Gepubliseer in Joernaal

Daar is chaos in my hart …

Hierdie inskrywing volg op ‘n bloguitdaging wat vereis dat die volgende woorde, of een of meer daarvan, gebruik word om ‘n eie inskrywing te doen.

Liefde, kinders, vertroue, gedagtes, chaos.

Vreemde groepering van woorde, dink ek. Tot ek aan gister dink. Hier is myne dan.

***

Gister, terwyl ek stap, luister ek na een van Adam Tas se liedjies. Dit is mos my nuwe gunstelingtydverdryf. Om nie meer oorfoonloos te stap nie, maar om eerder na Afrikaanse liedjies in hierdie land te luister.

En toe sing Adam Tas Boerebruilof.

Dit begin met die mooiste Afrikaanse woorde, die man kan met woorde toor en die lekkerste herinneringe aan my kinderdae is daarmee oproep:

bruilof, waenhuis, pater, slapskeentjies, aalmoes, donkielong, banjo, muurblom, ogies maak, bittereinders.

En my gedagtes dwaal so saam met die woorde na die boerebruilofte waar ek al was.

As kind. Op plase, in die waenhuise, met hooibale as sitplekke. En ek was een van die muurblommetjies, het eers op universiteit leer dans.

En ek het met liefde gedink aan my twee eie kinders se troues.

Dogter het by Makietie in Muldersdrift getrou. Groot troue, baie gaste, heerlikste stadstroue in die pragtige plek waar troues gehou word.

Seun het in Knysna gaan trou, klein troue by die natuurreservaat naby die Heads. En ons is per boot daarheen geneem terwyl hulle foto’s by die Heads neem. Heerlike plattelandse troue met die bome se takke as ons dak en feëtjieliggies in die bome.

Ek was nog in hierdie fase van heimweë en verlange toe die daaropvolgende woorde my tot stilstand ruk.

Ek gaan dit nie hier herhaal nie, maar elkeen daarvan het chaos in my gedagtes veroorsaak.

Liewe hemel, hoe het die woorde my nie tot stilstand geruk nie. Dit wil my gedagtes nie verlaat nie, steek vas. Veral die woord vertroue.

Want as daar een groep mense in Suid-Afrika is wat ‘n oormaat vertroue in die toekoms van die land het, dan is dit die boere. Ek weet, ek het op ‘n plaas grootgeword.

Ek weet ook hoe maklik dit is om van veiligheid te vergeet. Plase het ‘n unieke gevoel van veiligheid aan hulle verbonde. Al pla geweld mens ook hoe as jy in die stad is, vergeet jy daarvan as die voëltjies in die bome tjirp, die honde lui op die gras in die sonnetjie bak.

In my gedagtes sal ek voortaan sukkel om die woorde liefde, kinders en vertroue met die woord boerebruilof te verbind.

Daar is chaos in my hart.

Jammer as ek die woord vir jou ook bederf het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Daar is chaos in my hart …

  1. Ai Christa, jou laaste stuk het my ook nou weer geruk, netso die woorde van die lied. Ek weet nie of jy onthou van dr Lets Pretorius wat gevang en opgesluit is n hele klompie jare gelede. Hy was my geneesheer vir n tydperk. Hy het sy seuns is so gebreinspoel om in opstand te kom. Daardie jong manne het hul eie gesinne gehad. Die vrouens en hul kinders het die ergste daaronder gelei. Lets was nie van die begin af so fanaties nie. Dit wys jou hoe omstandighede families vernietig en ook hoe landsomstandighede gesinne opbreek, vermoor en verrinneweer . Veral daardie boere wat steeds alles doen om n bestaan te maak. Dit breek my hart in stukke.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.