Gepubliseer in Joernaal

Wat is jou talent? (Marnus van Staden)

‘n Storie uit die pen van my seun.

***

Sara blaas hard en skop stof op met elke tree. Sy druk haar bene tot dit nie meer kan nie, gee alles wat sy het en nog meer, maar weereens kan sy net nie vir Bertus vang nie. Hy is natuurlik salig onbewus van hoe hard Sara probeer om vinniger as hy te wees. 

Hy draai met ʼn glimlag om en draf sommer agteruit, steeds vinniger, en sê speels, “Kom Slakkie Sara, ons gaan laat wees en dan is al die hondjies weg!” Dit volg nadat Sara en Bertus se mamma vir hulle vertel het dat Leon se woef kleintjies gekry het. Leon het by die skool gesê dat die klomp te stout is en dat hulle nie almal kan hou nie. Leon sê sy pa gee vandag al die hondjies verniet weg. Sara en Bertus wou lankal hondjies hê en het vinnig na skool gesmeek of elkeen een mag kry. 

Die twee was so vinnig by die deur uit nadat hulle “Ja” gehoor het, dat Sara nie seker was of Bertus weet dat mamma “maar…” bygesê het nie. Nie dat Sara die verdere woorde gehoor het nie. Vandag was die dag wat sy verseker vinniger as Bertus gaan hardloop. 

Die tweeling was verniet bekommerd dat hulle laat sou wees, want al sukkel Sara om vir Bertus te vang, is sy steeds die tweede vinnigste in die klas. Dit help ook dat hulle die naaste van al hulle maats aan Leon se huis gebly het. Kort na hul aankoms het die twee met al die hondjies gespeel en hul keuses gemaak. Sara kies die spierwit hondjie met een kol oor sy regter oog en noem hom Prof, want hy lyk soos ʼn klein professor. Bertus kies die een met vier wit pote en noem haar Sokkies. Leon se pa waarsku dat skaaphonde baie aandag nodig het, maar as hulle reg geleer word, is hulle die beste maats om te hê. Omdat Sara nog nooit ʼn hondjie gehad het nie, het sy dadelik by die huis begin om navorsing te doen. Sy onthou dat Leon se pa gesê het dat Prof ʼn skaaphond is en soek dadelik raad oor hoe om ʼn skaaphond reg op te lei. Intussen het Bertus met die twee in die tuin gespeel. Hulle was gretig om saam met hom te hardloop. 

ʼn Paar maande later het Sara al vir Prof geleer om te sit, lê en selfs te rol wanneer sy so sê. Sy het hom ook mooi geleer om die tuin te gebruik as sy badkamer. Sy het seker gemaak dat hy elke dag genoeg oefening kry om van sy energie ontslae te raak. Sokkies is ʼn ander karakter en beweeg soos ʼn warrelwind deur die huis. Sy kou aan enige ding wat stilstaan, mors net waar die gier haar tref en die enigste toertjie wat sy geleer het, is dat sy vinnig genoeg moet wees om Prof se beloning, vir die suksesvolle uitvoer van sy toertjie, reg uit Sara se hand te steel. 

Een oggend word die tweeling wakker van mamma se geskree. Hulle hardloop in die gang af om te kyk wat aangaan en kom op ʼn hoop wol af. Mamma se nuwe skaapwol pantoffels. Sokkies dra al die skuld in haar gesig en Sara het nog nooit haar ma se gesig so rooi gesien nie. Mamma was lank geduldig met Sokkies se gedrag, maar die pantoffels was ʼn spesiale geskenk van pappa af. In haar woede sê mamma: “Bertus! Dit is die laaste strooi! Jy het een week om daai hond van jou maniere te leer voor ek …” en sy keer haarself voor sy iets sê wat sy nie bedoel nie. 

Bertus is baie bekommerd, want hy het geen idee hoe hy vir Sokkies maniere gaan leer nie. Hy gaan na Sara en sê “Sus, jy moet my net help. Ek is raadop en weet nie waar om te begin om vir Sokkies maniere te leer nie. Ek wil haar nie verloor nie. Hoe is jy so goed met Prof?!” Sara het nie die vraag van haar broer verwag nie en voor sy haarself kon keer skree sy vir Bertus terug: “Hoe is jy so vining?!” 

Bertus staar vir ʼn oomblik vir sy suster voor hy verstaan waarvan sy praat. “Pla dit jou …” en Sara sny hom af: “Ek is die oudste! Ek is veronderstel om die vinnigste te wees! Maar jy hardloop vir my weg asof ek stilstaan.” Bertus kan nie aan ʼn rede dink hoekom hy vinniger as Sara is nie en probeer haar gerus stel: “Miskien is dit omdat ek altyd my groente eet, soos mamma sê? Of miskien is dit my tekkies? My voete is twee mates groter as joune. Kan ek jou leer om so vinnig soos ek te hardloop? Ek het asseblief net eers jou hulp met Sokkies nodig.” Bertus is verleë. Sara voel skielik sleg oor haar uitbarsting en sê vir Bertus dat sy natuurlik sal help, want Sokkies is deel van die gesin. 

Die opleiding het gelukkig vinnig gegaan, want Sokkies is ʼn slim hond. Sy het die opleiding wat Sara met Prof gedoen het duidelik dopgehou, maar voorheen te veel energie gehad om te fokus. Op Sara se instruksie het Bertus seker gemaak om elke dag met Sokkies te gaan stap om haar rustig te kry. Wanneer sy rustiger is, het hy haar beloon vir goeie optrede. Aan die einde van die week het Bertus en Sara opgewonde vir mamma geroep om te kyk hoe goed gemanierd die honde is. 

Mamma glimlag breed en voel trots oor die moeite wat haar kinders gedoen het om te verseker dat haar toekomstige pantoffels veilig is. Bertus gee vir Sara ʼn stywe druk en sê: “Baie dankie vir al jou hulp. Ek belowe ek sal jou help om vinniger as ek te word!” eindig hy opgewonde. 

Sara lag vir die voorstel: “Dankie, Boeta, maar dit sal nie nodig wees nie. Ek dink daar is natuurlike talente, soos joune. Jy kan vinnig hardloop. Ek dink my talent is om te kan leer en ander te help om te leer. Hoe meer ek probeer, hoe meer gaan dit jou druk om nog vinniger te wees. Ek sal aanhou oefen, maar nie om vinniger as jy te wees nie, eerder om vinniger te wees as wat ek was.”

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “Wat is jou talent? (Marnus van Staden)

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.