Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

40ste huweliksherdenking

Ons was Sondag die 30ste Januarie 40 jaar getroud. Vrydag vertel manlief vir my dat ek ‘n mooi rokkie moet pak, ons gaan bietjie rustig verkeer vir ons 40ste huweliksherdenking.

Ek het soveel gedagtes oor die bederf gehad, maar nie een was naastenby reg oor wat hy vir ons beplan het nie.

Eers gedink seun en skoondogter gaan ons iewers verras. Want ek kon die woewe nie daar gaan aflaai vir die aand nie, hulle het hulle self by ons huis kom haal nadat ons weg is. Saterdag onder die stort kry ek die idee dat my dollatjie my gaan kom verras. Maar later die oggend stuur sy atletiekfoto’s, hulle is in Swellendam.

Die oggend werskaf ons nog aan die huis, hang portrette op en maak die hek reg dat dit kan sluit. Ons moet mos toestemming vra om te lawaai en dit het ek gedoen, onbewus van manlief se planne.

Toe ons ons oornagtassie pak, vra ek waarheen ons gaan en wat ons gaan doen dat ek die regte medisyne en klere kan pak. En verras manlief my met die inligting.

Ons gaan die nag in ‘n 5-ster hotel slaap om bietjie bederf te word.

Op pad moet ek die bestemming intik – Sandton Sun hotel. Dit is een van die hoogste geboue in Sandton. En Sandton se grond is tans die duurste in die hele Suid-Afrika. Ek vermoed dit gaan mettertyd verander, maar vir nou is Sandton steeds die duurste grond in die land.

Skaars ‘n halfuur later ry ons onder die gebou in en parkeer. Tydens die inboekproses hoor ek toe dat hulle weet dat dit ons huweliksherdenking is. Die vrou wou weet hoeveel en het haar hande oor haar mond geslaan met ‘n Jô! Die man het nader gestaan en gesê dat ons tweetjies ‘n voorbeeld vir jong mense is. Ek het maar nie vertel dat my ouers vanjaar 62 jaar getroud is nie. Het die erkenning vir ons eie prestasie te veel geniet.

Wat ‘n pragtige hotel, so in die middestad van Sandton.

Ek moes net die water afneem – foto 2 – omdat dit in so ‘n egalige stroom vloei dat dit soos glas lyk – eerder as water.

Toe manlief die kamer oopsluit, is hy meer verras as ekke. Op die rand van die bad en op die vloer was rooi roosblare. Die spierwit beddegoed het ‘n hart van roosblare gehad. Te mooi om sommer net te wil bederf. ‘n Rukkie later is daar ‘n klop en word non-alkoholiese sjampanje en ‘n bord met twee stukkies koek afgelewer. Met die woord “anniversary” daarop geskryf.

Ons het dit eers geniet en toe in Nelson Mandela Square en Sandton City gaan stap. Beide is bereikbaar vanaf die sesde vloer van die hotel. Die eetplek is ook op die sesde vloer.

Toe ons terugkom, het ons aandete in die hotel geniet. waarom sal mens iewers anders gaan eet? Al is twee van ons gunsteling restaurante juis op Nelson Mandela Square. Of gaan ek eerder skryf gewese? Want ons is nogal verras deur die verval van die twee winkelsentra. Heel waarskynlik te wyte aan al die inperkings is verskeie winkels se deure gesluit.

My salm was perfek en manlief het sy fillet ook baie geniet. Ek weet fillet het ‘n mooi Afrikaanse naam, maar dit klink nie naastenby so sag en lekker soos wat fillet klink nie.

Die oggend het ons ook in die hotel geëet. Ek kan hulle ontbyt enige tyd aanbeveel. Die hoofsaaklike lekker is dat dit nie die normale kontinentale ontbyt is nie, jy kies van die spyskaart alles waarvoor jy lus is en dan word dit so bedien.

Toe het ons weer op die bed gaan lê en die luuksheid van die hotel geniet, voordat ons huiswaarts gekeer het.

Ek moet bieg. Ek het nie geweet ons twee is so moeg nie, ons het die rustigheid in die hotel geniet. Veral om net te gaan aansit en die kos te geniet.

Dit is nie asof ons nie in ons eie huis rus nie. Daardie rus was net anders, spesiaal.

Bederf in die oortreffende trap.

Ek is so lief vir hierdie man van my. Dit het vreeslik baie soos wittebrood gevoel. Ek het ook ‘n ring gekry!

Aan my regterhand is ‘n robynringetjie wat ek by manlief gekry het. Dit is die kleur en steen vir ‘n 40ste huweliksherdenking. Mag hom net aan my regterhand dra – om te wys dat ek met die regte man getrou het – volgens my manlief. Toe ek vra waarom die ander ring dan aan die linkerhand gedra word, is die antwoord vinnig. Om te wys dat ek getroud is … dus na 40 jaar wys ek ook dat ek met die regte man getroud is. Ek het so lekker gelag.

***

Rede vir dankbaarheid: Hierdie manlief van my, wat al so lank elke dag aan my sy is. Soms moet hy weggaan vir werk, maar dan word ek gebel en gesels ons langer as wat ons gewoonlik in persoon doen.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “40ste huweliksherdenking

  1. How wonderful! I want to take Jessica to such a place but she doesn’t want to go, always afraid of whether we will het the wheelchair in or not. The photos are lovely. I am quite jealous. 60 years is not to be sneezed at.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.