Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Breezometer … vuil lug rede vir siek voel?

Vandat ons Centurion toe getrek het, sukkel ek sommige dae met toe neus, benoude bors en ‘n algehele gevoel van baie siek wees. Word ek snags wakker daarvan.

En skielik, asof ek piep gehad het, kan ek die volgende dag gemaklik asem haal en voel ek sommer baie goed. Geen griep of verkoue nie.

Die rede waarom ek begin wonder het of vuil lug dalk die rede is, is omdat ons eerste meenthuis hier vol swart stof was. Taai swart stof wat ek elke liewe dag moes skoonmaak. En toe wil ek weet of dit my siek kan maak …

Aangesien dit wel kon, het ek twee masjiene gekoop wat die lug die hele dag suiwer en ons neuse was beter, die gevoel van siek wees ook.

Maar, ek het nie presies geweet hoe vuil die lug is nie. Dit was maar ‘n geval van probeer en troffen.

Ons nuwe meenthuis het nie sulke swart stof nie, maar vandat dit winter is, voel ek sommige dae hondsiek as ek in die oggende opstaan. Die lugskoonmaakmasjien was weggepak, want hier is geen swart stof nie.

Die masjien is uitgepak en aangeskakel, maar toe wil my Aardrykskundige brein die gehalte van die lug meet. Dus soek ek die een oggend na meters om luggehalte te toets. En moet ek ontdek dat dit bo my vuurmaakplek kos.

Aangesien ek toeps toets, besluit ek toe om een te soek wat kan help. Ek is mos gek oor toeps, toets en hou dit as dit werk, verwyder van my foon as dit nie werk nie. Of my privaatheid vir eie gewin binnedring en my besonderhede aan adverteerders verkoop.

Die eerste een wat ek toe aflaai, werk perfek.

Breezometer

Breezometer neem data uit verskillende oorde en selfs van sateliete af. Kan vir my wys dat daar veldbrande naby my is. Hoe vuil die lug is en of dit ‘n senstiewe siel soos ek siek kan maak (terloops, ek spot lekker hier, ek dog almal word siek van vuil lug).

Skuus vir almal wat heerlik voor hulle kaggels sit, ek versmoor in die lug van al die warmmaakmetodes om ons. En ek verstaan Witbank stuur sy vrot lug ook om oor ons te kom hang. En Vanderbijlpark. En Sasolburg.

As ek nou siek opstaan, die vrot lug ruik, dan kyk ek op die toep en word my vermoede bevestig.

Die luggehalte is soms 84/500 wat volgens Amerikaanse standaarde nie te sleg vir my behoort te wees nie. Wanneer dit oor 120/500 gaan, voel ek regtig baie goor. En vanoggend staan ek met ‘n hoofpyn op wat nie wil wyk nie. 179 is baie erg, en dit was al 199 toe ons twee weke gelede by die rivier was en dit so koud was. Gelukkig was dit daar in die groen, so ek weet nie hoe 199/500 voel nie. Net genade!

Engeland meet dit uit 10 en vandag is dit 10 uit 10, dus ergste wat kan wees! Mens kan bo links kies watter land se standaard jy wil sien. Ek kies maar vir Amerika, want 10/10 klink baie erger as 179/500 as mens siek voel.

Maar, nou weet ek!

Ek is nie besig om griep te kry nie. Daar is ‘n eenvoudige, oplosssing om beter te voel. Ek het rede om siek te voel en ek kan iets daaraan doen sonder om medisyne te drink. En dit gee my beheer oor my gesondheid.

Ek moenie buite gaan stap nie, die lug is te vuil. En ek moet sorg dat die lug in die huis skoon kom.

Toe gaan koop ons maar ‘n tweede masjien, een wat dag en nag in die TV-kamer staan en lug skoonmaak. Groter, maar hy hardloop 24/7/365. Hy kan ook op outomaties gestel word.

Ek kan die gmc aircon aanbeveel. Dit is ‘n groterige, mooi masjien en hy kan meer doen, soos om die lug te suiwer om reuke uit te haal.

Die Solenco is ook goed. Die laaste een, die ronde een, doen nie veel nie, maar moet ook die hele dag loop dat ek asem kan kry.

Nou die dag toets ek die lugskoonmaak funksie nadat die huishulp (ek het sowaar een een dag per week …) Mr Min spuit nadat ek vir haar verduidelik het ek kan dit nie verdra nie. Toe gee ek die twee bottels vir haar, sy kan in haar huis gaan gebruik. Nie in myne nie.

En skakel die filtreerder aan om binne sekondes skoner lug te ruik. Dit is beslis die geld werd.

Want die een in die kamer word afgesit – manlief kan nie met die “geraas” slaap nie. En ek lag maar net, want baklei gaan nie help nie. Hy snork baie, baie harder as wat die masjien “lawaai”. en hy moet soggend seker maak dat die masjien weer op volspoed is.

Ek stel die masjiene bedags op volsterkte aan dat die lug in die huis beter is en ek nie snags met ‘n baie benoude bors opstaan nie.

Ek wonder of ander mense nie ook dink hulle is baie siek as hulle iets daaraan kan doen nie.

Daarom deel ek die inligting sommer hier met almal. Dalk is jou siek wees nie griep, verkoue, Covid of piep nie. Dalk is jy soos ekke en maak vuil lug jou regtig siek.

Ek sien die toep wys sommige dae dat die lug te sleg is vir sensitiewe mense.

Wel, ek kan seker nie help om sensitief te wees nie.

Ek het op die groen heuwels van Ermelo grootgeword, op ‘n plaas. Skoon lug was deel van my daaglikse brood en botter.

Hier sukkel ek.

Die winter is darem aan die afdraende kant, die dae is warmer en mense gebruik minder kaggels en vure. En naweke kan ek vlug, uit die stad uit, die platteland in.

Ek gaan die rivierhuis mis …

Laai gerus af en kyk of die stad se lug jou nie ook sekere dae baie sleg laat voel nie, net om ander dae baie goed te voel. Sonder enige ander simptome as hoofpyn, algemene siek voel, verstopte neus en seer keel.

Lees ook gerus op oor die invloed van besoedelde lug op jou gesondheid, dit het my gehelp om te verstaan dat antibiotika en ander medisyne nie die oplossing is nie – ek moet skoon lug inkry.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

28 gedagtes oor “Breezometer … vuil lug rede vir siek voel?

  1. Dankie vir hierdie inligting, Christa! Ek stem saam met jou. Die vuil lug in Gauteng is op hierdie oomblik ‘n baie lewendige debat in ons huis 😅 Om die waarheid te sê, ons is besig om dit baie sterk te oorweeg om Gauteng te groet en skoner lug iewers te gaan soek. Ek gaan nou dadelik daardie toep aflaai.

    Liked by 2 people

    1. Madeleine, ek is so dankbaar dat ek nou ten minste weet waarom ek sommige dae doodsiek voel en ander dae nie verstaan waarom ek so siek gevoel het nie. Met hierdie inligting in my hand kan ek ten minste die lug skoon maak in die huis. En weet ek om liewer nie buite te bly nie. Dankie vir die saamgesels. Hoe lyk dit by jou? Ek sal graag wil weet. Dit is koue dae baie erg aangesien mense dan kaggels brand en die townships baie vure maak om warm te kry. Ek skat die erg vlak van beurtkrag dra ook daartoe by dat vure gemaak moet word om warm te kry.

      Liked by 1 person

        1. Ek is so dankbaar ek kan help om die probleem te sien. As dit so sleg is, moet mens nie buite wees nie en ook vensters en deure toe hou. Ek kan die groot masjie aanbeveel, hy is nie so groot nie en nogal mooi. En mens haal dan makliker asem in die huis.

          Liked by 1 person

  2. Ons is gelukkig dat die lug in ons dorp skoon is – behalwe nou, wanneer dit so koud is, en mense maak vuur in hulle kaggels in die aande – dan raak die rook ‘n bietjie erg.

    Liked by 2 people

  3. Ek hou ook van toeps. Laai en haal af aanmekaar. Hierdie is beslis een wat ek gaan toets, want ek staan ook elke oggend “anders” op. Ek glo nou al ek is vol ipekonders, want ek kom net nie reg nie.

    Liked by 2 people

  4. Kyk na spesifieke plante wat help met dit ook, weet Aloe, Spider Plant, Lavender, Sage, Tulsi, Bamboo palms, Peace lili, Ficus. Sal vir jou op T stuur. Help veral in jou kamer om van hulle te hê.🌻

    Liked by 1 person

      1. Ek sukkel net so, volg ou op Insta met wonderlike raad, hy is baie besig, maar raad werk goed. As jy op IG is kyk vir ceative_explained, naam is Armen Adamjan. En, moenie lag nie, praat met jou plante, glo dit vas, lees Secret life of plants.

        Liked by 1 person

  5. Hi, baie dankie vir die inligting. Ek gaan sommer nou die breezometer toep aflaai. Ek’s seker ons het ook ‘n hengse probleem met vuil lug. Kan ek vra waar jy die GMS Aircon & Solenco gekoop het – dit klink regtig die moeite werd om na so iets te kyk. Lekker dag verder

    Liked by 1 person

  6. Ek het hierdie toep al ‘n tydjie terug afgelaai (toe ons nog in Langebaan was) om die stuifmeel dop te hou (die lente is mooi, maar oe, dis erg vir my hooikoors). Daar is die lug mooi skoon, maar gedurende lente-tyd is dit ‘n nagmerrie om deur die pragtige blomme se stuifmeel te kom! Ek sien hier in Oos-London is die lug ook maar redelik besoedel (maar vreemd genoeg het dit nie regtig ‘n effek op my nie) … as ek so na die toepassing kyk, moet ons almal Tankwa Karoo toe trek (ek was al daar en jy kry nie sommer skoner lug nie) of dalk Noord-Kaap 😉.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.