Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Qazaqs: ‘n Facebook-lose nasie

Ons woon sedert Maart 2019 in Qazaqstan.

Qazaqstan is die 9de grootste land in die wêreld. Meet meer as 3 000 km van oos na wes, en meer as 1 000 km van noord na suid. ‘n Land met geen oseaan nie, grens wel aan ‘n see.

Die grootste binnelandse land.

Alhoewel die land so groot is, is dit een van die yl-bevolkste lande in die wêreld.

Qazaqstan was tot vanjaar bekend as Kazakhstan. Toe besluit die eerste president van die land, wat 30 jaar lank regeer het, dat die spelling moet verander. Om uitspraak te verbeter.

Qazaqstan was tot 1991 deel van Rusland en agter die ystergordyn versteek. Daarna het dit onafhanklik geword. Daarom is dit seker nie heeltemal verrassend dat daar so min oor hierdie land bekend is nie.

Wat vir my vreemd is, is dat hierdie land se mense nie inwoners van Facebook is nie. Alhoewel Facebook geskep is nadat die land onafhanklik geraak het.

Hulle is Instagrammers.

Ek het vir my ‘n Instagram rekening oopgemaak, waar ek so nou en dan foto’s deel. Sodat my vriende hier dit ook kan sien.

Hulle is so effens hoogmoedig oor die saak, Facebook gaan hulle nie probeer nie. Hulle is Instagrammers.

Ek kry egter nie vatplek aan Instagram nie. Voel soos ‘n fotoblad. Waar mens jou foto’s vasplak. Dit is al wat jy sien as jy na my profiel kyk. Mens moet op die foto’s kliek om kommentaar te lees.

Die belangrikste verskil is egter in die feit dat mens nie groepe kan vorm nie. Nie in groepe saam kan gesels nie. En dit is juis die groepvirmingsfunksie van Facebook wat my elke keer daarheen lok.

Instagram is vir my so bietjie soos Twitter, waaraan ek ook nie veel sin kry nie. Dit is soos om op die kerkplein op ‘n boksie te staan en jou sê te sê. Of om in ‘n vertrek in te hardloop, iets te skree en uit te hol. Sonder om om te gee wie reageer.

Ek hou van Facebook. Is in die laaste tyd wel skugter om familiefoto’s te deel. Deel eerder my WordPress inskrywings daar. Om so vir vriende van hierdie vreemde, half onbekende land te vertel.

Nie regtig veel oor die land nie. Eerder veel oor hoe dit is om in hierdie land te leef. En oorleef later van tyd. Want dit raak onmenslik koud hier.

Volgende week, wanneer ons na Suid-Afrika gaan om kersfees te vier, kry ons so yskoue skop onder die alie om ons aan te help.

Minus 24 grade Celsius om ons aan te help. Dit was onlangs minus 28 toe die koue my vingers gebyt het. Dus kan jy net voorstel hoe vinnig ek van woonstel tot kar en dan van kar tot lughawegebou gaan stap.

Blitsvinnig. Terug na my Facebookliefhebbende land!

Foto: 2 Desember 2019 op pad terug na Ust, vanaf Almaty.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Qazaqs: ‘n Facebook-lose nasie

  1. Ek hou nie op die stadium van Facebook nie omdat ek so baie tyd daarop moet spandeer, maar ek kom ook nie reg met Instagram en Twitter…..deel jou sentiment daaroor. Julle moet veilig reis maar ek is seker ons klomp gaan nog baie geselse hê voor Xmas!

    Like

  2. Baie geluk met jul 38e! Mag daar nog vele gelukkige jare wees. My eie Ma is kort voor hul 60e oorlede, hulle was steeds verlief en het oral geloop en handjies vashou.

    Facebook? As IT-kundige bly ek ver weg, dit bied te veel geleenthede vir phishing, kuberkrakers, ens. Dit spioeneer selfs op jou terwyl jy nie aangeteken is nie.

    Like

      1. Hulle weet waarskynlik ook jou banksaldo, watter debietorders volgende week afgaan, waar en wat jy koop, ens. Hulle weet dit ook van jou kinders en kontakte.

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.