Gepubliseer in Joernaal

So daar is nie iets soos Afrikaans nie?

Ek lees so rukkie gelede ‘n Facebook inskrywing van ‘n vrou wat dink dat sy iets sinvols kwytgeraak het. Om presies te wees op 1 September 2020.

Volgens haar is daar nie iets soos Afrikaans nie. Regtig?

Daar is skoolgeld om teruggevra te word. As sy die stelling sou kon verstaan …

Afrikaans is nie, soos sy beweer Nederlands nie. Die taal het uit verskeie tale ontwikkel, en is reeds op 8 Mei 1925 as amptelike taal van Suid-Afrika erken. Dit is die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status geniet. En word ook as akademiese taal erken.

Die taal word in lande soos Namibië, Botswana, Die VSA, Nieu-Zeeland, Kanada en Australië gepraat. Volgens die lande se sensus.

Wikipedia

Ons praat hier van 17,5 miljoen mense in Suid-Afrika wat Afrikaans praat. Dit is waarskynlik nou al baie meer.

Afrikaans het volgens 2011 statistiek die derde meeste sprekers in die land het. Ek verbeel my dit is nou meer, maar ek sal die statistiek moet gaan soek. Hier is 2011 statistiek vanaf Wikipedia.

Ek sal bietjie na nuwer statistiek gaan soek. Engels word deur heelwat minder mense gepraat. Slegs 9,6% van die bevolking. Tog word kinders gedwing om Engels op skool te praat en in Engels skool te gaan. Siestog, ek kry die kinders jammer. Afrikaans is soveel makliker om aan te leer.

Dalk moet sy net Google voor sy haar mond oopmaak. Want die stelling hoef ons nie eens te verdedig nie. Enige iets wat hierna uit haar mond kom, sal ook nie geglo kan word nie. Mens kan net jou kop in ongeloof skud. Het sy sowaar deur die Suid-Afrikaanse skolestelsel beweeg?

Goed, ek trek dit terug.

As mens net 30% nodig het om te slaag, is dit seker te verwagte dat sulkse stellings die resultaat sl wees.

Maar, enige selfgerigte leerder sal eers gaan seker maak voor hy of sy sy of haar aan so ‘n belaglike stelling skuldig maak.

Ek heg grafieke aan oor die gebruikers van Afrikaans in Suid-Afrika. Hoef dit net te geGoogle het. Elke Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep praat Afrikaans.

Wikipedia kan in Afrikaans gelees word. Waarom sal ek in Engels gaan lees as die Afrikaanse weergawe van Wikipedia in keurige Afrikaans is? Daar is selfs ‘n inskrywing oor sosiale-netwerk-anlise waarin die persoon wat dit op datum hou, my navorsing ook opgeneem het. Regtig. Ek sal moet help om dit op datum te hou, want ek het al meer daaroor geskryf as wat op die oomblik daar te vind is. Maar haai, wat ‘n lekker verrassing was dit nie om te sien dat my navorsing op Wikipedia is nie.

Ek lees my Google in Afrikaans. Ek lees my gmail instelllings in Afrikaans. Ek maak veranderinge in Afrikaans. Ek stuur boodskappe en kyk in my inkassie en geniet Afrikaans hier in Qazaqstan.

My WordPress webwerf praat met my Afrikaans.

Ek publiseer artikels, kyk na my statistiek, ensovoorts, ensovoorts in Afrikaans op WordPress, wat beslis nie ‘n Suid-Afrikaanse produk is nie.

My Microsoft in in Afrikaans. En ek kan my taal so versorg – in Afrikaans. Ek verander my instellings ook in Afrikaans. As dit nie kon nie, sou ek gehelp het om die taal vir die produk te ontwikkel.

My Facebook is in Afrikaans.

My kerk is in Afrikaans. My dominee gesels met ons in Afrikaans, ek bid in Afrikaans.

Ek lees nuus in Afrikaans, daar is baie Afrikaanse toepassings. Maroela Media. Netwerk 24. Mye eie, gesels.net (ek moet daaraan begin werk …).

Ek kyk na Afrikaanse programme op die TV.

Ek lees my tydskrifte en koerante op ‘n internasionale toep, Magzter, in Afrikaans.

Ek tik Afrikaans in die soekblokkie en dan kry ek almal daar om te lees. In Afrikaans.

My gunsteling sangers sing in Afrikaans.

My artikels waarop ek die trotste is, is in Afrikaans geskryf. Ja, daar is nou twee Engelse hoofstukke, maar dit is bloot vir graderingsdoeleindes geskryf. En om te bewys dat ek ook in Engels kan skryf.

My hartstaal is Afrikaans.

My meesters en doktorale grade is in Afrikaans. Ja, in 2008, toe die universiteite nie Afrikaans wou toelaat nie, het ek daarop aangedring om wel in Afrikaans te skryf. So bygedra tot die uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal. Op my gradeplegtigheid was ek die enigste student wat in Afrikaans aangespreek is. Vandat ek aangekondig is, tot die hou op die kop gegee is, tot ek afgestap het. Ek wou bars van trots.

Daarna wou die ander weet waarom hulle nie in Afrikaans aangespreek is nie. Regtig? Hulle het dan gekies om in Engels te studeer. Ek het nie geweet dat dit so sou wees nie, het aanvaar dat ek in Engels aangespreek sou word. Want die universiteit is mos nou Ingels. Vir my was dit die kersie op die koek – dat ek in Afrikaans aangespreek is. Respek vir my en my taal.

Ja, Afrikaans kry op die oomblik swaar in Suid-Afrika. Maar die taal gaan nie uitsterf nie. Daarvoor is daar te veel mense met ‘n intense liefde vir die taal. Hier en ook oorsee.

En ons is trots op ons taal.

Ons leef in Afrikaans.

In Kazakhstan was dit lekker om Afrikaans te praat, want hulle verstaan in elk geval nie Engels nie.

Sal ek ‘n kursus in Afrikaans begin? In Kazakhstan?

Ek weet van ten minste twee mense wat dadelik sal inskryf …

En toe is ons terug in die land. En is ek besig om ‘n boek te skryf … in Afrikaans. Om nagraadse studente te help.

Terwyl ek hierdie artikel vanoggend uiteindelik klaar skryf, soek ek ‘n foto en kom op ‘n inskrywing van die taalmuseum af. Het julle geweet die Oxford Engelse Woordeboek het Afrikaanse woorde opgeneem? Omdat woorde soos voetstoots reeds sedert die 1800’s in wette opgeneem is.

Kliek gerus hier om te lees watter ander woorde opgeneem is …

My vriendin Anne sal dit geniet, sy het al vertel dat sy Afrikaanse woorde gebruik wat goed net beter sê as Engelse vertalings daarvan.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “So daar is nie iets soos Afrikaans nie?

  1. Die afgelope week is my rugspek goed gebraai op Twitter deur ignoramii wat Afrikaans sien as “a pidgin Creole dialect” en, baie dankie, ek kon jou artikel nou daar plaas sodat mense dit self met Google Translate kan vertaal en hulle van die feite vergewis. Taal is terselfdertyd ook ‘n kultuurmedium.

    Liked by 1 person

  2. Net vandag alleen het ek reeds die skakel na hierdie artikel op Twitter geplaas want daar is te veel swak opgevoedes wat aandring daarop om hulle onkunde in die openbaar te ontbloot. Jou artikel hel[ baie en ek verwys mense ook gereeld na DR Dan Sleigh se lekkerleesboeke. Hy het ook die navorsing vir Daléne Matthee se ‘Pieternella van die Kaap’ gedoen en ek het hom baie vinnig ‘uitgereik.’ Sy styl verklap hom vinnig.

    Liked by 1 person

  3. Viva Afrikaans!
    Miskien nie die platvorm nie, maar ek is besig met n projek rondom Afrikaanse radio dramas/teater draaiboeke.
    Weet jy waar ek op “free pdf printable” draaiboek verhale kan opspoor op die internet? Ekt al gaan soek, maar dis sos skaars soos hoendertande.

    Liked by 1 person

      1. Dankie, sal dit baie waardeer.
        Ja jong… Goeie goed is baie skaars 😃.
        Ek het n breek gevat vanaf skryfwerk en nuwe Afrikaans platvorms gaan ondersoek om my talente op uit te oefen. Die radio drama/teater platvorm trek vreeslik my aandag en in Namibie is daar nie regtig veel vermaak op die oomblik nie.

        Liked by 1 person

          1. Een van my ander talente is my fisiese stembande wat die Hemelse Vader my gegee het. Ek sing ook. So, ek het die gedagte om afrikaanse draaiboeke in die hande te kry wat ek mag gebruik en n paar mense te kry wie se stemme sal pas by elke karakter en dan die draaiboek op te neem met byklanke en als. Ek leer myself die tegnologie ook self te doen, wat baie lekker is.

            Liked by 1 person

  4. Net eers te sien hoe klink en werk so n klank draaiboek. Ek het al begin luister na RSG Archives se draaiboeke op die internet. Dit begin my die idee te gee hoe dit werk en klink. Maar nou soek ek vir die begin eers “printable” draaiboeke.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.