Gepubliseer in Joernaal,Resensies

Avokado’s … herstel vertroue in mensdom

Ek het op Telegram by ‘n Kuruman groep aangesluit waar ek ‘n advertensie van Frikkie gelees het. Hulle lewer avokado’s op die N12 en N14 af, al die pad verby Kuruman en Kathu. En ek het ‘n swak plekkie vir avokodo’s, wat op die oomblik nie alleen baie duur is nie, maar ook reeds halfpad vrot gevat wanneer ek dit koop. Dus reageer ek op die advertensie.

Wanneer lewer hulle af, hoe werk die betaling en so aan. Tot my verrassing betaal ek wanneer ek afhaal, hulle laat weet per WhatsApp waar en hoe laat in Kuruman. Dit is gewoonlik die laaste week van die maand. Ek laat weet ek gebruik nie WhatsApp nie, ek het dit mos maan toe gestuur na Facebook se ultimatum. Hy laat weet dan sms hy my. Manlief se werk naweek was aflaaidatum, dus sal ons Saterdag tuis wees om dit te kan afhaal. Ons ry mos elke tweede naweek ver, rivier of stad toe.

Donderdagoggend kry ek sms dat dit Saterdag afgehaal kan word by ‘n sekere garage in Kuruman. Ek ken nie Kuruman nie, maar ek neem aan dit is die een langs Angus slaghuis in Kuruman waarvan ek al vertel het. Maar ek sal dit nie kan maak nie, ons moet stad toe.

Manlief het ‘n seer op sy been gekry, doktertjie het uitgesny, vir toetse laat stuur en dit is wel kwaadaardig. Hy moet ‘n dermatoloog sien. Ek het so pas ‘n afspraak met ‘n dermatoloog gemaak. Goeie aarde, die mense is besig. Die meeste kon hom eers Augustus sien – al verduidelik ek dat daar aan ‘n gewas gesny is.

En die afspraak met Frikkie om my avokado’s te kry waai by my uit. Ek vergeet heeltemal om te kanselleer.

Saterdagoggend is ek en manlief in Roodepoort op pad dokter toe toe my foon lui. Dit wys Frikke avo’s. Ek antwoord en die man is vriendelik, sê hy wag vir my al het hy in die sms mooi gevra dat almal betyds moet wees. Hy kan net 10 minute per dorp stop. En glo my, ek verstaan die pad wat hy ry om die by my af te gee. Hulle ry dan nog verder, al die pad tot in Pofadder! Ek sou behoorlik omgekrap gewees het na hoeveel stoppe waar mense laat kon kom om af te haal.

Ek verduidelik dat ons dringend stad toe moes kom, my man moes dokter kom sien.

Anders as die meeste ander mense wat ek ken wat in so ‘n bedryf betrokke is, lag hy en sê dit is als reg. Sulke goed gebeur.

Volgende keer.

Maar dit is nog een maand voor volgende keer en ek het so uitgesien na die avo’s. R120 vir 3 kg, ‘n totaal geheel en al winskopie.

Ek vra of hy dit nie asseblief by die biltongvrou binne in Angus slaghuis kan afgee nie, dan stuur hy sy banknommer en ek betaal die geld oor.

Perfek, antwoord hy, hy sal so maak.

En nou moet ek eers verduidelik.

Ek is nog skaars drie maande in Kuruman, wat beteken dat ons so drie keer in die slaghuis was. En beslis nie elke keer biltong gekoop het nie. Twee keer op die meeste. En hier reël ek ewe voorbarig dat my avo’s by haar afgegee moet word. Klink ek of ons tweetjies boesemvriende is. Asof sy gaan weet wie die vrou is vir wie sy die avo’s moet gee.

Maar ek het net ‘n probleem opgelos. As die avo’s nie by my uitkom nie, gaan ek nie oorlog maak nie. Ek betaal Frikkie net vir die avo’s wat al die pad na my toe aangery is …

Frikkie stuur bankbesonderhede en ek vra of hy afgegee het. Hy laat weet ja, sy een man het vir ‘n vrou in Angus gegee om vir my te hou. Ek vra nie naam of of dit wel by die biltongvrou gelos is nie. Dit is mos hoe ons gereël het …

Ek het werklik aanvaar dat die avo’s nie by my gaan uitkom nie. Want ons is eers Maandagnag terug Kuruman toe. En ek kon dit eers Dinsdag na werk gaan afhaal – nadat manlief van die werk af tuis gekom het.

Ek neem aan die avo’s is nie meer daar nie en wil nie ry om te gaan vra nie. Maar manlief is van mening dat ek dit moet gaan afhaal.

Ek klim werklik skoorvoetend uit die bakkie met die woorde dat ek nie gaan sukkel om die avo’s te kry nie. Ek gaan die biltongvrou vra en as sy van niks weet nie, gaan ek doodeenvoudig loop. Vir niemand anders vra nie.

As mens by Angus instap, is die biltongafdeling dadelik aan jou regterkant. Jy stap deur een van daardie draaimasjiene met die drie armpies om in te gaan en dan is daardie deel van die biltongafdeling wat langs jou is, so halflyf agter glas toegemaak.

En daar lê ‘n sakkie avo’s, wat vir my baie lyk of dit dalk drie kilogram kan weeg.

Ewe voorbarig vra ek vir die biltongvrou of ek asseblief my avo’s kan kry. En toe sy verbaas lyk, besluit ek ons gaan nie oor ‘n sakkie avo’s baklei nie.

Sy kom nader en vra my naam en frons. Vra my van en frons. En ek weet nie eens of Frikkie se man my naam en van sou geen nie. Want ek is bloot CVS op Telegram. Ek twyfel ernstig of hy my naam ken, maar hy weet dalk dit is Christa.

“Wanneer sou jy dit kom haal?” vra sy.

En dit is ‘n moeilike antwoord, want ek het geen idee wat Frikkie se man vir haar sou sê nie.

Bietjie later Saterdag, ek is by die dokter? Maandag? Ek het geen idee nie, weet net dit is baie lank na Saterdagoggend.

“Dit is al baie lank hier.” kom dit van haar.

Ek verduidelik ek het geen idee wat Frikkie se manne met haar gereël het nie, maar ons was die naweek stad toe. Kon eers Maandagaand terugkom nadat manlief ‘n dokter gesien het. En omdat ek nie ‘n kar het nie, moes ek vandag wag tot manlief van die werk af kom.

Sy draai om, gee die avo’s vir my en ek stap met ‘n groot glimlag by die slaghuis uit.

Watter pragtige ode is dit nie aan die eerlikheid van twee Suid-Afrikaners nie?

Die boer/middelman wat sy produk op my woord vir my by ‘n slaghuis los en glo dat ek hom gaan betaal.

Die vrou wat in die slaghuis werk, biltong verkoop en my glad nie ken nie, wat my avo’s vir my hou en gee.

Ek het sommer moed vir ons verder verblyf in Kuruman, wat die Noord-Kaap se misdaadmekka is.

Hier woon toe wel baie spesiale mense, eerlike mense, mense waarmee jy jou goed kan vertrou.

Sonder dat hulle jou ken.

En natuurlik is Frikke self ‘n eerlike mens wat ander vertrou. Met hom gaan ek nog baie besigheid doen. Hulle verkoop blykbaar ander soorte vrugte deur die jaar …

Die twee het my vertroue in Suid-Afrikaanse mense herstel.

Dankie julle twee!

Ek deel graag Frikkie se besonderhede as jy langs die N12 of N14 woon en ook wil bestel. Ek het ook deur hom ‘n kontaknommer vir Pretoria en Johannesburg aflewerings.

Die avo’s het in die week ryp geword, so een per dag. Hulle is groot en absoluut heerlik!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

30 gedagtes oor “Avokado’s … herstel vertroue in mensdom

  1. Lewer Frikkie nie dalk hier erens in die Overberg ook af nie? So ‘n man sal kan besigheid doen hier! Mooi storie wat netsowel hier kan afspeel. Daar is goud in die platteland.

    Liked by 1 person

  2. Kyk ek is eens met avo’ maak enige mens vriendelik en dokter alle skete in my kinders reg. Rudi het dit as klein mensie “Abo” genoem. Hulle weet as hier kom altyd in die huis 🙂

    Liked by 1 person

      1. Jong die goed word mos sommer in die rak gegooi. Dis jong mannetjies wat vere voel oor hoe hul die vrugte en groente hanteer. Dis of dit op oomblik erger is as wat dit was. Die seuns het nie gevoel vir die werk nie. Dis natuurli ingevoerde avos wat van vêr kom.

        Liked by 1 person

          1. Sal jou goed glo. My suster op Naboom het ‘n boom met groot botter avos gehad. Oooo dis die heerlikste avos so vars van die boom af. Hierdie avos hier is piep klein en nie juis smaaklik nie. Dis nou die NZ avos.

            Liked by 1 person

  3. Ek is dol oor avos maar hier in Pta is dit n teer sakie. Mens kan by verkeersligte sakkies koop maar dis die wat tonne vol geplunder word snags van die avo boere se bome af. Dit word ook nie ryp nie want dis te gou gepluk….so ek sal n Frikkie hier so ondersteun!!!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.