Gepubliseer in Reisjoernaal

Siriliese alfabet se ware vriende is allesbehalwe vriende …

Ek het, toe ons Qazaqstan toe getrek het, baie opgewonde besluit dat ek Russies gaan leer praat. Daai opgewondenheid het sommer binne die eerste twee maande soos mis voor die son verdwyn. Tans is dit ‘n langsame proses.

Want, so wraggies, mens moet jou kinders vreeslik wil straf as jy hulle so deurmekaar wil maak. Wat die juffrou in my laat wonder, hoe lyk die arme kinders se spelling? As ‘n a en ‘n o kan maak wat hulle wil?

Sommer in die eerste les is ons aan die alfabet voorgestel, of nee wag, dit het twee lesse gevat. Want sien, die eerste hindernis om hierdie vreemde taal onder die knie te kry, is die alfabet self.

Die Siriliese alfabet het uit die Glagolitiese alfabet ontwikkel. St. Cyril, ‘n Bisantynse geestelike, en sy broer Metodikus. het die Glagolitiese alfabet in die 9de eeu ontwikkel om Griekse Bybelse tekste in Slawies te vertaal.

Waarom ‘n priester en sy broer besluit het dat hulle die regte mense is om die alfabet te ontwikkel, weet ek nie. Dominees ken van Hebreus. Onverstaanbaar vir ons gewone mense. Na my mening kon ‘n onderwyser die taak beter verrig.

Ons verstaan hoe kinders leer en sou hulle nie so deurmekaar gemaak het nie.

O gaats en nou gaan ek moet gaan opsoek. Wanneer het die onderwys begin? Voorheen was dit mos die taak van die geestelikes? Dalk was dit toe nog deel van die kerk se werk?

Al wat ek weet is dat almal verbaas is om te hoor dat Methodikus, wat met die ontwikkeling van die alfabet gehelp het, se naam nie aan die alfabet gekoppel is nie. Ek nie. Methodikus se naam laat my aan ‘n onderwyser dink. Doen goed volgens metodes. En ek dink hy het nie saamgestem nie. Daarom wou hy nie sy naam daaraan koppel nie. Ek spot sommer so tong in die kies, so laat ek verduidelik.

Die Siriliese alfabet kan in vier groepe ingedeel word. Die vriende, wat kastig soos ons s’n lyk en klink, die valse vriende, wat soos ons s’n lyk, maar anders klink, die vreemdelinge, wat anders lyk en klink en die twee onuitgesprokenes, die silent partners in crime.

Ek gaan vandag net oor die true friends gesels, dié letters waarmee hulle ons probeer mak maak omdat dit bekend lyk, en volgens hulle ook bekend klink, naamlik:

Аа (a), Оо (o), Кк (k), Мм (m), Тт (t).

Let daarop dat al hierdie lekkers soos in Afrikaans uitgespreek word. Die o en a word net langer getrek. Daar is darem een genade, hoof- en kleinletters lyk presies dieselfde, die een is net groter as die ander een.

Dus leer mens net een stel gedrukte letters aan. Lopende skrif, wat ek nie nou gaan verduidelik nie, is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur, want dit verg kophou soos ‘n weeluis op ‘n bos hare! Nie net verskil sommige hoof- en kleinletters drasties nie, ‘n m is ook ‘n t!

Hmmmm-mmmm, ek sê mos dit is ‘n kopseer. G’n wonder die Qazaqs op straat lyk so nors nie, mens kan nooit rus met die taal nie. Daar is ses vorms vir selfstandige naamwoorde. En dan moet jy nog weet op watter deel van die woord die klem is om dit reg uit te spreek!

Jy word vertel dat Russies anders as Engels is, elke letter verteenwoordig slegs een klank. Hulle glimlag en gebruik die Engelse X in die woord xerox wat as ‘n zee of ‘n ks uitgespreek kan word. Die x is een van die valse vriende want dit lyk soos ons x maar word as ‘n g uitgespreek!

Maar moet jou nie laat flous nie, ‘n paar van die vokale gedra hulle soos die soort vriende wat mens nie nodig het nie.

Kom ek verduidelik die misleidende a en o wat uitgespreek word asof mens dronk is. Dalk is aan die slaap ‘n beter beskrywing, die Qazaqs is nie haastige mense nie.

Die a word as ah uitgespreek, nie die soort ah wat mens vir die tandarts sê nie, ‘n lang, sagte een. Maklik nê? Hoe spreek mens dan die twee volgende enkellettergrepige woorde uit?

Мат en мать (ignoreer die ь, dit sê net dat die vorige letter hard uitgespreek moet word en het geen klank nie, dit is een van die twee partners in crime).

Help nie om bekendheid te voel nie, dit is nie ‘n vloerbedekking nie en die woord moet mooi uitgespreek word om mense te laat verstaan jy praat van jou ma (мат -maht) en nie van ‘n vloekwoord nie (мать – mat). Laasgenoemde klank is nie lank nie, maar wel kort soos in die Afrikaanse mat. Omdat die t hard uitgespreek moet word.

Maklik om te lees en uit te spreek? Toe nie. In meerlettergrepige woorde word die a slegs as ah uitgespreek as dit die klem dra. In alle ander gevalle is dit uh. Klink dit miskien soos a of ah?

O ja, en hoe de ongeluk moet mense wat die taal aanleer weet watter lettergreep die klem dra? Daarvoor het mens ‘n woordeboek nodig, dit is in italics aangedui. Dus kan die enigste a in ‘n meerlettergrepige woord as ‘n u uitgespreek word.

Wat maak dat mens nie meer sonder meer voor ander ‘n woord uitspreek wat jy lees nie, jy kan onverstaanbaar verkeerd wees. Die woord in die foto beteken uitverkoping.

Ek kan, as ek nie te vies is nie, hulle jammer kry en sê dit is OK, want die Russe het nie ‘n u nie, dus moet die a maar altwee rolle vertolk.

Maar dan loop ek die kastige vriend o raak.

Die o word soos die Afrikaanse ôh uitgespreek, net bietjie langer, amper soos die ôôôôôhhhh wat mens sal sê om aan te dui dat jy verstaan. Maar ek verstaan nie!

In enkellettergrepige woorde is die o ‘n lang ô, maar, jy het reg geraai, dit kan iets anders in ‘n meerlettergrepige woord wees. Wat? Jy sal nooi raai nie! ‘n A! Daardie selfde klank wat nie kan besluit of hy ‘n a of ‘n u is nie, staan vir elke onbeklemtoonde o in!

Waarom sou mens so iets doen, as jy ‘n a het?

My man gebruik die woord хорошо baie. Dit beteken goed. En, as jy weet dat die laaste lettergreep die klem dra, kan jy dit reg uitspreek: garashô!

Kan jy die valse vriende en die vreemdelinge in die woord хорошо nou herken en reg uitspreek? Mooi! Ek sal in ‘n opvolgartikel oor hulle gesels.

Ek leer nog, daarom sluit ek met garashô af, maar ek jok. Dit is nie goed nie, ek verstaan nie. As ek ‘n woord soos garashô hoor, kan ek nie spel soos ek hoor nie en ook nie in ‘n woordeboek gaan soek nie. Want dit word nie харашо gespel nie.

Tyd sal leer of hierdie taal gepraat gaan word, of net in enkele woorde gebruik gaan word. Sodra jy sinne praat, kan jy nie praat sonder om te dink nie.

Tans verstaan hulle my handgebare darem …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Siriliese alfabet se ware vriende is allesbehalwe vriende …

  1. I had a good laugh reading this.
    Why are some of the words with an O pronounced as an A? Who knows!?! And how do you know when to pronounce it as an O and when to pronounce it with an A?

    Not to mention that if you pronounce anything even slightly wrong, they will make as if they have noooooo idea what you are saying. Go figure…

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.