Gepubliseer in Reisjoernaal

Prettige oomblik in parkeerterrein in Little Falls

Vanoggend is ek en manlief die strate in. Ons wil die huis steeds verkoop en die agent het te vertelle dat een moontlike koper van mening is dat die huis nie modern genoeg is nie. Ons gaan die vier badkamers so bietjie moderniseer. Nuwe storte en nuwe goedjies vir die handdoeke, toiletrolle en so meer.

Hy parkeer die motor en sit sy masker op terwyl hy sluit – en ek is lankal uit en wag vir hom agter die bakkie. Die vriendelike swart man wat die motors oppas, groet my ewe opgewek in Afrikaans.

En hoor nou net, dit is baie, baie lekker om in Afrikaans aangespreek te word. Ek kom so pas van Kazakhstan waar bykans niemand my verstaan nie. In elk geval nie op straat nie.

Ek glimlag sommer van oor tot oor. En groet net so opgewek terug in Afrikaans.

Want, op pad na die plek, het ek die naamborde en straatbaniere en alles gelees. Gewone letters, verstaanbare woorde wat ek weet hoe om dit uit te spreek. Geen garoshwo wat as garashwo uitgespreek word nie. Waarom mens ‘n a en ‘n o in jou alfabet moet hê, maar van lesers verwag om ‘n o as ‘n a uit te spreek as die klem nie daarop val nie, weet ek nie. Dit is net lekker om te verstaan wat ek lees. Ek is soos ‘n kind wat sy ou speelding teruggekry het.

En nou praat die man met my Afrikaans. Hemels.

Hy kyk my verras aan en laat so ewe hoor: “U praat goeie Afrikaans.”

O my jitte en toe is my dag gemaak. ‘n Swart man, wat baie goeie Afrikaans praat, komplimenteer my met my goeie Afrikaans. Ek is hoogs in my noppies, maar manlief kom ingedagte om die kar en groet nie toe die karwag hom in sy beste Afrikaans groet nie.

Hy het nie ons gesprek gehoor nie. Hoor ook nie die karwag nie. Ook nie gehoor dat die man hom in Afrikaans groet nie.

En toe klim die terggees op my skouer.

“Hy verstaan nie Afrikaans nie, hy is Russies.” vertel ek vir die man.

En hy aanvaar nie my woord nie, maar die man van my het in Kazakhstan baie soos ‘n Rus gelyk. En ek kan baie oortuigend wees. Dink ek moes ‘n aktrise geword het. Maar is ons onderwysers nie maar almal akteurs en aktrises nie?

“O, hy verstaan nie Afrikaans nie?” sê die karwag.

“Nee,” brei ek uit, hy verstaan net Russies.”

Toe eers kliek my man.

Hy kyk die karwag aan en gebruik die eerste Russiese woord wat in sy gedagtes opkom.

Dezwidanje.” (vertaal na totsiens).

Die karwag gaap hom aan. Hy praat sowaar met ‘n Rus, hy ken nie die woord nie. Manlief se mond is agter sy masker, dus kan niemand sien hoe hy wil lag nie. Ek sien die skittering in sy oog.

“Sowaar,” kry die karwag dit uit, terwyl hy vir my kyk.

Manlief wil aanstap, knik en gebruik die tweede Russiese woord wat toevallig ook sy lekkerste woord is.

“Garashwa,” (goed, wat eintlik as garashwo uitgespreek moet word, manlief hou van die a aan die einde).

Die karwag staan verstom. ‘n Rus?

Ek en manlief stap weg en eers toe ons naby die ingang van die winkel is, begin ons lag. Hard en lekker, dit was een gesamentlike poging. Ons het iemand oortuig hy is ‘n Rus.

Op pad na die kar het die karwag ons lankal uitgeken. Wys vir ons waar ons kar staan – en dit is lekker, al weet ons waar dit is.

Terug by die kar, stap die karwag nader, maak my deur vir my oop.

Julle, wat het in Suid-Afrika gebeur terwyl ek weg was? Waar kry mens sulke galante karwagte?

Ek klim in en hy maak die deur toe, staan agter die kar en beduie aan my kant hoe manlief moet uittrek. Hy kom ook na my kant van die bakkie toe om sy geldjie te kry.

Eers toe ons weg is, kliek ek.

Maar my, natuurlik sal hy nie aan manlief se kant beduie of praat nie. Hy kan mos nie, net soos ekke in Kazakhstan, Russies praat nie! Hy bly maar veilig aan die kant waar ons mekaar se taal praat. Ek sou beslis ook.

Volgens hom is hy ‘n boer. ‘n Afrikaanssprekende ene. Ek is ook ene.

Op pad terug huis toe is my foon uit, ek moet ‘n foto neem. Lyk dit vir jou ook soos ‘n penskets van ‘n hond of wolf wat oor die gebou spring om ‘n hasie jaag?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

38 gedagtes oor “Prettige oomblik in parkeerterrein in Little Falls

      1. 🤗❤ Ek ook, dis baie fassinerend, dit is vir my die lekkerste om na die wolke te kyk wanneer ons ieeers heen ry. (verskoon my spelling, nog baie aandag nodig met my Afrikaans🙈)

        Liked by 1 person

          1. Ek het oor net mooi alles geskryf, eers net “normale goed” en gereeld so vyf of ses mense bereik terwyl Engels my op ‘n kol 1,15 miljoen volgeleninge besorg het

            Liked by 1 person

          2. Ons probeer ons mooi oppas maar mense bedreig my tans in die sg veiligheid van my eie “huis” en my bloeddruk is sky high, ek vrees nog ‘n beroerte oor ‘n bleddie grand vrou se ambisies. Hoe het Shakespeare dit gestel? “There is nothing like a woman’s ambition.” Sommige vrou roem daarop dat hulle altryd hulle sin kry, maar kyk nie na die string wrakke wat hulle agterlaat en menselewens wat hulle verwoes nie. Dis geen oorwinning om met geweld te regeer nie, veral nie uit die kombuis nie. Dit is OOK #GBV en ek het hel daaronder en dis nie eens MY vrou nie. Ons het regtig swaar en het nie keuses nie. Mense wat dink jy het altyd ‘n keuse was tot dusver net baie bevoorreg.

            Liked by 1 person

  1. ek en my sussie kon vir ure na wolke kyk en figure daarin raaksien. Dit was ook een van ons tydverdrywe as ons lang ure moes ry iewers heen. wie sien ‘n wat raak in die wolke? Die verbeelding het los geloop.

    Liked by 2 people

      1. Presies! En om 300km van Springs af te kyk hoe stapel torings can cumulus laatmiddag en begin dan met ‘n ongelooflike ‘laser show’ het my altyd gefassineer.

        Liked by 1 person

          1. Ons het kakao en snackwhiches gemaak, die gordyne oopgetrek, ligte uitgedoof en dan het ons na “God’s Laser Show” gekyk met “surround sound.” Hier in die Kaap is een enkele blits mos (werklik) voorbladnuus!

            Liked by 1 person

          2. Ek het grootgeword in die deel van die Vrystaat waar die ergste elektriese storms in SA voorgekom het. Ek is baaaaie lief vir daardie “surround sound” konserte.

            Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.