Gepubliseer in Joernaal

Die spore wat ons los … Voortrekkers se nuwe lied

Ek was ‘n Voortrekker, in die hoërskool. Alhoewel my skool, Ermelo Hoërskool, baie groot was met 1200 leerders en ongeveer 10 matriekklasse, het EHS nie Voortrekkers aangebied nie. Ons moes na die tegniese skool – Ligbron – gaan vir Voortrekkers. Ek was dan ook Voortrekkeroffisier vir die kleintjies.

In matriek het ons die fakkel tussen Ermelo en Bethal gedra. Op die bus gewag vir jou beurt en dan die fakkel te voet gedra tot iemand anders oorneem. Laat ek bietjie lees warom die fakkel die land oor gedra is. Kan nie meer onthou nie. Kan net die opgewondenheid onthou. En nou kry ek niks op die net nie, sal moet verder soek.

My susters was ook Voortrekkers en my ouers was as heemsraadslede betrokke. Ek vermoed dit was om seker te maak hulle vyf dollatjies was veilig, ons was altyd waar my ouers was. Geen aflaai by iemand en ry nie.

So was ek met my dogter. Sy wou in standerd sewe by maatjies gaan oorslaap en dit sou ek slegs toelaat as sy Voortrekker is – saam met hulle. Sy het Voortrekker geword en beskou Doringkloof, die Vrystaatse Voortrekkerplaas by Kroonstad as die plek met die beste herinneringe.

Toe ek in 2002 by Welkom Gimnasium begin skoolhou, was seun se versoek. Vat ma asseblief ons span oor. Ek wou nie. Ek het weer Afrikaans Eerste Taal aangebied, wat nou as huistaal bekend staan. En dit was baie werk, aangesien ek ook tweede taal aangebied het in die nuwe skool. En … hekkies afgerig het. En die seunshokkie oorgeneem het.

Maar seun het mooi gevra. So gaan sien ek die Voortrekkerhoof, ek bied hulp aan, mits ek die graad sewes kan oorvat. Anders is ek regtig te besig.

Sy sê ek kan nie kies nie en ek sê dan is ek nie die jaar beskikbaar nie, ek moet my voete vind. Toe ek weer sien, het ek die graad sewes. ‘n Span wat jaarliks grgroei het sodat daar teen matriek 26 leerders in die span was. Wat ‘n voorreg!

Ek is nooit saam Doringkloof toe nie, dit het aaneen geloop met my week van hokkie in Potch. En ek wou nie twee weke van my huis af weg wees nie – lees manlief.

My span het goed gedoen, ons het die jaar die meeste hoofleierswagte en presidentverkenners in die land opgelewer. ‘n Prestasie. ir ‘n plattelandse span van die Vrystaat. Die groep kinders het dit vir my baie spesiaal gemak om hulle juffrou te wees.

Ons het aanvanklik by die Vaalrivier gekamp, sonder enige geriewe. Toilet was maar in die bos. Vir skoonword het ons op die boot geklim – in groepe – en in die middel van die Vaal gaan swem, hare ook so gewas. Ons het egter die week of lng naweek baie geniet en vele kentekens hier langs die Vaal nagestreef.

Lateraan was die huis gebou en het die kinders in die huis geslaap, bo. Toe was die stoep bo steeds oop. En ons het Maartvakansies hier Voortrekkerlewe uitgeleef, bootgery, op die water gespeel, die lewe geniet.

Vandag is my dogter Voortrekkerjuffrou, my oudste kleinseun Voortrekker, die kleintjies gaan volg.

En sy stuur ‘n skakel vir ons.

Die Voortrekkers het ‘n nuwe lied – Die spore wat ons los … gesing deur niemand anders as Adam Tas, wat Boer so gevoelvol sing. Hier is die woorde:

Die Spore Wat Ons Los

1. Ek is vas, stewig vas

op die Rots waarop ek hoop,

in my God, en in my woord.

 Ons bly saam, elke tree

in die skadu’s van die berg,

ons storie word steeds uitgekerf.

Koor:

En o (met heimwee) die spore wat ons los,

die spore het soveel gekos.

En nog steeds na al die jare,

is ons nog hier.

’n Nuwe droom in ons gebore

soos die toekoms wink vir ons.

Ons vergeet nooit die verlede

want dis deel van ons.

2. In ons durf, in ons daad

is ons tot soveel meer in staat

en ons sal oor ons helde praat.

Met een stem sal ons roep,

en opnuut die fakkel dra,

elke kind, en ma en pa.

Koor:

En o (met heimwee) die spore wat ons los,

die spore het soveel gekos.

En nog steeds na al die jare,

is ons nog hier.

’n Nuwe droom in ons gebore

soos die toekoms wink vir ons.

Ons vergeet nooit die verlede

want dis deel van ons.

Brug:

En as ons trek, trek ons saam,

Voortrekkers by die naam!

Die skakel na die digitale platforms is hier beskikbaar:

https://AdamTas.lnk.to/DieSporeWatOnsLos

Luister op YouTube:

Dit is so mooi, die verlede en die toekoms saam in ons spore gekerf. Ons trek saam aan mekaar se swaar. En die groot waarde … God met ons, Voortrekkers is gelowige kinders, daar waar geloof nog deel van die opvoedingstaak van die volwassenes is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

37 gedagtes oor “Die spore wat ons los … Voortrekkers se nuwe lied

  1. Was lekker om te lees van die Voortrekkers. My oom Badie Badenhorst was van 1966 tot 1981 die hoofleier van die beweging wat destyds betrokke was met due inweiding van die monument by Bloedrivier en die Taalmonument in 1975.

    Liked by 1 person

  2. Wye draaie gegooi.1ste skool was op Bloemhof(Stellenbosch),2de Eendrag(Pretoria),3de Akasiapark (Goodwood),4de skool Meidies Hoër (Pretoria) en 5de skool Lyttelton Hoër en dan nog iewers tussenin op Oudtshoorn en Westonaria ook!

    Liked by 1 person

        1. Ja, in Westonaria. 1971. Voor standerd 3 was ek in Modderfontein laerskool, dit was nog ‘n plaasskool. En ek was ook in standerd 4 in Modderfontein, die laaste jaar wat dit ‘n plaasskool was. Toe skuif die skool na Hillshaven.

          Like

  3. Die ou wat die skip beheer het,het fokus verloor en die hyser opgepluk terwyl pappa nog met een voet op die platvorm gestaan het om die klokkie se luisein te voltooi as aanduiding dat die hysbak maar kan vertrek. Hartverskeurend.Mamma was 27.Ons was 7 jaar en ‘n dag oud.Die goed uit die sleg is dat ons met mynbeurse kon studeer.

    Liked by 1 person

    1. Sjoe, julle het interessant gaan studeer. Dit is goed om te weet fat daar vir julle gesorg is. Die mynmense het by my pa vleis gekoop, dit is al wat ek toe van myne af geweet het. My ouers behoort egter die saak te onthou. Ek was te klein.

      Like

  4. Die Voortrekkers is ‘n baie goeie ding vir kinders. Ek was in ‘n plaasskool die eerste 3 jaar van skool en toe sluit dit en moes almal dorpskool toe gaan. Ons het by die plaasskooltjie Landsdiens gehad en omdat ons plaas redelik naby die skooltjie was (sowat 3km stap – veel nader as al die ander, alhoewel steeds relatief ver), het die ouer kinders op ons plaas gronderosie verhoed deur klippe te pak in plekke, waar die water die grond redelik erg verspoel het – as deel van hulle program. My een ouer sus was deel van die groep, ek dink ek was nog te klein om deel te neem. Ek wonder of skole nog Landsdiens doen?

    Liked by 1 person

      1. Ons was 32 kinders, 2 klasse en my klas was Gr1-St1. Baie lekker dae gewees! Ons Ho-erskool se leuse was: Padlangs. Ek hou van die skoolliedere, hier in Engeland het bitter min skole so iets. Nog nooit ooit by ‘n laerskool so iets gehoor nie. Ons het dit altyd trots gesing, uit volle bors met Die Stem.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.