Gepubliseer in Reisjoernaal

So, waar is Qazaqstan?

Toe manlief die e-pos kry om te oorweeg om ‘n werk in Qazaqstan te kom doen, het ons dom gevoel. Waar is dit? Ons was nie die enigste nie. Almal wou weet waar dit is toe ons sê ons gaan vir drie jaar hierheen emigreer.

Vir my was dit erg dat ek nie geweet het nie, ek het tog Geografie 3 en ‘n onderskeiding vir Aardrykskunde op skool behaal. Daar is egter ‘n goeie rede waarom dié land onbekend is.

Kazakhstan, wat sy naam onlangs na Qazaqstan verander het, was tot Desember 1991 deel van die Soviet Unie, wat in my skool- en universiteitsjare agter ‘n ystergordyn weggesteek was.

Qazaqstan het eers bykans 30 jaar gelede weggebreek en was die laaste land wat van die groter Soviet Unie weggebreek het om op sy eie as republiek geregeer te word. Sy eerste president, Nur-Sultan Nazarbayev, het vanaf 24 April 1991 tot 20 Maart 2019 regeer. Hy het in Maart 2019 bedank, skaars nadat ons in Qazaqstan kom woon het.

Foto: Wikipedia. Dit beteken dat hy 28 jaar lank in beheer was! Ons was darem nie die oorsaak daarvoor nie.

‘n Tydelike president, Kassym-Jomart Tokayev, het op 20 Maart 2019 oorgeneem.

Foto Wikipedia. Die Kazakhs gaan oor twee dae, naamlik op 7 Junie 2019, na die stembusse om hulle regering vir die volgende paar jaar te kies. Ek vermoed dat hy in die posisie gaan aanbly. Soos ek verstaan, is die Kazakhs vir eers op ekonomiese ontwikkeling ingestel.

Nogal interessant om hier te wees want daar is geen plakkate op die lamppale nie. Ons kry slegs hierdie klein uitdeelstukke om ons daaraan te herinner dat hier gestem gaan word. Dit word ook op die kennisgewingbord onder in ons woonstel aangebring.

Qazaqstan is die negende grootste land in die wêreld, met ‘n baie klein bevolking wat hierdie groot stuk aarde bewoon. Tans word Kazakh-afstammelinge wat in die oorlogsjare land uit gevlug het met hervestigingsprogramme na die land teruggelok. Hulle kry byvoorbeeld hulp met behuising en afslag op plekke om hier ‘n lewe te kan maak.

Tans word Qazaqstan beskou as die een land in die wêreld wat nog nie voldoende ontdek is nie, wat toerisme betref. Daarom het ek so bietjie gaan navors om self meer van hierdie land te weet.

Die dag toe ons by die ambasade in Pretoria gestop het om visums te kry, het ek op Qazaqstan se vlag verlief geraak. Vir my is dit maklik die mooiste vlag in die wêreld.

Foto advantours. Die blou of seeblou trek aandag van ver af. Ek hou van die fyn kantwerk aan die linkerkant, dit word in traliewerk in strate in Almaty, die voormalige hoofstad herhaal. Die son en Arend is ook baie mooi, ek is lief vir arende.

My eie webwerf vir onderwysers en sy toep, Arend Onderwysers het ‘n arend as embleem. Die wapen of embleem van die land is ook indrukwekkend mooi.

Foto wikipedia. En dié embleem word met trots oral uitgestal, soos aan die bokant van die monument op die berg buite Öskemen, met sy Hollywoodagtige Kazakhstan bord teen die hang van die berg.

Qazaqstan kan beskou word as ‘n armerige land, sy geldeenheid (tenge) ruil teen ongeveer R26 en $384.81. Die ekonomie van die land is aan die blom nadat olie in die Kaspiese See, aan die suidwestelike kus ontdek is.

Ek gebruik die woord kus, maar Qazaqstan is ‘n binnelandse land, dit grens aan geen oseaan nie, wel aan die Kaspiese see.

Die Kaspiese see is die wêreld se grootste binnelandse watermassa en is so groot soos Japan. Hierdie see was onlangs in die nuus oor die ontdekking van olie, maar veral oor ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die lande wat aan hierdie see grens in verband met die ontginning van die olie.

Qazaqstan se bure word in die volgende kaart aangedui.

Aan die noordelike kant grens Qazaqstan aan Rusland en aan die oostelike kant aan Sjina. Aan die westelike kant grens die land aan die Kaspiese see en aan die suidelike kant lê ander voormalige Soviet Unies, naamlik Kyrgyzstan, Uzbekistan, en Turkmenistan. Hierdie baie groot land is in 14 provinsies ingedeel.

Ons woon in die Oostelike Provinsie, wat in die noordoostelike hoek van Qazaqstan aangetref word.

Dit is interessant dat 4 van die stede, naamlik die grootste stad en voormalige hoofstad Almaty, die nuwe hoofstad Nur-Sultan (so pas herdoop vanaf Astana na die naam van die eerste president van die land), Baikonur en Shymkent op hul eie staan en nie deel van hulle omringende provinsies vorm nie. Ek sal moet uitvind waarom.

Die naamsverandering van Astana was blykbaar lankal nodig. Astana beteken in Kazakh hoofstad, dus was die naam van die hoofstad Hoofstad! Ek kan verstaan dat dit nie goed afgegaan het nie.

Ek sal dan met verloop van tyd nog inskrywings maak soos wat ek hierdie mooi land ontdek. Indien moontlik, gaan ek die plekke wat ek ontdek besoek en beskryf.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “So, waar is Qazaqstan?

          1. Wys jou net hoe min weet ek van daardie area…..ek het nou op WIkipedia gaan lees…dis eintlik n fassinerende plek….nog totaal ongeskonde eintlik as mens vat hoe die wêreld “groei”

            Like

  1. Ek moet bieg dat ek gaan googleloer het toe Kazakhstan skielik op my blog statistieke verskyn het 😀 My eerste gedagte was dat dit die land van die Cossacks is, maar hulle is in Ukraïne. Die manne se gelaatstrekke is definitief Asiaties, maar ek verstaan daar is twee groot etniese groepe (Russe en Kazakhs), asook kleiner groepies.

    Liked by 1 person

  2. Dis baie lekker om te lees na jou vertellings omtrent hierdie mooi land. Ek en Ma geniet dit baie. Dankie dat jy alles deel. 😀

    Like

      1. O jaaa, ons sal beslis nie die kinders vergeet het nie hoor. Sommer tjoef-tjaf gaan ons deur die teleport masjien en dan tjoef-tjaf by jou in Rusland! Dit kan net lekker gewees het! Laat ons wonder waar is daai slim mense wat daai teleport masjien moet maak. Dit sal soveel minder moeite wees. 😀 😁😘

        Liked by 1 person

  3. Mens lees nogal daarvan as jy die spoor vat van mense wat uit die gevreesde strafkampe ontsnap en dan daarlangs gevlug het Weste toe.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.