek huis toe gaan. Kathu is baie nader as Kazakhstan. Ons het ‘n kar nodig om huis toe te gaan, nie drie vliegtuie wat in drie lande land nie … As die land se grense gesluit word, is ek darem steeds in Suid-Afrika.

Hooffoto: Massiewe trok by ingang vanaf N14 na Kathu. Ek voel klein daarteen.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Kathu – ‘n dorpie in die Noord-Kaap

  1. Home is where the heart is. Christa, jy is reg: ons kan aanpas solank ons saam met ons naaste is. Veels geluk met die volgende paar maande. Ek hoop jy gaan vir ons meer van Kathu wys 🙂

    Liked by 1 person

  2. Lawrence G Green skryf in een van sy boeke van die Duitser wat op Goodhouse ongelooflike temperature met ‘n Stevenson-apparaat waargeneem het, wat die Gamtoos, Hotazel, Upington en sulke koel plekkies koud laat.

    As jy dit Google, sien jy dat die hoogste temeperatuur in die son gemeet is in Yemen, nl 74 grade Celcius MAAR in die Karootuine op Worcester het die Ikeys se skool vir entomologie ‘n temperatuur van 76 grade waargeneem. Worcester en De Doorns het al by 54 grade (in die skaduwee) gaan draai en die teer smelt gereeld daar. En as jy op windy.com gaan kyk, sal jy sien dat Moorreesburg, Worcester, Robertson en Oudtshoor gereeld die warmste plekke in die land is.

    Ons bure, afkomstig van Upington, het na twee jaar opgepak en teruggetrek soontoe want “geen men kan die hitte op Worcester oorleef nie.” Wel, in Maart 1993 is plaaswerkers in die Hexvallei (waar De Doorns is) dood aan hittesteek. My oorle skoonpa was toe nog in die lewe en het sy werkers, aan die oostekant van die Vallei onder die opgeleide wingerde ingejaag en toe die sproeiers oop gedraai – om lewens te red. Daarmee het hy die uitvoer-oes op risiko vir mislukking gesit, want die druiwe sou maklik kon bars en op die stok begin gis.

    Upington het sy naam vir hitte gekry toe my pa vir 19 die WP se skyfskietafrigter was en by die SA Kampioenskappe te Schurveberg was die baanbevelvoerder die bevelvoerder van 8 SAI Bn op Upington. My pa het hom oortuig dat die skuts na middagete siesta moes neem en liewer later klaar skiet, wanneer die lig beter en die klimaat beter is tydens die goue uur. Terug op Upington het die betrokke offisier hittestaking ingestel as dit warm begin raak het.

    Die weerburo is ook nie oral nie en hulle amptelike sysfers is nie altyd al te betroubaar nie. Op Worcester staan daar ‘n Stevenson by die lughawetjie en daardie ding kan ook al ‘n storie of twee vertel; mens kon aanlyn gaan en die rekenaarskerm sien. Dis net soos mense dink Sutherland is die koudste, maar die feite is dat ‘n plaas buite Molteno kouer is.

    Liked by 1 person

  3. Ek vermoed steeds julle betaal ‘n per dag tarief en dat hulle julle nie tegemoet gekom het omdat julle lank bly nie. Dalk kan julle dit bespreek met agent as julle langer gaan bly.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.