Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kinderpret: Wegkruipertjie

Ek en kleinkind speel wegkruipertjie! En hy doen dit so goed, al het hy pas 3 jaar oud geword.

Dit werk so.

Ek vra of ons wegkruipertjie gaan speel. En dan is hy dadelik reg, al het hy iets anders gedoen.

“Maak toe jou oé, Ouma. Tel tot 10”

Dan soek hy ‘n wegkruipplek.

Ek tel dan tot 10 en sê: “Hier kom ‘n ouma, sy gaan ‘n seuntjie vang.”

Hy giggel dan waar hy is. En ek maak of ek nie hoor nie, maar ek sukkel om nie te kyk nie.

Dan vra ek:

“Is hy onder die tafel?”

En hy sê: ‘Nee.”

“Is hy onder die stoel?

Dan sê hy: “Nee.”

Tot ek by die regte plek kom en vra: “Is hy agter die gordyn?”

Dan lag hy uit sy magie en sê; “Ja.”

Dit is so lekker, dat ek hom nie wil leer dat hy stil moet wees dat ek harder moet soek nie. Ons gesels dan so lekker terwyl ek soek.

Dan sê hy: “My beurt.”

Knyp die ogies styf toe en tel stadig tot 10.

En dan hoor ek:

“Fee, fy, fo, fam … ek gaan ‘n ouma vang.”

Dus staan ek iewers waar ek hom kan dophou terwyl hy daardie gedeelte sê, want hy stap met sulke lang, stadige treē, ek sal hom sowaar opeet.

As hy in die verleerde rigting gaan, giggel ek dat hy hoor dat ek nie daar is nie. En sy ore is baie goed, hy kry my dan gewoonlik amper dadelik. Seker ook maar omdat my Schnauzers my erg verraai …

Ons speel dit so ses of sewe keer, dan doen ons iets anders.

Hy is ook glad nie bang vir die donker nie. Ek kan in die badkamer in die stort wegkruip. Hy kom in en maak eers of hy my deur die deur gaan eet, dan maak hy oop en kom saam met my in.

Bly daar en sê ek moet gaan tel.

Dit is vir hom ‘n baie lekker wegkruipplek!

As ek uiteindelik na verkeerde paadjies inkom, klou hy die deur vas dat ek nie kan inkom nie, En lê soos hy lag as ek effens trek dat dit voel of ek wel gaan oopmaak.

Wegkruipertjie saam met hom is baie, baie lekkerder as toe ek klein was.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Kinderpret: Wegkruipertjie

  1. Ek hou baie meer van jou en kleinkind se manier van wegkruipertjie speel! My broer het altyd so ver weggekruip dat ek hom nooit kon kry nie en later moed opgegee het 😄. Dan het ek maar met iets anders aan die speel geraak en hy wag en wag en wag vir my om hom te kry … dit was eintlik so snaaks!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.