Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Reisjoernaal

Krabbelbloekoms se pragtige stamme

Ek loer vandag na Bushboy se foto’s wat hy vir Cee se “tree or part of tree” uitdaging ingeskryf het. En raai wat sien ek? Die stam van ‘n boom wat lyk asof iemand daarop gekrap het. Die foto is swart en wit, maar die gekrabbel trek my.

Ek het dit al in kleur gesien. Persoonlik. Dit lyk asof iemand pragtige patroontjies op die stamme getrek het – met ‘n geroeste pen. En ek weet dadelik dat ek het ‘n foto van so ‘n boom in my foon se fototeek van bykans 80 000 foto’s het. Dus vra ek of hy weet wat die naam van die boom is. En kry die antwoord, dit is ‘n scribbly gum tree – hoe sou mens dit vertaal?

Ek dink krabbelbloekom gaan werk. Nuuskierig Google ek en kry ek meer inligting oor hierdie boom, wat ek in Australië raakgeskiet het (kamera) toe ek by my suster gaan kuier het. Die boom het my so beïndruk dat ek nie net baie foto’s geneem het nie, maar ook dadelik geweet het waar om te gaan soek vir die foto’s – al het ek hierdie foto’s in Januarie 2010 geneem.

Die krabbelbloekom is ‘n Australiese bloekom bekend in die suidelike dele van die land. Die bome is die gasheer van krabbelmotte en die larwes van hierdie motte maak hierdie pragtige patrone waaraan die bome hulle naam te danke het. Die botaniese naam van hierdie boom is eucalyptus haemastoma, maar die krabbelmotte hou ook van ander bloekoms, soos die sclerophylla, rossii, racemosa en signata. Die boom het pragtige gedraaide takke en hou van arm, sanderige grond, maar kan in ander omstandighede aanpas. Dit is inheems aan Suidoos-Australië, waar ons was, en word 40-50 m hoog. Hulle hou van direkte sonskyn.

Dus deel ek my foto hier vir Bushboy in besonder, maar ook vir Cee om aan haar uitdaging deel te neem.

Anne, Aletta, Appeltjie, Jez en al die ander wat daarvan hou om bome of die bas van bome af te neem, sal dalk ook daarvan hou. Ek het die foto’s by Lake Boomanjin op Fraser eiland geneem. Die bas is ‘n tipe van beige kleur met skakerings van room daarin. En dan lyk die krabbelpatroontjies roesbruin – mooi genoeg vir ‘n foto teen die muur.

En hier is ‘n boomklimmer reptiel teen ‘n stam. Ek het aanvanklik gedink dat hulle naels die merke maak. Seker maar omdatr daar so min merke op hierdie boom is, en dit by sy naels is.

Ek het die foto’s met my Pentax K20D kamera geneem, met ‘n teleskopiese lens – myne trek nader tot 250 meter. Hier deel ek net skermfoto’s van my foto’s, die foto’s gebruik te veel data.

Ek was verkeerd, die bome in Kazakhstan waarvan ek ook gereeld foto’s van die bas geneem het, is nie scribbly’s nie, hulle stam lyk so.

En nou gaan ek moet vra of iemand weet watter soort bome hulle is. As ek moet raai, is dit ‘n tipe van populier, waarskynlik trilpopulier. Want die wind maak musiek in die bome wanneer dit waai.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

24 gedagtes oor “Krabbelbloekoms se pragtige stamme

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.