Gepubliseer in Joernaal

Om ‘n bestuurslisensie in Suid-Afrika te hernu is tans ‘n maklike proses

Goed, laat ek eers so begin vertel. Ons het verlede jaar in Junie kar gekoop. En in Qazaqstan het elke kar sy eie identiteitskaart. Amper iets soos ‘n bestuurslisensie. Met al die bestuurders se inligting daarop. Asook versekering, wat vereis dat al die bestuurders se inligting aangebring word. Slegs die persone mag die kar bestuur.

Toe ons my wou opsit, moes ons hoor dat my bestuurslisensie al in April verval het. Ons het in Maart na Qazaqstan getrek en karloos was geen lisensie nodig nie.

Om die lisensie te hernu, het mens geduld en tyd nodig. Tyd was nie aan ons kant nie. Hier het ek nie nodig om te bestuur nie. Ons loop mos oral heen. Maak nie saak hoe erg die weer is nie.

In Julie het ons huis toe gegaan. Om uit die huis te trek. In een week. Dus was daar nie tyd vir lisensies nie.

In November het ons vir een week na Suid-Afrika gegaan. Ek het manlief op besigheidsbesoek vergesel. In Gauteng moet mens aanlyn aansoek doen om jou lisensie te hernu. En die beskikbare plekke word vir die volgende week geadverteer. Dus kon ek nie my lisensie hernu nie. Mens kan wel instap as jou lisensie verval het, maar sommige stasies laat dit nie toe nie.

In Desember is ons weer Suid-Afrika toe. En die keer het ons besluit om by Roodepoort in te stap. Die dag na nuwejaarsdag.

Daar was geen mense wat gehelp moes word nie. Die vrou agter die toonbank het egter lui opgestaan, ongeskik gevra of ons ‘n afspraak het en geweier om ons te help. Want ons moet aanlyn bespreek. Ek het vir haar gese dat daar elke dag geen spasies geadverteer word nie. En sy het gese ek jok. Ek moet aanlyn aansoek doen, of die Maandag na Krugersdorp gaan. Hulle neem instapaansoeke, nie Roodepoort nie.

Dus speel Roodepoort se lisensieafdeling die kaarte mooi om te sit en niks doen nie. Hulle adverteer nie spasies nie, al staan daar op die natis-webblad dat hulle elke dag spasies adverteer. Elke dag as ek kyk is daar nul spasies beskikbaar. Nul. Hulle neem ook nie instapaansoeke nie. Dus het hulle baie tyd om niks te sit en doen nie.

De vieste in ry ons daar weg. En besluit ek om so op die Woensdag te kyk of ons nie by Centurion kan regkom nie. Gelukkig was die lisensiekantore tussen kersfees en nuwe jaar toe. En is daar op die Woensdag nuwe oop spasies beskikbaar gestel. So bespreek ek toe my en manlief se hernuwing van ons lisensies. So een na die ander, vir die volgende Dinsdagoggend.

Wat ‘n absolute vreugde om met Centurion te werk! Ek kan dit aanbeveel.

‘n Beampte staan by die hekkie en laat die mense op bankies buite die hekke sit, met genoeg skaduwee vir almal. Sy kom seker maak dat almal al die nodige dokumente by hulle het. Ons moes gou uitry om afskrifte van ons ID-dokumente te maak. Die foto’s was geneem. En so is ons baie moeite binne gespaar.

Ons groep, wie se afsprake tussen 9 en 9:30 was, is ingeroep, vorms is gegee en ons name is afgemerk. Ons het op stoele voor ses kantoortjies gesit, waarvan net twee beman was. Die twee mense het egter vinnig en effektief gewerk. Nog voor jy vies kon raak, is next geroep en die volgende persoon is gehelp.

Ek het my oogtoets by my oogarts laat doen, dus het ek net nodig gehad om vingerafdrukke te doen en die handtekening elektronies te teken. Die instruksie is gegee en ‘n foto is geneem. En toe is ek aangese om na kassier 9-11 te gaan om te betaal. Daar sit en wag jy weer op stoele tot dit jou beurt is om te betaal. Die ry is egter nie lank nie.

Ek moes wel vir die beampte se dat ek ‘n tydelike lisensie ook nodig het. En toe raas sy met my omdat ek dit nie in die eerste plek gese het nie. Sy het nie met my gepraat nie, net haar hand uitgehou om die vorm te vat. Op die vorm is duidelik in Afrikaans en Engels regmerkies gemaak dat ek beide my lisensie en ‘n tydelike een nodig het. Die tydelike een is nodig omdat my lisensie ses weke sou neem om uitgereik te word. En ek het ‘n lisensie nodig.

Manlief s’n het net so vinnig gegaan en toe ek weer sien, is ons binne ‘n uur deur die hele proses. Ek kan hierdie effektiewe dienstasie aanbeveel.

En ja, ek kan die Suid-Afrikaanse aanlynbesprekingstelsel aanbeveel. Dit is beslis die beste diens wat ek nog ooit gekry het terwyl ek aansoek vir die hernuwing van ‘n lisensie gedoen het.

As jy nie aanlyn bespreek het nie, kan hulle jou in die ry buite die kantore laat wag. Tot vyfuur die middag, so verstaan ek. Die aanlynbesprekingstelsel is egter so maklik dat mens dit beslis moet gebruik om ongerief te vermy.

Die skakel is beskikbaar by https://online.natis.gov.za. Ek weet nie of ander provinsies so op die ball soos Gauteng is nie, dus kan ek nie oor hulle stelsels praat nie.

Onthou net asseblief dat Centurion die beskikbare plekke Maandae om en by agt uur adverteer. Vir die volgende week. Mens moet dus betyds beplan. Om nie te sukkel nie.

Foto: Ons taxi bestuurder se motor in Almaty vanaf lughawe na ons nuwe tuiste in Almaty.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Om ‘n bestuurslisensie in Suid-Afrika te hernu is tans ‘n maklike proses

  1. Hier in die Kaap was dit Gallows Hill in Groenpunt waar dit instap is en alles seepglad verloop. My lisensie was ook kort daarna gereed. Stad Kaapstad funksioneer soms baie reg!

    Like

  2. Goeie raad. Dankie. Mens sien altyd so op teen die gesukkel. 💙

    On Tue, 07 Jul 2020, 06:01 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Goed, laat ek eers so begin vertel. Ons > het verlede jaar in Junie kar gekoop. En in Qazaqstan het elke kar sy eie > identiteitskaart. Amper iets soos ‘n bestuurslisensie. Met al die > bestuurders se inligting daarop. Asook versekering, wat vereis dat al die ” >

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.