Gepubliseer in Joernaal

Reënjassie vir waentjie ala Kazakhstan

In Kazahstan stap die mense oralheen. En daar bly die kinders nie in ongure weer by die huis nie, daar is daar mos oplossings daarvoor.

So kom ons terug huis toe in Oktober 2020, nadat ons weens inperkings vir sewe maande nie huis toe kon kom nie. Sjoe, dit is amper vir ‘n hele jaar! Voel steeds soos ‘n leeftyd. Maar, dit voel ook ‘n leeftyd gelede.

Het ek regtig 18 maande in Kazakhstan gewoon?

Hier aangekom het ons ‘n rukkie in Kathu en Kuruman gewoon voordat ons teruggekom het stad toe. Dit voel ook soos ‘n leeftyd gelede.

En hier het ek begin om kleinseun bedags op te pas. Eers ‘n paar ure voordat hy slaap, toe word slaap ingesluit en sedertdien bly hy drie dae per week by my. Van voordat pappa en/of mamma werk toe gaan (so 7h30) tot hulle van die werk af kom (so 18h00).

Iewers aan die begin van die jaar onthou ek die reënjassies wat hulle in Kazakhstan oor die waentjies trek voor hulle die strate invaar. Ek was Daar skyn die son die een oomblik en die volgende reēn jy sopnat. Of sneeu dit en kan jy nie met baba huis toe gaan nie.

En toe begin die soektog hier in Suid-Afrika, maar ek kry dit nie.

Op ‘n dag soek ek op Amazon, want dit sou te duur wees om dit van Kazakhstan af te bestel.

En daar kan ek toe kies en keur.

Ek het dadelik bestel, maar toe gaan daar fout met die aflewering en twee maande later is dit steeds nie by my nie.

Toe ek Amazon oor die probleem kontak, troos hulle met nuwe bestelling wat by my afgelewer sou word. Indien die eerste bestelling ook afgelewer word, kon ek dit hou.

Dit het toe heelwat later wel by my uitgekom, dus het ek nou twee stelle, een by seun en een by my.

Dit het so lank geneem dat dit winter was toe ek dit uiteindelik kry en hier reën dit nie in die winter nie.

En toe begin dit reën, maar nie op die dae wat kleinseuntjie by my bly nie.

Vanoggend sous dit en ek weet net een ding. Vandag gaan ek en kleinseun die reënjassie toets.

So trek ek my Kazakstan jas aan, die ligblou ene waarvoor ek so lief was. En ja, my pa is reg, ‘n jas kan mens nie warm maak nie. Ek vergaan nie van die hitte nie en die wind en water bly weg van my lyf af. Tog het hierdie einste jas my veilig gehou toe dit minus 38 grade Celsius in Kazakhstan geword het.

Is die jassie nie alte oulik nie?

Kleinseun het so gekyk vir die water wat teen die plasties val, sy melkskommel gedrink wat ouma gemaak het. En toe oorval die slapies hom. Dus moes ouma sonder geselskap die laaste 15 minute stap …

Suid-Afrikaanse winkels weet nog nie daarvan nie …

En nee, ek verlang nie na Kazakhstan nie, ek bring net die goeie na my toe …

Soos die reēnjassie.

En ander maniere om tee te maak.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Reënjassie vir waentjie ala Kazakhstan

  1. My kinders het ook so n jassie gehad vir die tweeling se waentjie in Holland. Jy zip hom letterlik toe, en siedaar: babatjie is warm en droog in die onguurste weer. So is ons die hele Keukenhof deur.

    Liked by 1 person

    1. En hier in Suid-Afrika is daar nie so iets nie! Hoe vreemd is dit nie? Of nee wag, ons ry mos eerder in ons karre as om te stap. Om verskeie redes, waarvan veiligheid ook ene is. Dankie vir die saamgesels.

      Like

  2. So bly om weer te lees oor jou doen en late. Ek het daardie jassies in Skotland ook gesien….daar was selfs mense wat ‘n spesiale honde stootwaentjie het wat ook so jassie gehad het. Ek dink dis omdat ons nie soveel van openbare vervoer gebruik maak dat dit nie gewild is nie. Hier rots ons mos van mall na mall en parkeer onderdak. Maar dis briljant!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.