Eerste ballet in Qazaqstan: Romeo en Juliet

Een van die dinge wat ek graag wou doen as ek so naby Rusland kom bly het, was om ‘n Russiese balletuitvoering te gaan kyk. My vriendin hier weet dit, daarom het sy my laat weet die oomblik toe ‘n Russiese ballet hier geadverteer is.

Ons kon kies, Swan Lake of Romeo en Juliet. Aangesien ek Swan Lake al by Monte Casino gesien het, het ek Romeo en Juliet gekies, maar die ander wou Swan Lake kyk. Toe gebeur dit net so dat hulle lank draai om te besluit. En ons gelaat word met die enigste keuse: Romeo en Juliet. Die kaartjie.

e0676354-4160-45eb-8683-895dfb489937

Ek het geen idee gehad in watter ry ek sit of op watter stoel nie. Ek kon die skrif met die beste wil in die wêreld nie ontsyfer nie. Selfs nadat ek na ry 9 stoel 10 toe gevat is, het ek gewonder of ek op die regte plek sit. Lyk dit vir jou soos ‘n 9 en ‘n 10? Seker ja noudat ek verduidelik het.

Hoe gelukkig kan een vrou wees?

Manlief is natuurlik ook gelukkig, hy betaal die 10 000 tenges (R400) met ‘n glimlag, want hy hoef nie saam te gaan nie. Dit nou van die pa van ‘n dogter wat van 3 tot sy 17 jaar oud ballet het. En sy was goed. Sy het bykans altyd met die beste punte op Eistedfodds in Welkom weggestap. Langs my gesit terwyl die kompetisie dans en dan gesê sy gaan wen. Ek het probeer verduidelik van dit is OK as sy nie wen nie, maar sy het die foute uitgewys. Voete, skouers, hande, landings. En sy was elke keer reg, sy het gewen. En ek het tutu’s gemaak vir al die konserte, karakterrompe (daai goedjies is so mooi) en konsertklere. Goed wat ek lanklaas gesien het, my dollatjie is nou self mamma van drie seuntjies.

Terug by die konsert, ek het weer gaan dwaal in die verlede …

Hier sit ek en Mia in ons stoele, gereed vir die belewenis.

img_7050

Ek was nogal teleurgesteld toe dit nie in die groot teater gehou word nie. Ek en Mia het tot gister aanvaar dat dit by die splinternuwe teater sou wees. Die gebou was een van die eerste geboue waarop my man die naam kon lees na ons Russiese klasse: Teatr. Hoekom sal mens sukkel met ‘n e as die woord nie anders uitgespreek kan word nie? Ek wou dit so graag binnekant sien.

Die ballet was in die klein teater met ‘n ryk geskiedenis.

9541210d-ac43-49cd-b169-8f8171f98833

Die teater, met klaskamers vir ballet ook in die gebou. Tydens die Industriële Revolusie gebou om kinders besig te hou terwyl ouers in die fabrieke werk. Natuurlik iets wat ek nie van ‘n kommunistiese bestel sou verwag nie. Dat die kinders so kreatief besig gehou is terwyl die ouers gewerk het.

Ewenwel, die vorige keer toe ons daar was, was tydens ‘n fees. Die opgetofte dansertjies het in die gebou geoefen en uitgekom en my vriendin wou my wys hoe dit binne lyk. Ons is deur ‘n juffrou Rottenmeyer uitgejaag …

En nou mag ek ingaan om te kyk hoe die plek lyk! Ek sien vandag eers dat dit die metalurgiese museum ook is, dus sal ek weer moet gaan om die res te sien. Ek wil nou eers oor die ondervinding gesels.

Manlief het ons twee geneem, al is dit koud en ver na Dusty se garage toe, want hy is bekommerd oor ons veiligheid in die nag in ‘n taxi. Ons is wel veilig, maar wie stry nou as manlief hulp aanbied?

Mia was van mening dat ‘n langbroek nie deftig genoeg is nie, toe maak ek maar ‘n lang romp van warmer materiaal as die goedjies wat in my kas hang. Ek was darem warm genoeg met die dik sykouse wat mens hier kry. Ek moet tog onthou om dit saam te vat Suid-Afrika toe dat ek kan toets of dit daar te warm sal wees. Stewels tot by die knieë. Onderrok en warm jas om die prentjie af te rond. Ek wou nie mussie dra nie, dus is die kappie oorgegooi. Want dit het saggies gesneeu toe ons daar aankom.

Sodra jy deur die ingangsportaal is, kom jy by die jasportaal uit. Daar moet jou jas ingegee word, iets wat nogal kan irriteer, want dit vat nogal lank om jou jas weer terug te kry as almal gelyk uitkom en hulle jasse wil kry.

Die eerste ding wat my aandag getrek het, was die pragtige verhoog en die swaar geborduurder fluweelgordyne. Die Qazaqs hou baie van swaar, goue borduurwerk.

img_7056

Is dit nie vreeslik mooi nie. Luuks is seker die regte woord? Tweedens het die pragtige skilderwerk teen die dak my aandag getrek.

img_7055

Al was ek ongemaklik om te dink dat daardie massiewe kandelaar bokant my sitplek hang.

Al die dansers was ongelooflik en hulle gesigte en lywe het die storie vertel. Hier is ‘n kort video’tjie met ‘n pragtige voorbeeld van hulle kleredrag en die fyn voetwerk.

Tydens die nagtonele moes ek my oë mooi fokus om alles raak te sien. Op die foto’s lyk dit selfs moeiliker as wat dit was.

img_7057

Nog ‘n foto van die verhoog om die mooi daarvan te wys. Ek het my aan die raam waarbinne die ballet afspeel verkyk. Onthou, hierdie stad van ons is vanjaar 300 jaar oud. Ek wonder hoe oud die teater is. Sal bietjie ondersoek instel.

img_7061

Op die verhoog is Juliet se ma en pa, mens kan seker nie mooi sien nie, maar die kleredrag was pragtig en kleurryk. Die danser links in die rooi is deur Romeo se vriend doodgemaak tydens ‘n tweegeveg. Hier is nog ‘n foto om te wys hoe hulle kleredrag gelyk het.

img_7060

Nog een van haar pa en ma. Kyk net die detail aan die klere. En die pels om sy nek. Pure Rus!

img_7061-1

Ek is verstom oor hoe my foto’s soos waterskilderye uitgekom het. Die video’s ook.

Ek het ongelooflik baie gesukkel met die man en vrou voor my. Ek het gesukkel om om sy skouers te kyk, toe ruil ek stoele om agter ‘n tannie met ‘n boskaas te sit. Wat die een oomblik met die vrou langs haar praat en die ander oomblik met haar man aan die ander kant koer. My nek is vanoggend seer van al die om haar probeer kyk.

Laat ek eers gou weer afdwaal, dit laat my aan ‘n staaltjie uit my kinderjare dink. My pa het ons almal in die bakkie ingepas. Pa, ma en vyf dogtertjies. Ek was al redelik groot toe tweejongste al goed kon praat, dus was dit ‘n kuns om ons almal in te pas. Tweedejongste sus het op my pa se nek gesit. Ja, toe, ek weet dit is baie verkeerd. Maar ons het heelhuids ander kant uitgekom.

Ewenwel, die een dag kyk my pa nie waar sy wys nie. Toe sit sy twee handjies aan weerskante van sy kop en draai dit in die rigting wat hy moet kyk. Waarom vertel ek dit?

Ek het gisteraand haar pyn verstaan. Ek moes myself met alle mag bedwing om nie haar kop te vat en netjies in die middel van haar sitplek te plak nie. Met iets soos “Stay!”daarna.

Die tweegevegte het my na my asem laat snak. Ek het die hele tyd gevrees dat hulle die meisies se koppe per ongeluk gaan afkap. En ek het nie geweet of so iets deel van die storielyn is nie …

Hier is ‘n grepie uit die tweegeveg tussen Romeo se vriend en Juliet se eerste kêrel. Ons was mal oor hierdie danser en hulle het na die tyd vir hom ‘n harder geklap gegee as vir die vorige karakters.

Arme Romeo is toe by die tweegeveg  betrek omdat sy vriend doodgemaak is. Sy vriend het hard probeer om lewendig te bly, dan het hy weer ballet. Om weer sleepvoetend te dans. My hart was sommer seer dat hy dood moes gaan. Hier is ‘n stukkie uit die tweegeveg tussen Romeo en die eerste kêrel.

Sien wat ek bedoel? My foto’s lyk soos waterverfskilderye. Miskien omdat ek dit gesnoei het. As ek nie het nie, sou die dansers piepklein gewees het.

img_7058

Nog ‘n voorbeeld van my waterskildery foto’s van die ballet.

img_7058-1

Natuurlik luister ek met ‘n kritiese oor, my dollatjie het jare lank ballet. Ek het net een keer ‘n voet gehoor, Romeo s’n. En ek sal die man noot kwalik kan neem nie, kyk hoe groot is hy. En hy het geweldige spronge gemaak.

img_7073

Hierdie foto is aan die einde geneem, toe hulle vir ons kom buig het. Die mense het bly hande klap en hulle moes staan en terug na die groep gaan en weer kom staan. Toe word die gordyne toegemaak om te sê: Klaar is klaar!

Het jy die detail in die gordyne gesien? Pure Qazaqstyl.

Die manier waarop die Qazaqs hulle in die konsert ingeleef het, het my verras. Dit was veronderstel om 18:30 te begin. Maar vyf minute voor die tyd was ons nog buite die teater. Kwart voor het die gehoor ritmies begin hande klap om te sê: Toe, toe, julle is laat. Asof hulle nie vir die laat Qazaqs gewag het om die saal te vul nie.

In Suid-Afrika kan jy nie ingaan as die ballet klaar begin het nie. Selfs tydens my kind se konserte. As jy laat is, mis jy die eerste deel tot die deure pouse oopgemaak word. Hier het ‘n paar mense baie laat steeds ingestap. En dit het niemand gepla nie.

Na elke deel van die ballet is hande geklap, aan die einde lank en ritmies. My hande is so bietjie seer vandag, al het ek nie so hard soos hulle geklap nie.

Hmm, gisteraand het ek die indruk-truuk ook gebruik, was nogal lekker. Manlief wag buite en die mense lyk nie haastig nie. Vreemd genoeg het dit niemand gepla soos dit my pla as mense hier voor my indruk nie. Ek moet weet wat agter die indruk skuil, waarom dit toegelaat word …

 

12 gedagtes oor “Eerste ballet in Qazaqstan: Romeo en Juliet

  1. Lyk voorwaar soos waterverf skilderye!Dis altyd my geluk om iemand met groot hare of ‘n groot lyf voor my in ‘n teater te hê.😵
    Mooi beskrywing van alles, dankie vir deel.

    Like

Laat 'n boodskap na perdebytjie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.