Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Eskom steeds probleem

Op 7 Desember 2014 het ek ‘n inskrywing op Facebook gemaak, oor Eskom. Daardie tyd was ek ongelooflik vies vir die kragreus wat in ‘n kragmuis verander het. Ek was besig om die kurrikulum vir Instructional Techniques and Multimedia in Adult Education (INTMAEU), ‘n module wat deur Unisa aangebied word, te verander.

En het op my groot Mac gewerk. Wat veroorsaak het dat ek elke sekonde moes save omdat ek nie geweet het wanneer die krag af gaan wees nie.

Ons buurt se krag was so gereeld soos klokslag af. Die plakkerskamp twee blokke verder, het nooit kragonderbrekings gekry nie. Dan het ek so van my huis se stoep af gekyk, opgeblaas omdat my krag summier afgesny word as ek nie betaal nie. En ander krag het, sonder om te betaal.

Nou sit ek in Qazaqstan, waar die krag en water altyd beskikbaar is. As daar ‘n onderbreking is, is hulle besig met verbeterings. Hier mag die kragreus nie in ‘n kragmuis verander nie omdat mense in hulle huise sal verkluim as daar nie krag is om vir hitte te sorg nie. Ons gaan oor ‘n paar dae huis toe en die kragloosheid van die land gaan my tref. Daarom luister ek mooi na almal se raad so op Facebook oor hoe om die tye sonder krag te geniet.

Bly positief, skryf iemand. Dit is maklik as mens weet wanneer jy nie gaan krag kry nie, maar in ons buurt weet mens nie. Dit bekruip jou soos ‘n dief in die nag. Onvoorbereid. Terwyl jy werk verloor wat op jou staanrekenaar gedoen is. Op daardie een moes ek werk, want die skerm is soveel groter as my skootrekenaar s’n. Tog gaan ek die kragloosheid positief ingaan. Want hier is wel krag, maar geen son nie. Of liewer min son op min dae. Hier sneeu dit. Om die land in ‘n ysige, bevrore land te verander. Ek sien uit na son, sommer baie daarvan. Vir kragloosheid kan ek beplan, hoop ek.

Hier volg die inskrywing, waaraan ek vandag aangepas het. Is dit die skokkend nie? Vyf jaar later kon Eskom nog nie sy probleme uitsorteer nie.

***

Toe en nou!

Ons is amper weer terug waar ons ‘n halwe eeu gelede was, toe ek nog ‘n kind was – die tegnologie is net effens fancier!

Toe ek ‘n kind was, het ons ‘n generator op die plaas naby Modderfontein en Fochville gehad. Om krag in die huis te hê. Pa het die generator snags aangeskakel om krag te voorsien. Die growwe, swart, lawaaiende masjien het sy eie kamer gehad en ‘n slinger wat gedraai moes word om hom aan die gang te kry. Ek glo nie ek sou dit kon doen nie, maar ons is nooit naby die gevaarte toegelaat nie. My sus jonger as ek was altyd sy hulpvaardige een. Sy het een keer die masjien gaan aanskakel en die slinger in die masjien gelos. Dit was baie gevaarlik, maar my pa het die masjien gestop gekry om die slinger uit te haal. Toe kom Eskom en almal het krag en geen generators nie.

Vandag (2014) het ons weer ‘n generator gekoop. Omdat Eskomkrag vir 50 jaar lank toe net ‘n foefie was. Dié Eskom wat eens op ‘n tyd ‘n magtige staatmaker was, is in ‘n paar jaar deur skelms leeggesuig. Kan nie meer krag voorsien nie. Ons moet weer op masjiene by die huis staatmaak om ons eie elektriese krag te voorsien.

Ek moet werk, die werk vir die 2015-klas moet klaar. En ek kan nie vir ure sonder krag wees nie. Waarom krag bedags afgeskakel word, weet ek nie. Die rooi, lawaaiende masjien staan op my stoep, maar ek het geen idee hoe dit aangeskakel word nie. Daar is geen slinger om te draai nie. Die aan/af knoppie werk nie, die draaiskakelaar ook nie. Sms help nie, manlief sit iewers in donker Afrika by krag (ek hoop regtig net nie Eskomkrag nie!) en hy sien nie my noodroepe nie.

Ek moet kies – Eskom sy sin gee en ook te sleg wees om te werk, of uitvind hoe die ding werk. Bo-op is ‘n reeks riglyne, met prentjies wat nie naastenby wys waar wat is nie, maar ek verstaan dat ek al vyf stappe moet volg om die masjien aan te skakel. Ek soek my dood, al om die masjien en kry uiteindelik die masjien aangeskakel. Sonder om myself in die proses te beseer! Hierdie krag is egter van korte duur. As die petrol klaar is, sit ek weer sonder krag. En ek kan net enkele goed op een slag laat werk.

Toe ek ‘n kind was, het ons op die lampe in die huis staatgemaak om lig te maak. Die lampe het klein dogtertjies se vingers gebrand as hulle per ongeluk daaraan vat en het, soos nou, met parafien gewerk.

Nou (2014) is ons weer die winkels in. Om gaslampe en parafienlampe te koop. Sjoe, dit is vreemd om in die lig te probeer werk. Ek kan nie onthou dat die liggies so flou was nie. Kan wel die lawaai van ‘n gaslamp onthou. En die persagtige liggie van die sakkie. Vandag is die lampe ook fancier. Die wat ek by my ma gekry het, het sulke oulike groen tralies om die glas om te keer dat vrouens hulle vingers verbrand. En die kontrêpsies, wat die glas lig sodat ek die vlammetjie kan aansteek, werk soos ‘n bom. Die sitronella-olie krag is meerdoelig, dit dood sommer die goggas ook. Dus gaan ek ‘n muskietlose nag tegemoet. Die goedjies hou mos te veel van my bloed.

Toe ek ‘n kind was, het ons op kerse staatgemaak om lig in die huis te hê. Die kerse het sulke lang trane gehuil en oral gemors! ‘n Trek deur die huis kon die vlammetjie blus en my met ‘n spoed na die kombuis laat terugkeer om eers weer die vlammetjie aan te sit. Ek onthou hoe ek omgevlieg en teruggehardloop het. Op my tone om nie te raas nie. En dan gemaak onverskillig in die kombuis ingestap het om die vlammetjie by die tafel aan te steek.

Vandag (2014) gebruik ek weer kerse, maar dit is ook fancier. Dit ruik heerlik en huil nie meer sulke lang trane nie. En kan ook muskiete weghou.

Nou (2014) kort ek net sonkrag, want die generator se lawaai is net een te erg om regtig krag te wil hê! En die stil lampe en kerse kan ongelukkig nie my Appeltjie aandryf nie.

***

Sonkrag was egter onmenslik duur. Intussen het Eskom met tye goed gewerk en het ons die sonkrag-idee op die langebaan geskuif. Nou is die doodskoot blykbaar weer in sig.

Ek luister gisteraand (Desember 2019) na Walimar Pelser en prof Jannie op Kyknet Verslag. Ons magtige SAL is leeggetap, kan nie meer gered word nie. Is in finansiële redding geplaas, maar kan gelikwideer word en ten gronde gaan. As die onafhanklike persoon dit aanbeveel.

Daar was ‘n reddingsboei, Virgin Atlantic wou aandele koop. Waarom is dit nie aanvaar nie? Dalk koop hulle steeds, die keer op ‘n vendusie. Om skuldeisers te betaal. Dié SAL wat onlangs nog onder die beste in die wêreld getel het. Dié SAL by wie ons nie kaartjies durf koop nie, die kans is te groot dat die vlug gekanselleer sal word.

Eskom is ook ‘n staatsinstelling. Ook leeggesteel en wanbestuur. Wat gaan met ons gebeur as dit in redding geplaas word? As daar besluit word dat daar nie gered kan word nie?

Ons sal moet ophou om blindelings te vertrou. Vir onsself begin sorg. Sonkrag insit. En so kan ons selfs help om die grid aan die gang te hou. Want oortollige krag kan in die grid ingestoot kan word.

Waarom word dit nie as ‘n alternatief beskou nie. Sodat die wat kan kan help om die kragreus se arms sterk te maak. Terwyl die kragreus van sy onbevoegdes ontslae raak.

Intussen kry ek almal in SA jammer, maar dit gaan nie genoeg wees nie. As Eskom sy laaste stuiptrekkings gee, moet ons gereed wees om daarsonder klaar te kom. Hoe gaan ons daarvoor begroot?

As ek in beheer was, het ek die wanbetalers se krag afgesny. Tot hulle betaal. En ek sou ook krag na buurstate gesny het. Tot ek vir my eie mense kon sorg. Dan eers gee mens weg.

***

Ek sit in ‘n ander land wat amper so onlangs soos Suid-Afrika onafhanklik geword het (1991 versus 1994). Anders as Suid-Afrika, het die land die afgelope 28 jaar met rasseskrede vooruit gegaan. Nuwe stede gebou. Olie ontdek. Hier is krag, want die staatsinstellings word nie wanbestuur nie. En Guptas sou nie hier kans kry om ore aan te sit nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Eskom steeds probleem

  1. Ja/nee wat kan mens sê? Die kalf is in die put. Arme koei kan niks doen nie want sy het nie die vermoë om te red nie. Dis tragies. Hoe kan dit wees dat daar so n verskil in lande kan wees soos jy noem. Waar jy nou is floreer alles agv goeie beplanning en bestuur. In SA hoe kan mens oorlewing verwag as alles aan onopgeleide mense uitgedeel is. Ek sit met my pensioen wat ek elke jaar moet bewys dat ek nog leef en n lewenssertifikaat moet instuur. Hul stuur net nie vir my die vorm nie. Persoon wat na twee weke antw stuur sê hul het my vorm Feb 2019 ontvang. Hoe stupid is dit? Ek soek 2020 se vorm anders skort hul my pensioen Januarie op as dit nie gestuur is nie. Sug, kannie wen nie.

    Liked by 1 person

  2. In die meeste munisipaliteite kan ‘n mens nie krag terugstoot in die kraglyn nie. Toevallig is Bredasdorp een van die plekke waar jy dit kan doen. Dis hartseer.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.