Gepubliseer in Joernaal

Media 24 maak my naar oor haat vir Steve

Ek het so paar jaar gelede ‘n Media24 inskrywing gehad, dink dit was R99 per maand. Dan kon ek verskeie Afrikaanse tydskrifte en koerante lees wat deur Media24 uitgegee word.

En toe besluit ek om dit te staak. Weens die media reus se geveg met my gunsteling sanger, Steve Hofmeyr. Ek was nie die enigste persoon nie, baie mense het die besluit geneem. As hulle die plek wil wees wat ons Afrikaanse sangers afbreek, sal ek nie help om te betaal vir die diens nie.

Die besluit het Media24 so erg geraak, dat Rapport en Huisgenoot Sondae by die verkeerslig as ‘n goedkoop pakket aangebied is. En steeds het die mense die pakket nie aanvaar nie, want ons is moeg daarvoor dat ons Afrikaanse media vir ons probeer dink.

Ja, Steve het baie kinders by verskillende vrouens. Hy erken elkeen van sy kinders en is by hulle opvoeding betrokke, mens kan sien hy is mal oor hulle. En hulle oor hom. Hy word as ‘n boef uitgekryt. En sonder my toestemming uit my TV-kamer verban.

Naas Botha het ‘n seun by ‘n ander vrou en al sy regte as pa afgestaan. En ek kan nie help om in my mou te lag as ek sien dat hy toe net meisiekinders het nie. Daardie seun kon in sy voetspore gevolg het. Soos Steve se seun in sy pa se voetspore volg. Hy word as ‘n kenner van rugby in my sitkamer ingedra.

Die nuutste swartsmeerdery vat egter die koek.

Toe ek Sondag in Parys in die kafee by die garage instap, skreeu die opskrif groot en lelik. Iets soos dat ‘n herrie los is omdat hy munt probeer slaan uit Theuns Jordaan se dood.

Ek het nie eens verder gelees nie, my lus om ooit weer te luister na wat die hoofredakteur van Rapport op KykNET verslag te vertelle het, is totaal geblus. Waldimar Pelser, as jy dit vir ‘n hoofartikel goedgekeur het, is jy nie wie jy voorgee om te wees nie. Inteendeel, ek stel nie meer belang om te hoor wat uit jou mond kom nie.

Ek dink dit was Donderdag toe manlief ‘n video in ons gesinsgroep deel. Een waarin Steve sy eie gesprek met ‘n geliefde vriend gebruik om die mooiste ode aan ‘n vriend te sing. Ek was absoluut in trane, want beide Steve en Theuns Jordaan is na aan my hart. Hy moedig daarin sy vriend aan om dan in die hemele te sing …

Hier is die video:

Uit die woorde van Theuns wat hy vir die lied gebruik, kan mens hoor dat Theuns en Steve groot vriende was. So groot dat Steve een van die twee voorste draers van Theus se kis was. So lief vir sy sangvriend dat hy in ‘n pikgietswart pak opgedaag het, al hou die sanger van my daarvan om jeans en t-hemde te dra.

Sy woorde het diep getref. Dit is nou die Steve wat in sy jonger dae selfs as godsdiensloos uitgekryt is. Dit is duidelik uit sy liedere dat hy en die Here ‘n pad saamstap, en hy sing oor Theuns wat solank in die hemel gaan wees waar ons almal eendag sal wil wees.

Ek lees vandag in die Huisgenoot die artikel oor Theuns so stukkie vir stukkie. Wil nie te veel lees nie, want ek wil nie kwaad word as Steve weer aangeval word nie. Maar ek lees raak dat Theuns eers baie onlangs sy saak met die Here uitgemaak het. En dit maak Steve se lied soveel mooier, hy het sy vriend goed geken, geweet waar hy graag wil wees as hy die dag sterf – soos wat toe op so jong ouderdom gebeur het.

Ek wou die lied na vriende stuur, maar toe het iets my teruggehou.

‘n Voorgevoel?

Dat Afrikaanse mense nie in staat is om kuns te erken, herken en geniet nie.

Dat hulle egter die lied sou gebruik om Steve te probeer kruisig, het ek nie in my wildste drome verwag nie.

As Steve daarmee geld maak, dan is dit maar so. Hy kon oor enige iets anders gesing het en sou steeds geld gemaak het.

Maar ‘n mens moet besonder siek in jou kop wees as jy dink die pragtige woorde is geskryf om munt uit Theuns se dood te slaan.

Dit is rou, ruk aan mens se hartsnare en laat jou besef dat ons sangers ‘n nou band het.

Steve Hofmeyr is die een sanger wat dit geniet om ander sangers te ontdek, om vir hulle saam met hom op toer te neem om hulle aan die publiek bekend te stel.

Hy word deur die Afrikaanse media gekruisig omdat hy opstaan oor plaasmoorde, bewustheid skep, onreg raaksien en daaroor sing. Dit is wat sangers doen – hulle skryf en sing oor die wêreld om hulle.

En nou word hy aangevat oor die mooiste lied wat hy al – volgens my – geskryf het? Omdat hy sy hartseer uitsing? Omdat hy sy boodskappies met Theuns gebruik om die lied tot in my hart te bring en daar te laat nesskop?

Geweet hy het eers toestemming van Theuns se pa gevra of hy sy kind se woorde in ‘n lied kan verewig?

Toe nie … en nou is julle weer met rooi gesigte. Oor swak joernalistiek. Julle kon hom net gevra het voor julle die berig geskryf het.

Ag sies man, Waldimar en Rapport.

Ag sies man, Ilze Roggeband, wat in die nuutste Huisgenoot vertekl dat jy na aan Theuns was. En dan berig die Citizen dat jy net een vraag vir Steve het: Of Theuns ‘n lied vir Steve sou sing as die rolle omgeruil was. Besef jy presies wat jy daardeur oor Theuns kwytraak? Jy doen sy naam skade aan!

Theuns was ‘n skaam, teruggetrokke mens, die verhoog is waar hy sy lewe uitgeleef het. En dit is daar waar sy vriend hulde aan hom bring.

Ek skaam my vir julle.

So terloops: Het Steve se naam toe darem gehelp om die koerant Sondag verkoop te kry? En wie probeer nou eintlik regtig munt uit die lied slaan?

Steve?

Of julle …

My Afrikaner lojaliteit het my die afgelope twee weke weer voor die keuse te staan laat kom. Moet ek nie maar my Magzter-rekening sluit en weer my eie land se mense ondersteun nie?

Julle het my egter Sondag oortuig dat so paar jaar gelede se besluit die regte een was. Vir gemene joernaliste het ek nie tyd nie. Vir swak joernalistiek is ek nie lus nie. En ek ondersteun ook nie ‘n mediahuis wat in die staat se sak is nie.

Daar is geen manier waarop ek geld sal betaal om julle te help om Steve te probeer uitroei nie.

Ek kan wel raad gee: Steve is goed met woorde. Gaan lees sy spanningsverhale en sy gedigte en luister ook sommer na sy liedjies. Dalk kan dit goed wees as julle die joernalis vir taallesse stuur?

Gaan doen bietjie goeie joernalistiek vir ‘n slag.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

39 gedagtes oor “Media 24 maak my naar oor haat vir Steve

  1. Goedgesê, Christa! Ek hoop jy het hierdie brief ook aan die betrokke joernaliste en redakteurs gestuur vir plasing asook op faceboek geplaas. Ek ondersteun ook nie nuus 24 nie. EK het jare gelede n onderhoud met Steve gevoer en hom baie aangenaam gevind. Hy is ‘n uitstekende liedjieskrywer en komponis en dis net natuurlik dat hy sal sing oor iets wat hom diep raak. Skaam julle, julle kleinsielige, afgunstige ou joernalissies!

    Liked by 2 people

  2. Dit is ongelukkig so dat sensasie verkoop maar dit regverdig dit steeds nie. Joernalistiek is veronderstel om objektief en op feite gebaseer te wees. Waar iz die jare wat joernaliste geglo het, ” when in doubt leave out”?

    Liked by 2 people

        1. Dan dink ek nie meer dat die man intelligent is nie … Hoe gaan dit met jou? Ek het so agter met die lees van die WA boodskappe geraak dat ek nie meer lees nie. Hou my asseblief op hoogte as daar iets gebeur waarvan ek kennis moet dra.

          Like

          1. Dans met Drienie is seker my gunsteling, maar die skop-slaan-en so aan boeke hou my aan die raai tot die laaste bladsy. Ek kan nie soos met Deon Meyer begin voorspel wat gaan gebeur nie.

            Like

          2. Die Goues skryf weer aan ‘n reisstorie…dié keer in ‘n parmantige pers bus vol hippieblommerjies en die boytjie van Brackenfell toer saam. Ons het in Franschhoek begin en al die Kapenaars was al agter die stuur.Nou na die Noorde!

            Liked by 1 person

        1. Jong, dit is mos wat ek ook wou skryf, die song is nou soveel keer gekyk dat hy seker lekker in sy mou lag oor die gratis publisiteit daarvan. Wat my weer by die eerste punt bring – hoe onopgelei is die joernaliste werklik? En skuus, dan wil ek ook weet hoe oud die joernalis is, want sedert 2000 was 33% genoeg om te slaag.

          Like

  3. Theuns Jordaan is nog steeds een van my geliefde sangers, hom en Matthys Roets. Ek hou gedeeltelik van Steve. Hy sing mooi is net bietjie te voortvarend as ek my beskeie mening kan gee. Sulke mense het mens ook nodig om ‘n saak te kan stel waarvoor ons lief is nl Afrikaans en Afrikaanse musiek.

    Liked by 2 people

  4. Maroelamedia het berig dat Steve geen geld anvaar vir hierdie lied nie en elkeen kan dit aflaai soos hy wil. En ek glo hom. Ek is ook al net so gatvol vir Netwerk 24…het alles van hulle geblok. As ek nuus lees, lees ek maar Maroelamedia.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.