Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Oggend by die mark

Vanoggend nooi Mia, my jong nuwe vriendin, my vir die derde keer saam mark toe. Die ander kere het iets voorgeval. En ek besluit om saam te gaan.

Nie omdat ek nog nie daar was nie, eerder vir die ervaring saam met ‘n vriendin. Sy is ook van Suid-Afrika, maar hulle het ook Bulgaarse bande.

Ek en manlief was al twee keer daar, maar koop gewoonlik by Fresh Market. Ons het juis weer Saterdag aartappels, appels, beet en kersietamaties gekoop. Dus het ek nie regtig nodig om te gaan nie.

Maar Mia het my gister lus gemaak om borscht, egte Russiese sop te maak. En my beet het Saterdag al beetslaai geword, wat sommer so uit die yskas geëet kan word vir ontbyt, middagete en aandete.

Halftien is ons reg om te gaan en sy stap andersom as wat ek en manlief stap by die rye en rye stalletjies in. Van Kazakhstan se kant af.

Ons het nog nie in die gangetjie afgeloop nie, maar dit gaan my gunsteling gangetjie word en ek gaan beslis ook eerder weeksoggende gaan.

Dit is net kersies, aarbeie, appels, perskes, aartappels en groente waar jy kyk.

En dit lyk vars. In my beste Russies kan ek na beet wys en sê piaat (5) of na ‘n koolkop en sê dwa (2). Die oulikste Kazakh tannie kom staan langs my en dink ek kan verstaan omdat ek die getalle so mooi kan sê. Ek verduidelik met “Ja net panimajo poruski’ (ek verstaan nie Russies nie) dat ek geen woord verstaan nie, maar sy dink ek jok. Ek sê die getalle dan so mooi. Skuus tannie, nood leer praat. Daai paar woorde is broodnodig.

Om my is almal besig om groente te koop. Reg langs ons is hulle besig om ‘n massiewe gebou op te rig. Ek hoop werklik dat die gebou en uitbreiding nie ons straatmark gaan wegvat nie.

Ons stap om modderpoele en koes vir die deure van die motors van die boere wat hulle groente te koop kom aanbied. By ‘n volgende stalletjie kry ek dille, pietersielie en so wraggieswaar vars blaarslaai.

Die radyse moes maar wag, my arms vas vol vars groente en vrugte.

Ek neem aan dat die wat naweke te koop is, die oorgeblewenes van die week was. Want dit was al na aan verlep toe ons gekoop het.

Dankie Mia, ek gaan ook nou gereeld gou mark toe stap om die vrugte en groente vir die dag of week te koop. Dit is soveel lekkerder as Fresh Market en baie, baie goedkoper.

‘n Hele pak aarbeie het 350 tenges gekos. Ek het by Fresh Market 3000 tenges betaal vir ‘n kleiner pakkie.

Maar, dit gaan nie oor die minder betaal nie, 3000 is maar skaars meer as R100.

Dit gaan eerder oor ‘n heerlike avontuur. Saam met ‘n vriendin. Om vars kos op die tafel te sit. En ek wonder: Hoe gaan dit in die winter werk? Gaan die stalletjies daar wees?

Foto van my eerste poging om borscht te maak. Met Thermie se ingeboude resepte.

Ek het een verandering aangebring. Vleis bygesit. Want daar moet, volgens Mia, vleis in die sop wees.

O ja, ek het ook my ander vriendin se gunsteling Russiese bykos bygesit. Bruin brood gerooster, daarna in knoffelolie gedruk en in dun snytjies gesny. Om soos stokkies te lyk. Heerlik!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “‘n Oggend by die mark

  1. Dis so wonderlik om te lees hoe jy ingeburger raak…tot nou al n vriendin! EK vermoed ons gaan nog baie lees van jou en Mia se vriendskap!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.