Gepubliseer in kleinkinders

Kleinkindpret #2 – Privaatheid agter gordyne

Kleinkind, 20 maande kuier twee keer per week die hele dag by ouma terwyl mamma werk. So leer ek tussen die kuiertjies met skoondogter saam meer oor hom.

En sien ek baie daarvan voor my afspeel.

My TV-kamer het vir die eerste keer in jare weer kantgordyne, ek hou daarvan om gordyne oop te trek om op die tuin uit te kyk.

En so leer ek toe dat hy homself in my kantgordyne toetrek, soort van toerol soos ‘n mummie, as hy ‘n nommer twee maak. So in sy eie privaat toilet. As ek vir hom lag, lag hy net skaam. Ek moet hom mos eintlik nie sien nie. As hy uitkom, kan die doek maar geruil word, sonder uitsondering …

Gister staan hy egter doodstil agter die dik gordyne. Of altans dit lyk vir ons so. Die reuk van daardie kant af het manlief laat wonder of een van die Schnauzers ‘n wind gelaat het, dit was werklik ‘n stink ene gewees.

Nee, verduidelik ekke, dit is ‘n doek. En hy lag saam met my, want ek is die een wat moet gaan skoonmaak. Ek gee glad nie om nie, dit is een van die dinge wat met grootword gepaard gaan …

Toe hy agter die gordyn uitkom, weet ek hy is klaar. Ons kan die doek gaan ruil. Dit is ‘n vuil ene en ouma besluit ‘n bad gaan beter werk as ‘n paar lappies.

Toe hy klaar gebad en aangetrek is, gaan manlief om vir hom ‘n koeldrank te kry in die yskas by die gordyn.

En wat sien hy?

Kleinseun het graffitti teen die muur gemaak – pienk en groen merker penne, helder kleure.

Ek lag, sal môre skoonmaak.

Vanoggend toe ek skoonmaak, sien ek die mannetjie was baie besig, daar is tot op die vloer geskryf ..

Niks wat Domestos nie mooi skoon kon maak nie.

Maar dit bring my by een belangrike punt. My eie dogter het met kryt teen die muur geskryf, ‘n hou op die boud gekry en ‘n lap om self skoon te maak.

Sies sy het ‘n kwaai mamma gehad.

Baie anders as hierdie ouma wat lag en skoonmaak.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Kleinkindpret #2 – Privaatheid agter gordyne

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.