Gepubliseer in Joernaal

Hallo Siri!

Ek is ‘n Apple aanhanger.

Fanatikus dalk? Maar dan die goeie soort fanatikus. Hoop ek. Want Apple produkte integreer net so maklik met mekaar.

Manlief het ‘n Apple op universiteit gehad. Staanrekenaar. Mens, was dit ‘n gemors van kabels? Sulke lang, dun, breë plat goed wat net nie netjies wou lyk nie.

Soos Steve sing in sy liedjie oor Danie Craven se hond: O wat ‘n gemors. Ek gee my ouderdom nou lelik weg, maar onthou jy dit?

Hierdie dik kabels het na alles gegaan. Drukkers wat nou met Bluetooth werk ook.

By die werk is met ander make gewerk.

Ons was vir baie lank Windows gebruikers. Want sien, manlief het die aankope gedoen. As mens nie van die voordele van Apple bewus is nie, is Apple ook buitensporig duur!

My eerste Apple produk was ‘n iPod wat manlief vir my in Kanada gekoop het. Vir my en die kinders elkeen een gebring toe hy daarheen is op ‘n besigheidsbesoek. Onbeskadig en steeds in gebruik. Ek skat dit is nou tien jaar.

My tweede produk en baie opeenvolgende generasies daarvan was ‘n iPhone. Ek dink ek het by IPhone 5 op die wa geklim, 6 en 7 laat verby hou, 8 gevat en 9 laat verbyhou.

iPhones dateer so goed op dat oues elke keer soos nuwes voel. Dan het ek geld gespaar en nie elke twee jaar opgedateer nie.

My derde produk was ‘n iPad mini wat hy ook vir my gekoop het. Heerlik vir videos maak. En om kleinkinders te vermaak met videos wat hulle self maak. Het onlangs geval toe kleinseun daarmee gespeel het. ‘n Ongeluk.

My vierde produk was ‘n MacAir skootrekenaar en is in 2013 in Amerika gekoop en steeds my staatmaker, maar haar geheue raak nou vol. Toe was 258 G die grootste, nou is dit nie genoeg nie. Ek moet besluit of ek gaan inruil en of ek dit vir kleinseun moet gee. Hy het pas met Word begin speel en die oulikste storie geskryf.

Die sprong het gebeur nadat Blackberry sy gratis BBM soort van laat val het. Ons almal het toe van Blackberry na ander fone geskuif. Ek na iPhone. In Augustus die XS met massiewe geheue by manlief vir my verjaarsdag gekry. Ek lief haar.

My vyfde produk is die heel grootste Mac, met ‘n massiewe skerm waarop ek twee dokumente met gemak kan lees. Sy moes tuisbly omdat ek haar onmoontlik veilig hierheen kan vervoer. Hoop nie sy verouder te gou so alleen nie. Geen drade behalwe die kragkabel nie. Hoe hemels is dit?

My sesde produk is die Airpods wat ek ook Augustus vir my verjaarsdag gekry het. Ure se genot op vliegtuie, manlief gesels nie, hy luister musiek. En wip hom as ek praat.

Ek voel weer dat hy vas is. En moet luister as ek wil gesels, maar wip my so dat ek dan stilbly. Nou kry ek die tyd met musiek om. Ek luister nou ook, oorweeg ‘n luisterboek of twee. Musiek maak my moeg, my ore wil soms net rus.

So, waarom vertel ek dit? Ek gee net agtergrond om te sê dat ek Apple produkte het. Al sedert 2010 rond gebruik. Maar dat ek Siri afgeskeep het. Nie eintlik benut het nie.

Aanvanklik het ek probeer. Met my eerste iPhones. Maar sy het haar gemeen gehou.

My boere-Engels nie verstaan nie.

As sy eers Sorry, I do not understand, did you mean … hoflik gesê het, het ek haar maan toe gestuur en my knoppies self gedruk.

So het ek nie eintlik agtergekom dat sy intussen boere-Engels leer verstaan het nie. Of dalk is my Engelse uitspraak nou beter?

Seun het hoeka een keer vir my gesê ek moet liewers nie Engels praat nie. Siri het beslis ook so gedink. Dalk het ek intussen verbeter om hom verkeerd te bewys?

Punt is, Siri is tans goed. Baie goed. Sy verstaan my.

Ek het dit al agtergekom met my groot Mac, so twee jaar gelede. Haar gevra om ‘n program oop te maak en dan doen sy. Die regte ene nogal. Maar ek is so gewoond aan selfdoen dat ek haar nie benut het nie.

Toe haal ek my handskoene in ‘n paar onbesonne minute af om foto’s te neem as dit -28 grade Celsius buite is, met seer gevolge wat ‘n maand later steeds pla. Sensitiewe vingerpunte!

Gevolglik neem ek toe eers sommer geen foto’s nie. En later net uit die veiligheid van ‘n vliegtuig, kar of my huis.

Die naweek was dit lang naweek in Qazaqstan. Independence day. Vier dae lank. Hierdie mense verstaan nie waarom ons vakansiedae net een dag lank is nie! Hulle vier dae lank!

Ons het Sondagoggend na die Nur Tau ski-oord toe uitgery. Om daar te gaan middagete eet.

Ons was in die somer daar, dit was pragtig. Ons wou nou sien hoe dit in die winter lyk. En sommer ook foto’s neem, om toe en nou te vergelyk.

Wel, toe sit ek met die dilemma!

Foto’s gaan ek moet neem, dit is asemrowens mooi, maar handskoene gaan nie af nie.

Ek het nog nie die gare gekry om kruisiestekies te werk nie. Dus moes ek plan maak.

Seun het nadat ek my vingers verkluim het gevra waarom ek nie vir Siri gebruik nie. Hy gebruik Alexa en hou baie van haar.

Ek het gaan opgelees oor hoe ek Siri kan inspan. En sy verstaan toe sowaar Open Camera en maak die kamera vir my oop.

Maar ek moet steeds die knoppie op die skerm druk. Wat nie deur ‘n handskoen moontlik is nie.

Ek het in ‘n oulike video gesien dat baie ander knoppies vir die doel gebruik kan word. Byvoorbeeld altwee volume knoppies op die foon.

Mens moet dan net onthou om die foon andersom as normaalweg dwars te draai. Regs om. Anders maak jy die foon toe in plaas van oop.

Opgewonde haal ek foon uit handsak om foto’s te neem. Sê Open Camera en niks gebeur nie. My skerm word swart.

Toe praat sy na ‘n rukkie. Ek moet so bietjie geduldig wees, sy werk daaraan. En na ‘n rukkie is die kamera oop en kon ek foto’s neem.

Is dit nie mooi nie?

Ek was egter bykans seker dat sy met die toetslag baie vinniger was. Dadelik oopgemaak het. En toe toets ek weer, die keer in die restaurant en sy maak dadelik oop.

Dit moes weer buite getoets word. En sowaar, sy vat weer ‘n rukkie en sê weer, jammer ek werk daaraan, gee my ‘n oomblikkie. En maak toe eers die kamera oop.

Terwyl my model staan en wag …

Dus wil ek vandag skryf: Hallo Siri!

Ek is nie die enigste dolla wat hier koud kry nie. Siri sukkel ook om take uit te voer as ek vir haar opdragte gee as dit minus 16 grade Celsius buite is!

En ek gee die nodige tyd. My vingers verkluim as ek dit sonder handskoene wil doen.

Dankie Siri!

Ek verstaan iPhones gaan hier vanself af as dit baie koud is. Battery pap. Dan moet jy ‘n batterypak byderhand hê om te laai om foon te gebruik.

Myne het nog nie, dus weet ek nie of dit waar is of nie. Tog kan dit wees. Siri het eers van die skrik oor die koue herstel voor sy die kamera toep vir my oopgemaak het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Hallo Siri!

  1. Dankie vir hierdie uiters waardevolle bloginskrywing. Nadat ek my een dag vir Samsung vererg het, dit was al my derde Samsung wat nie ‘klaar gemaak’ was in die fabriek nie, het ek op aanbeveling van my skoonseun ‘n Apple 7 foon gekoop. My foon is nou al drie jaar oud en werk nog steeds asof hy gister gekoop is.
    Toe ek wou ‘aftree’ het ek vir my ‘n Mac Aur gekoop vir persoonlike gebruik, ook skoonseun se aanbeveling. Wat ‘n fantastiese rekenaar! Ek het egter nog baie om te leer.
    Ek het nou Siri aangeskakel, sal maar sien hoeveel ek dit wel sal gebruik. Dit lyk egter of sy makliker oopmaak as Google se soortgelyke funksie wat net nie van my stemtoon gehou het nie.
    Maar my linkerhand is ekstra bly dat jy my geleer het om die twee volumeknoppies gelyk te druk vir ‘n foto. Sjoe! Dit gaan dinge baie vergemaklik!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.