Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Maslenitsa – so word winter in Qazaqstan verjaag …

So twee weke gelede het ek oor slush puppy tyd in Oskemen geskryf. Met die opskrif lente …

Wel, die weer het my intussen goed verkeerd bewys. Die volgende dag is die aarde hier met ‘n dik laag sneeu bedek.

Die motors weer amper begrawe onder die sneeu.

Om my deeglik daaraan te herinner dat die sneeukoningin nog glad nie lus is om die sonkoning te laat wen nie.

So het ek geredeneer. ‘n Oorlog vir wen of verloor tussen die sneeukoningin en die sonkoning.

Wel, ek was blykbaar verkeerd.

Dié oorlog is tussen die winter en die lente.

En Lente word deur die Qazaqs ondersteun.

Hulle vat nie nonsens van kabouters nie.

Winter moet nou onder die bas geskop word. En dit gaan die Qazaqs regkry. So hoop ekke.

Want sien, die aarde om my is nou vier maande lank onder sneeu toegevou.

Dit is wondermooi. Daarmee sal ek nie stry nie. As die son so op die sneeu skyn, skitter dit. Stap ek nou die oggend terwyl ek in verwondering na die sneeu staar en dink.

In Suid-Afrika het is goud in die oggendstond. Hier is silwer in die oggendstond. Die een so mooi soos die ander.

As dit nie so koud was nie, kon die wit maar bly. As dit nie so glibberig was as die son waag om sy kop uit te steek nie, kon die wit ook maar bly. Die smeltende sneeu wat weer snags verys word, is gevaarlik.

Dit is mos tyd vir Lente om haar kragtoertjies uit te voer? Sy bestaan mos in Qazaqstan ook?

Lente moet nou van haar sagte naam vergeet en haar krag kom wys!

Winter moet gaan, daarom help die Qazaqs haar.

Hulle vier fees. Om winter te verjaag.

Die fees se naam is Maslenitsa!

En hier duur feeste dae lank. Hierdie een duur een hele week lank. Maslenitsa.

Sien jy die son op die plakkaat? Tyd vir die son om ook te kom help.

Op die laaste dag van die week word ‘n strooipop gemaak en in helder kleure getooi. Die pop se naam is Maslenitsa. Winter. Sy word op ‘n plek naby die rivier staangemaak.

En dan word daar in Öskemen vir twee ure lank opelugkonsert langs die ysige rivier gehou. By ons in die amfiteater. Gratis en verniet. Met kosstalletjies en al.

Ek verstaan niks, maar musiek het mos nie taal nodig nie?

Jammer, hier het ek te veel gesnoei om dit nader te bring. Maar die effek is darem daar. ‘n Tradisionele dans.

So terloops, as jy my volg, het jy dalk al gelees van buurman wat vir my danspassies uitvoer. Een daarvan lyk soos die dans wat die loodsoldaatjie uitvoer.

Volgende keer maak ek soos die meisies agter hom. As ek nou kans sien daarvoor!

Iedergeval, hier word winter aan die brand gesteek. Sy moet gaan. En hulle sing almal saam vir haar. Dit is tyd om pad te gee!

Die strooi was nat. Het vreeslik gerook. En Maslenitsa het haar staan lank gestaan. Terwyl die kinders hande vashou en rondom haar dans.

Nou wonder ekke: Gaan die winter haar laat verdryf? ‘n Paar foto’s van die dag.

Dalkies net, want ons is vir die dag saam met vriende na ‘n vakansie-oord so 75 km van ons af. En raai wat? Maslenitsa is daar ook aan die brand gesteek. ‘n Pragtige stooipop. Wat binne sekondes uitgebrand het.

Wat sê die spreekwoord? Mooi vergaan maar deug by staan? Ek kon nie help om daaraan te dink terwyl ek hier in die vreemde na ‘n vreemde tradisie staan en kyk nie.

Die dag was tydens beide feesvieringe wolkloos. En dit was warm genoeg dat ek nie verkluimd gevoel het as my vingers nie in my handskoene is nie. Ek neem egter aan dat jy kan sien dat die son nog baie moet vermag om al die sneeu te smelt? Dit lyk net op die Ust foto minder omdat die amfiteater skoongemaak is. Ons sneeu lê net so dik om ons.

Die sneeu het oral soos slush puppy gelyk. Soggens is dit weer korrelrig gevries. Omdat dit snags steeds na -15 daal. Dit is weer ‘n wolklose dag. Op so ‘n dag kan die son goed aan die werk spring om sy werk te doen.

En hy is vanoggend vroeër as gister en eergister aan die werk …

Lyk of hy lus is om die wêreld vandag warm te maak …

Kan ek dalk nou begin dink aan ‘n dag sonder ‘n mussie? Met ‘n kuif wat nie te sleg lyk as ek in ‘n winkel van my jas ontslae raak nie?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Maslenitsa – so word winter in Qazaqstan verjaag …

  1. Dit is baie interessant om van hierdie tradisie te leer – julle het almal seker geeg gehad van die winter en sien uit na die lente. As Maslenitsa sal help is dit goed.

    Liked by 1 person

    1. Hi Anne, ons het nogal van die koue genoeg gehad, maar die koue het nog nie genoeg van ons gehad nie. Dit gaan in die volgende twee weke weer sneeu, al smelt die son die sneeu nou vinnig. Die temperatuur gaan ook teen die einde van die maand weer na -20’s val. Dit is ongelooflik om te besef hoe goed die weervoorspellers van hierdie land is. En hulle moet wees, mense se lewens hang die hele winter van hulle voorspellings af. Maar ja, ek wens so ek hoef nie meer mussies te dra nie. Het Sondag ‘n ligter een gedra wat nie gevoer is nie – en teruggehol om ‘n dikker een te kry. Die koue gaan in my ore in. Hoe vreemd is dit?

      Liked by 2 people

    1. Dankie Una, ek is ook mal oor daardie jas. Vreemd genoeg kry my nek met hom koud, want sy kappie val ver agtertoe. Dit vou nie soos my swart jas om my nek as ek die rits hoog optrek om soos ‘n serp te sit nie. As die kappie op is, lykk ek so bietjie soos ‘n eskimo en ek verstaan waarom hulle pels om die kraag dra. Dit keer dat baie koue materiaal teen mens se gesig staan.

      Liked by 2 people

  2. Sjoe! Dis interessant. Dit wys net dat hulle opgewonde is oor die lente wat kom. Ek dink die sneeu sal vinnig begin amelt sodra die dae warmer word. Jy gaan mos vir ons kom vertel, né? 😁

    Like

  3. Ek sê altyd winter is die ordentlike seisoen want dan trek selfs die meisies klere aan. Jasse, musse, gebreide serpe, booties, die werke. En alles gaan mos by wit. Ek kan dink dat dit mooi kan lyk as mense dan uitgaan. Roesbruin en turkoois en sulke kleure teen die wit.

    Like

    1. Hulle dra oorwegend swart, dus is dit besonder verfrissend om ander kleure tussen-in te sien. Ons dra ook swart, maar ek wissel met ander kleure af. My vriendin moet maar by donker bly met twee klein kinders.

      Like

  4. Ek kan net sê: Sjoe, maar ons is nou weer moeg vir die hitte. Ek kla nie daaroor nie. ‘n Vriend en ek, het ‘n paar jaar gelede, ooreengekom, ons kan nie pal kla nie en toe besluit, ons sal net oor die winter kla, nou nie dat ons winters iets is om oor huistoe te skryf nie, so 8-9 nagte, ligte ryp, maar die winters, is nie goed vir my sinus nie.

    Like

    1. Hi Coetzee, by ons is die lug so besoedel dat ons sinus kry as die wind nie waai nie. Gelukkig waai hy byna elke dag dat die vlag op Kazakhstan berg punt i die wind staan. Ek wil nie oor die winter hier kla nie. Dan gaan ek vyf maande lank kla. Sommige dae is onmenslik koud, dan bly ek maar tuis om warm te bly. Lekker om van jou te hoor.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.