Gepubliseer in Reisjoernaal

As mens jou paspoort nodig het om bier te koop …

Donderdagaand gee ons ons paspoorte vir die HR bestuurderes, ons visums verval amper en ons moet dit opdateer. Dit is belangrik, mens wil nie sonder ‘n visum in ‘n vreemde land wees nie. Ons gaan so week sonder visums wees, dalk selfs langer.

Maar wat maak dit saak? Behalwe vir ‘n paar stoppe deur verkeerspolisie en op lughawens het ons dit nog nooit nodig gehad nie.

Alhoewel my paspoort altyd by my moet wees as ek op straat is. Dit loop egter lekker so in my handsak saam. Geen rede vir uithaal en wys nie.

En so waar, Saterdag het manlief sy paspoort in Metro nodig. So onverwags dat ons die vrou eers nie verstaan nie.

Toe ons by die kassier aankom, kyk sy die waentjie al op ‘n afstand uit. Gewoonlik vra hulle karta? Dan gee jy jou Metro kaart aan. Daarmee kry jy gereeld afslag.

Sy kyk egter vir my en sê: Paasport?

Ek kyk vir manlief, wat nou? Hy verstaan nie, vewag mos nou nie die vraag na een jaar in Qazaqstan nie. Nie as jy kos koop nie. En hy het al baie keer kas bier gekoop, dit is nie nuut nie.

Die soort is wel nuut. Stella Artois.

Klink Frans, is Belgiese maak, hy hou baie daarvan. Uiteindelik so week gelede ‘n bier ontdek waarvan hy hou.

Ek sê sy soek jou paspoort.

Hy verduidelik in Engels dit is ingestuur vir visum. Sy verstaan niks. Weet nie of sy visum sou verstaan nie.

Ek sê wys identiteitsdokument.

Hy wys sy kaart wat sê hy werk vir die spesifieke maatskappy. Ek het ook so een en ek verstaan dat die kaart mens uit baie moeilike situasies kan red as jy nie verstaan wat die mense vra nie. Hulle weet ten minste jy is wettig in die land.

Sy is tevrede en ons kan die bier aankoop. Dit was vandag nogal vreemd. Die hardehout is ewe skielik agter kettings. Ons kon die hele tyd nog alkohol en sigarette koop soos ons wil. Nie dat ons twee een van die twee koop nie, maar ons kon koop as ons wou.

Ons kom Maandag weer uit isolasie na 6 weke. Dit is sommer hoe lank ons ook al in Almaty bly. Jippie, my verjaarsdag is hier en in Suid-Afrika ‘n belangrike datum. Hier het die winkelsentra weer oopgemaak. In Suid-Afrika is ewe dom aangekondig 17 Augustus om 0:00 beweeg die land na vlak 2. Dit is mos eintlik 18 Augustus, maar ek gaan dit so onthou. Belangrike datum in beide lande gewees.

Ewenwel, ons het die Maandag na die hoofstad toe getrek, nog vgoor ons ons voete gevind het om te weet wat ons moet hê of nie het dei land vir die tweede keer in grendeltyd ingegaan en vanaf die 5de Julie was ons weer tot koswinkels en apteke beperk.

Dit was spookagtig om in ‘n winkelsentrum in te stap, met alles afgebaken, jy mag net apteek en supermark toe gaan. Onthou, dit is vir ons nog ‘n vreemde stad al is ons nou lankal in die land. In die koswinkels voel dit normaal, daarbuite is dit spookagtig.

Soos met die wegraping wil mens dink.

So half of mens die enigste mense is wat oorgebly het … En dit maak dat mens sommer baie meer aandag aan jou godsdiens gee. Dit is nou wel lekker dat mens op party plekke kan koop, maar ek sal met die wegraping nie alleen agter wil bly nie.

Kyk waar gaan draai ek nou met hierdie vertelling …

Ons kon toe sonder om Russies te kan praat verduidelik dat ons paspoorte in is vir visums. En dat ons wel wetlik oud genoeg is om bier te kan koop. Manlief lag vir my – daar is geen geboortedatum op daardie kaart nie. Sy was in elk geval tevrede. Sy ID het hy nie gegee nie, sy sou dit nog minder verstaan.

Natuurlik wil ek nou weet waarom ons vir die eerste keer ‘n paspoort nodig het om bier te koop …

Is dit dalk omdat sy ‘n uitlander is? Die bier? Die naam is Belgies …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “As mens jou paspoort nodig het om bier te koop …

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.