Gepubliseer in Reisjoernaal

Akkerlaning in Almaty, Kazakhstan

Vandag herinner my iPad my aan hierdie foto. En dit bring goeie herinneringe mee.

Ek maak van ‘n kaart gebruik om meer oor die foto te vertel. Ons het baie van ons woonstel (nommer 1 op kaart), wat op die hoek van Mahatma Ghandi straat en Nazarbayev straat was op hierdie sypaadjie langs Nazarbayev afgestap in die rigting van die ou gedeelte van die dorp.

Nazarbayev was die eerste president van die onafhanklike Kazakstan en het vanaf 1991 tot iewers in 2020 as president gedien. En dan het dit gevoel of ek in Suid-Afrika, iewers in Kaapstad of Stellenbosch of selfs Potchefstroom kon wees. Met die hoë, lowergroen akkerbome wat ver bokant ons uitgetoring het.

Soos jy kan sien, ry die motors volgens ons Suid-Afrikaners aan die verkeerde kant van die straat. Dus moet mens altyd deeglik bewus van jou omgewing wees as jy oor die straat stap. Jy kan nie links, regs en weer links kyk nie. Jy moet regs, links en weer regs kyk om seker te maak dat jy veilig oor die straat stap. Veral in Almaty – waar daar verkeersligte is. Ons het een keer amper onder ‘n motor beland het wat bo-oor die rooi lig op die hoek van hierdie twee strate gejaag het!

Ek kyk so half in verwondering na die sypaadjie wat so leeg is, want daar was altyd mense wat stap. Kinders en grootmense op gemotoriseerde vervoermiddels daar op en af is. Ek wil nog eendag oor die tipe vervoer gesels. Maar daar was nie so baie voetgangers soos in Ust nie, want dit was nogal ver vanaf die busstop reg langs ons woonstelblok tot by die volgende ene. Dus het die meeste mense die bus geneem, dit is ook ‘n stewige opdraende terug huis toe.

Voordat mens doer ver onder by die volgende straat kom, stap jy aan die linkerkant verby die president van Kazakhstan se huis in Almaty. Dit was altyd sy huis, maar die hoofstad het na Nur-Sultan verskuif omdat Almaty baie naby aan die grens met ‘n buurland is. Nur-Sultan se naam was tot in 2020 Astana – wat hoofstad in Russies of Kazakh beteken. Die stad se naam is in 2020 na Nur-Sultan verander, die naam van die eerste president van die land – Nur-Sultan Nazarbayef. Dit is egter steeds sy huis wanneer hy in Almaty is. Dit is een indrukwekkende plek, ek het al foto’s daarvan gedeel.

Aan die regterkant is die museum (nommer 4), wat self ‘n baie indrukwekkende gebou is. Ons het nooit die kans gehad om daar te gaan loer nie, want dit was gesluit in die drie maande wat ons in Almaty gebly het. Ek verbeel my dit het wel op ‘n stadium oopgemaak, maar daar was soveel reëls dat ek nie toe wou gaan nie. En toe kom ons terug voordat ek kon gaan kyk. Ek was egter in baie ander museums in die groot stad.

Soms het ons oor die straat gestap en in Zoldasbekov straat opgestap na Dostyk winkelsentrum (nommer 3) op die hoek van hierdie straat en Dostyk straat (nommer 5). Dit is ‘n winkelsentrum vir die ryker mense in Almaty. Ons menslike hulpbronnebestuurder se dogter het dit blykbaar geniet om daar uit te hang. Toe ons in Januarie 2019 die dag of twee in Almaty was voordat ons gaan kyk het hoe Ust-Kamenogorsk lyk, het ek met baie moeite vir my daar dik kouse te koop gekry. Die wat ek in suid-Afrika gekoop het, was te dun om die koue weg te hou.

Manlief het ook daar vir ons twee elkeen ‘n Levi-jean by Levi gekoop. Die duurste wat ons nog ooit vir ‘n langbroek betaal het – meer as R2 000 elk. Ons het eers toe ons uitstap die somme gemaak en besef dat dit belaglik was. Maar teruggee wou osn ook nie, dit is die een jean wat mooi aan my pas. Ek voel soos ‘n model as ek hom aan het.

As mens by die winkelsentrum verbystap en dan regs draai en al met Dostykstraat opgaan, kom jy by Shymbulak kabelkarretjies uit, waarvan ek ook al vertel het. Stap sal mens nie sommer nie, dit is seker ‘n goeie 15 minute se ry boontoe, teen ‘n baie steil helling op. Want die karretjies vat mens hoog die berg in, na een van die hoogste spitste van die Altai berge.

As jy by Dostykwinkelsentrum links in Dostyk straat draai en so blok of drie afstap, kom jy by die onderste stasie van die kabelkarretjie wat jou in die stad na die boonste stasie op Kok Tobe neem. Dit is daar waar ek vir Una haar 5 in 1 Russiese poppie gekoop het. En die poppie het ek meer as ‘n jaar nadat ons in die land terug is eers vir haar gegee. Die naweek wat verby is. Daardie poppies is besonder duur, seker maar omdat dit met die hand geverf word. Ek het vir my ma s’n – wat ‘n 10 in een poppie is – byna R600 betaal.

Dan het ek twee plekke op die kaart gemerk. Alitsa beteken straat in Russies. En K-Cell is ook gemerk omdat ek in Maart 2019 my simkaart by hulle gekoop het toe ons oorgetrek het na Kazakhstan. Baie mense behou hulle SA-nommers, maar dit is regtig goedkoop om ‘n Kazakhstan selfoonnommer te hê. En dan is mens nie afhanklik van wifi om wel te bel as dit noodsaaklik is nie.

Ek hoop jy kan ook die rustigheid in die foto raaksien. Want dit is iets waarna my hart soms hunker. Die veiligheid in die strate van Kazakhstan – veral omdat die land op die internet as gevaarlik vir toeriste voorgehou word.

Dit is nie.

Daar kan jy jou handsak op jou tafel los, kleedkamer toe gaan, terugkom en dit presies daar kry.

Daar verloor jy handskoene op straat en as jy op die paadjie teruggaan, kry jy jou handskoene teen ‘n boom of paal neergesit sodat jy dit kan sien. Dit word nie gevat nie.

Daar vergeet jy jou pakkie in die koffiewinkel by die teater, onthou eers veel later die dag dat jy dit vergeet het, gaan jy terug op jou spore en wag die kelner by die deur met jou pakkie as hy jou sien aankom.

Tog sal ek nie weer teruggaan nie.

Ek het verskriklik koud gekry in Kazakhstan.

Hier begin ek lus raak om ‘n Kiway donsveerbaadjie aan te trek as dit 15 grade Celsius raak. Daar is dit vir 7 maande van die jaar kouer as 15 grade Celsius, word dit maklik -38 grade Celsius in die middel en die einde van die winter. Daar lê die smeltende sneeu nog dik as dit veronderstel is om lente te wees. En wonder jy of dit ooit weer warm gaan word.

Maar dit word warm die gras en bome vergeet gou dat hulle onder sneeu of vol sneeu was en dan is dit bykans dadelik groen. Nie soos hier waar dit eers groen word as die eerste reën geval het nie.

Nee, daar word dit dadelik groen want die sneeu het die grond goed natgemaak dat alles weer kan groei en groen word.

Baie vinnig, want vyf maande later is dit weer onder die sneeu.

En dit is een teenstelling wat ek mis. Die oorskakeling vanaf spierwit na grasgroen – met so klein bietjie lelik wanneer die sneeu swarterig word soos wat dit smelt en met die grind en stof meng.

Hier is die winter natuurlik nou vir my vreeslik vaal, baie lelik. Dit is nou in die noordelike provinsies. Die Kaap is groen, want dit kry reën in die winter.

Soms var my blogvriende of ek na Kazakhstan verlang as ek so skryf.

Die antwoord is nee, dit is eerder ‘n vorm van heimwee, herinneringe aan ‘n tydperk in my lewe wat ek graag lewendig wil hou.

Maar, ek verkies dit met my hele hart in Suid-Afrika, naby my kinders en waar ek Afrikaans kan praat as in daardie ysige koue wat met die sneeulandskap gepaard gaan …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Akkerlaning in Almaty, Kazakhstan

    1. OK, I have added tags to the side of this blog (bottom if you read on a phone or tablet). You can click on Kazakhstan, Oskemen, Qazaqstan and Ust’-Kamenogorsk to read almost all of the descriptions of our stay in Kazakhstan. There are quite a lot, I have written almost every day between March 2019 and October 2020 a blog about this beautiful country which are neglected by travellers. You can also click on the side bar on the months between March 2019 and October 2020 to read the blogs. There are many …

      Liked by 1 person

    1. Die Kazakhs is besonder gesteld daarop dat die strate skoon is. Daar is elke dag mense wat die strate skoonmaak, maar hulle mors ook nie dat ander skoon moet maak nie. SA dink mos dit is werkskepping as hulle rommel strooi, die Kazakhs is trotse mense.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.