Gepubliseer in Joernaal

Dusty kry winterwiele in Qazaqstan

Ek het geskryf dat ek meer oor die koop van die winterbande gaan vertel. Ook dat dit teen 22 Oktober gaan sneeu. Nuutste voorspelling is dat dit reeds dié Vrydag gaan sneeu. 18 Oktober 2019. So wie is reg?

Ons winterbande is dus betyds op. Hier kom die vertelling.

Almal wil graag weet wat winterbande is. My sus in Australië vra vanoggend toe ek die foto van Dusty se nuwe bande stuur of mens die kettings daaraan vasmaak.

Ek dog ek lag my slap, want sien, ek het al vergeet dat daai ook ‘n moontlikheid is. Kettings oor die band om op sneeu te kan ry.

Jô, dit lyk wild! Ons was darem in Januarie hier toe dit -40 was. En toe het hulle nie hiermee om die bande rondgery nie. Net met die spykers, dus dink ek nie ons gaan daai kontrêpsies nodig kry nie.

Maar ma! Sal Dusty tog nie alte oulik lyk met hierdie ysters om die bande nie? Biker Dusty?

Ons gaan beslis nie in die boendoes in die los sneeu rondry nie. Maar nou wonder ek of dit ook in Qazaqstan ‘n moontlikheid is?

Ek vertel van ons aankoop van vanoggend. Die bande sommer met rims gekoop, want oor ses maande moet dit af. En dan kan manlief dit sommer self doen. In ons garage wat daarvoor ook ingerig is.

Die koopproses was makliker as wanneer ons alleen gaan. Manlief se tolk was saam. Hy het gepraat, die verkoopsman het geantwoord en toe is ons gevat om te kies.

Wil ons hierdie een hê? Of daardie een? Hoe moet ons weet? Hulle moet maar verduidelik.

So wraggies? Hulle het ook aan alles gedink. Patroontjies op die band se vlak. Om die sneeu af te weer. Is dit nie oulik nie?

Spykers of studs in die band, om die band op die pad te hou. Klink vreeslik as jou ruit af is. Jy weet, daai klank wat mens hoor wanneer rugbyspan uit die kleedkamers kom. Grrrts, grttssss sover soos ons ry. Die dieper patroontjies is om die water van die band te laat wegvloei. En o ja, die spykers se patrone op die band moenie simmetries wees nie, dit moet assimmetries wees!

Hierdie soort was vir my alte mooi, dubbeld die prys van Dusty se nuwe skoeisels.

Dus het ons op ‘n goedkoper maak besluit. Sy lyk alte oulik met die nuwe skoentjies aan, hare is op die eerste foto van hierdie blog te besigtig.

Dusty se kattebak was net mooi groot genoeg om haar somersbande self terug te neem garage toe, mits hulle regop staan. En daarvoor het ons vier massiewe plastieksakke gekry. Teen ‘n prys natuurlik, mens koop jou plastieksakke hier. Al is dit by sommige plekke verniet.

Die winterbande moet op wees wanneer die temperatuur -7 bly. Wat teen volgende week gaan gebeur. En so twee weke gelede reeds was. Net om ons daaraan te herinner om bande om te ruil.

Kan nie in die somer op wees nie, die bande is blykbaar sagter as somerbande en verniel as dit warmer is.

Ons is van die eerstes wat winterbande opgesit het. Voel so bietjie skaapagtig. Asof ons oorversigtig is. Maar darem goed blykbaar. Dat ons die bande inry voor die sneeu oor tien dae begin val. Haar spykers lyk so.

Ek het aanvanklik so uitgesien na hierdie tyd van die jaar.

Toe leen ek my ore uit aan iemand wat niks goeds van die land of st winter kan sê nie.

En toe ek weer sien, is ek swart in die hart as ek aan die winter dink. Dan doen mens maar wat jy moet. Om die liggies weer aan te skakel. Nou is die liggies weer aan, ek sien uit na die sneeu!

Daar is nog ‘n rede waarom ek nie meer na die wit landskap uitsien nie. Maar daai is ‘n storie vir ‘n blog op sy eie. Sal nog vertel. Gee net kans.

Hoop jy het saam iets nuuts geleer.

Volgens my sus vat dit 1000 dae om in ‘n nuwe land aan te pas. Ons twee doen goed. Ons is aangepas vir die lente, somer en herfs. Dusty ook. Saam kan ons die land vir ons mak maak. Anders gaan ons al pak om terug te gaan en steeds wag om aan te pas

Foto-krediet en meer inligting is beskikbaar by hierdie skakel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Dusty kry winterwiele in Qazaqstan

  1. Op ‘n dag glip my twee ton Duitse direkteurskoets onder my uit by Glen Reenen. Darem net 40km/gery. Daai sterretjie op die neus is oral en ons ry motor asof dit Ratanga Junction is. Die ou Koets reageer nie op teenstuur en slim rywerk nie. Toe stop hy vanself en die kinders gil: “Pappa, doen dit wéér!! Dit was lekkerrrr!!”

    Die arme bloedjies wis nie van my skriksekondes nie. Ons weet nie van black ice nie. Ons weet nie eens van ys nie. Tog het ‘n herder gepraat van ys wat smelt. In die Noordweste.

    Julle moet die ervaring met al julle sintuie indrink. Is eiergele geel of wit daar by julle?

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.