Bergfietsry is nie vir sissies nie …

Ons het so twee jaar lank aan bergfietswedrenne deelgeneem – 2009 tot iewers in 2010. Ons dogter en haar man het dit begin en ons genooi om ook fietse te koop. Ek het laas as skoolkind fiets gery, ek was doodbenoud, maar het besluit om dié bul tog by die horings te pak en ‘n Merida aangeskaf. Dié aankoop is opgevolg met die nodige stywe broek, verskeie hemde, helmet, handskoene en die inkliekskoene. Dié wou ek nie gehad het nie, my voete moet vinnig op die aarde kon kom as ek dit nodig sou vind.

En so het ek en manlief begin spinklasse bywoon. Ons het so onderlangs by die kinders uitgevind oor hulle tye, ons fietse rivier toe gevat en daar gery en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle maar stadig is en dat ons maklik sou kon byhou. Ons het natuurlik nie geweet dat ‘n adrenalienjunkies die roetes uitlê nie … en dat dit nie naastenby so plat en breed soos ‘n grondpad in die Vrystaat sou wees nie …

Die Magaliesmonster

Ons eerste wedren was die Magaliesmonster naby Buffelspoort en Mooinooi. Dié naam moes iets vir my vertel het, maar dit het nie … Dus het manlief die langer roete gedoen en ek die 20 km ene. Dollatjie het ons gewaarsku om albei die 20km te doen, maar ons was baie slim …

Skaars ‘n paar meter van die beginpunt af, is ons deur dik sand, wat my amper aarde toegebring het. Ek wou mos na ander luister en die inkliekskoene aantrek. ‘n Ent verder is ons oor die smal damwal met geen reëlings nie. Aan my linkerkant was die boomtoppe en – ek wou nie kyk nie want dit moes ‘n verskriklike afgrond wees. Aan my regterkant was die afgrond diep genoeg dat ek nie na een van die twee kant wou afval nie. Ek het gemaak soos ek geleer is toe ek leer motor bestuur het. My oë op die eindpunt gehou en gebid dat ek asseblief nie daardie dag ‘n sosatievleisie vir ‘n klomp honger voëls aan een van die takke van die bome word nie. Anderkant gekom het ek my voete uit die pedale gesukkel.

Ek weet nie hoe die mense so maklik uit die goed kom nie, ek moes amper my heupe uit hulle potjies ruk. Daarna het ek my skroewedraaier uitgehaal en die klieks van my skoene afgehaal. Natuurlik nie die beste plan nie, want die hardesoolskoene het oor elke klip van die pedale afgegly en ‘n paar blou kolle veroorsaak. Maar ek kon af as ek wou af. En dit was elke blou kol op my bene werd.

Naby die einde haal die voorste jaers van die langer roetes ons in. Op ‘n baie nou paadjie met kranse aan die linkerkant en ‘n massiewe afgrond aan die regterkant. En dié mense skree vir my om pad te maak. Regtig? In die rots in of teen die afgrond af? En ek skree terug dat hulle maar kan kies aan watter kant hulle wil verbygaan – hulle is baie beter as ek met dié ding. Watter simpel mens lê ‘n roete in elk geval so uit dat die vinnige voorstes van een wedren die agterstes van ‘n ander een inhaal?

My tyd was nie te sleg nie, ek het voor baie jong mense klaargemaak. As jy die einde begin sien, moet jy eers deur ‘n sloot met water in! Die kinders was lank voor ons klaar en ons twee was lank voor die einde van die monster opgery.

Die roete naby die Boswell en Wilkie sirkusplek

Een van ons volgende byeenkomste het by die Boswell en Wilkie sirkusplek naby Walkerville begin. Dit was kastig ‘n plat roete!

Ons het ons dogter dié oggend vroeg opgelaai en die pad gevat. Op pad daarheen sê sy dat sy nogal bekommerd is – die roete was 45km en nie 30km nie. Ek lees nooit die fynskrif in e-posse nadat ek ingeskryf het nie, dus het ek dit nié geweet nie. Dit was bykans die helfte van die afstand langer as waarvoor ek ingeskryf het! Toe nie, dit was bykans 54km! Dan kan hulle ook nie eens die 5 en die 4 in die regte volgorde plaas nie!

Ek en ‘n kind was heel laaste. Stoksielalleen op vreemde grondpaaie en het al meer as 45km ver gery met geen sirkustent in sig nie. En ‘n vrou en kind het agter ons kom ry – met hulle oorverdowende vierwielfietse. Wat ‘n verleentheid volgens my skoonseun as dié fietse saam met jou inkom om oorverdowend aan te kondig dat jy heel laaste is … Ek het gestop en vir hulle gevra om terug te val, want die oorverdowende geluid maak my mal.

Op 50km het ek woedend op die grond gaan sit, my man gebel en vir hom gesê dat hy vir die organiseerders moes sê dat ek weier om verder te ry en dat hulle my daar moes kom haal. Met my medalje. Dit was reeds baie verder as die 30km waarvoor ek ingeskryf het. En in hierdie geval was meer nie beter waarde vir my geld nie.

Hy het getroos dat dit net 2km verder was. Toe nie! Toe ek die tent in sig kry, is die pad nie reguit tent toe nie, maar daar is sulke s’e in die veld gemaak sodat mens op en af moet ry tot jy daar aankom. Ek was rasend kwaad, verskriklik moeg en die twee op die quads het my verby perke gedryf. Dus het ek gestop, hulle geroep en hulle baie mooi laat verstaan dat ek die simpel tent kan sien, maar soos ‘n mier wat gif in het op en af moet ry om daar te kom. Hulle is toe maar vooruit en ek het elkeen doodgekyk wat wou waag om geluk te sê dat ek klaargemaak het.

‘n Sopnat Van Dalen kaasplaas

Die kersie op die koek was ‘n sopnat Van Dalen kaasplaas met ‘n adrenalien junkie wat die roete heen en weer oor die rivierloop uitgelê het. Ek jaag nie, daar is geen manier waarop ek my nek vir ‘n tweede keer gaan breek om ‘n punt te bewys nie, dus ry my gesin vir my weg.

Ek moes gereeld stop en die modder van my wiele afkrap. Ons is in diep water onder deur ‘n pad en kon dikwels die geluide hoor dat ons naby die einde is. Maar dan het dit weer sag geword as die roete ons weer deur die loop geneem en aan die ander kant uitgespoeg het.

Baie van die mense, my man inkluis, het nie weer deur die rivier gegaan nie, maar aan die een kant gebly en van die verkeerde kant af die wenpaal bereik. Ek het dit nie geweet nie en die roete gevolg.

Op een plek was die afgrond erg (foto). Ek het bo gestaan en planne beraam om onder te kom. Op sou ek nog probeer, maar af sou ek nie op ‘n fiets doen nie. Ek kon my fiets afgooi en hurkend afgaan, met my boude so na as moontlik aan die grond. Ek kon bel en sê hulle moes my kom haal – maar hoe sou mens verduidelik waar jy in die simpel bos is? Ek kon my fiets net daar los. Maar toe bied ‘n barmhartige Samaritaan aan om sy fiets eers oor te neem en dan myne. En so het ons saam-saam klaargemaak, met nog baie mense agter ons.

Ek het die roete sowaar weer ‘n tweede keer aangepak. ‘n Dameswedren is daar aangebied en ek was seker dat dié roete beter sou wees. Dit was, maar dit was ook een van my laaste wedrenne.

Ons dolla het ma geword, haar fiets opgepak en ek en manlief het nog so een of twee wedrenne alleen aangepak. Nou hang die fietse in stilte en wag vir ‘n volgende roete wat deur ‘n adrenalienjunkie uitgelê is. Ek nie, hulle raak maller met elke volgende roete.

Die bergfietsjuffrou

Voordat ons begin bergfietsry het, was ek die bergfietsjuffrou by die skool. Die ouers het alles gedoen, ek moes net die verteenwoordiger wees. Ek het soms uitgery na Klipriviersberg waar hulle deelgeneem het. En dan het ek en die ouers gesit en kyk hoe hulle 5km rondtes herhaal tot hulle klaar is. Terwyl ek die Magaliesmonster gedoen het, was my kop net op een plek. Genade tog, as ek geweet het waaraan ek die kinders blootgestel het, sou ek nooit dié posisie aanvaar het nie! Bergfiets is nie vir sissies nie.

Bykans ‘n dekade later

Nou is die stywe broeke en hemde netjies weggepak omdat hulle my so beskuldigend aankyk. Die gadgets is netjies in ‘n fietsrysak weggepak. Lus vir opklim het ek egter nie meer nie, daarvoor onthou ek die roetes te goed.

My vriendinne was verstom elke keer as ek foto’s op Facebook gedeel het. Hulle het ook gesukkel om te glo dat ek dit doen omdat hierdie oud-onderwyseres langs die atletiekbaan en hokkieveld in hoëhakskoene afgerig het. Met stywe, lang rompe. Dit het my ook verras dat ek met die skamele kleertjies rondgeparadeer het. Maar, mens maak mos maar in Rome soos die Romeine …

As ek so na die foto’s kyk, kan ek ook nie glo dat ek so mal was nie.

 

Ons Duitse herdershonde veroorsaak chaos in straat

Ons het altyd ‘n Duitse herdershond gehad – om ons te beskerm. En dié woefe het gereeld chaos in die staat veroorsaak. Veral as iemand dit sou waag om in die straat te wees as ons by die hek stop om in te kom. Enk dink sommer nou aan twee gevalle.

Naand meneer!

My sus Janet het ‘n rukkie by ons in Virginia kom kuier het. Ons is gou kafee toe en ek het gedink dat ons woef agter is. Toe nie. Toe Janet die hek oopmaak, sien hy ‘n vrou wat met ‘n bondel goed op haar kop in die straat verbystap en hy storm haar. Ek gil vir Janet dat sy in die kar moet spring sodat ek kan wegry aangesien hy dan sou vergeet om die vrou agterna te sit. In die truspieëljie sien ek hoe hy teruggaan huis toe en haar in vrede laat. Maar die straat is gesaai met die goedjies wat op haar kop was.

Dit was nog voor selfone dus kon ek nie vir manlief bel om te kom help nie. Ook nie laat weet dat sake effens onder beheer is nie. Ook nie kon vra om ons woef agter te sit nie.

Hy het in die bad gesit en die gegil in die straat gehoor. Uitgevlieg met ‘n piepklein handdoekie om die onderlyf om te kom red – verskrik en onder die indruk dat ons woef my suster gebyt het. En al wat hy in die straat sien, is die klomp goed wat in die straat lê en ons is skoonveld. Net toe hy in die straat instap om te probeer verstaan wat aangaan, kom die mynbus om die draai. Gepak met manne wat vir hom werk. Denkend aan sy skamele handdoekie vlieg hy agter die stam van ‘n sambreelboompie in – wat natuurlik nie naastenby dik genoeg is nie. Die bus stop omdat die goed nog in die pad lê, van die werkers sien manlief agter die boom en sê: “Naand, meneer!”

Ons wil liewer nie raai wat in hulle gedagte omgegaan het nie. Manlief met piepklein handdoekie, goed wat straat vol lê en vrou wat haar goedjies wil kom optel …

Ek gaan jou klap dat die vetkorreltjies spat!

‘n Ander keer het ons woef by die hek uitgevlieg toe manlief by die huis aankom en ‘n vrou in die straat in die bobeen gebyt.

Ons was wild verskrik. Dit het hy nog nooit gedoen nie. Hy het nog altyd net verwilder en veroorsaak dat niemand aan ons kant van die pad verbygestap het nie. Ons is uit om te gaan red, maar hy was al weer heel tevrede terug in die erf.

Ons het almal in die kar gelaai sodat ons haar dokter toe kon vat. Seun was nog piepklein en het agter by haar gesit. Daar was nie bloed nie, maar ‘n paar wit goedjies het by een van die gaatjies uitgedruk. Nadat ons by die dokter was, wou hy weet wat dit was. Die enigste verklaring was dat dit vetkorreltjies moes gewees het …

‘n Ruk later irriteer sy ousus hom, hy kyk haar so en sê: “Ek gaan jou klap dat die vetkorreltjies spat!” Dit het natuurlik ook ‘n grap in die huis geword …

Huskies lyk gevaarlik maar is ‘n lover

Toe ons groot stad toe trek, het ons besluit om in ‘n sekuriteitslandgoed in te trek. Nadat ons herdershond besluit het om die aarde te verlaat, het ek besluit om ‘n “gevaarlike” loverhond aan te skaf.

Huskies lyk soos Duitse herdershonde, maar is lovers. Dus het ek al amper begin vergeet watter chaos die Duitse herdershonde in ons straat veroorsaak het as ons tuis kom en iemand waag dit te naby aan ons.

Nevan is ‘n sweetie, verwelkom gaste met “hallo, hallo, hallo”, maar ons het ook baie stories oor sy wunderlust …

Ek, Sun City en my kinders se 30ste verjaarsdae

Ek sal my twee kinders se 30ste verjaarsdae nooit vergeet nie. Nie net omdat hulle my kinders is nie, maar ook omdat beide by Sun City gevier is en beide my hart amper laat gaan staan het weens die teenwoordigheid van ‘n aap of ‘n bobbejaan wat dit te naby na my smaak aan my gewaag het.

Vir Anja se 30ste het ons ‘n vakansiewoonstel by Sun City gehuur. En daar was gereeld ape in die omgewing van die woonstelle. So moet ek toe een dag alleen terug woonstel toe terwyl die mans en kinders aan die agterkant van die woonstel braai. Toe ek bo kom, sit meneer aap vir my en kyk, te naby aan my om gemaklik te voel. Ek sluit die deur vinnig oop, vlieg in en staan nog by die deur toe ek iets by die venster hoor. En daar sit aap se kind by die venster, loer deur die tralies vir my, vat aan die kant van die venster, maak oop en druk sy kop deur die tralies. Toe ek sien dat hy beplan om meer as sy kop by die venster te laat inkom, vlieg ek in die kamer in, sluit die deur (ek het mos gesien hoe maak hy ‘n venster oop?) en skree om hulp deur die kamer se venster. Tot groot pret van my gesin en vandag nog ‘n grap omdat ek nie by die kamer wou uitkom voordat almal my oortuig het dat die aap weer uit is nie. Met sy buit van vrugte en sjokolade!

Vir Marnus se 30ste het Grace ons genooi om vir die dag by hulle by Sun City aan te sluit –  gholf vir die manne en Valley of Waves vir die vrouens en kinders. Eers teen vyfuur het ek besluit om ook in die water in te gaan – eers opblaasbande saam met die kleinkinders op die Lazy River en toe opblaasbande saam met skoondogter, Grace. Na verskriklik baie trappe is ons amper bo. Grace stop en wys vir my dat ‘n massiewe, oorgewig bobbejaanmannetjie in die middel van ons pad verder sit. Een kyk vir sy slagtande het my laat vergeet dat ek op die opblaasband wou ry, hy kan dit maar alleen doen. Ek retireer totdat hy ons nie meer kan sien nie en vat die pad terug. Op pad af kom ons ‘n man en sy meisie teë wat nie na ons waarskuwings wil luister nie en ons besluit om saam met hulle terug te gaan, die oranje opblaasbande soos skilde tussen ons en die bobbejaan. Hy gee pad, maar die bome om ons kry lewe terwyl baie meer as een bobbejaan daarin rondbeweeg. Die adrenalienvlakke was so hoog dat die twee glye op die twee bane dit nie hoër kon druk nie.

Later die middag sit ek en oupa met Jaco (1 jaar oud) langs die kinderswembad. ‘n Bobbejaan waag dit naby ons verby, seker maklik twintig treë weg. En die volgende oomblik bulder Jaco iets in babataal vir die bobbejaan. So hard, dat ek en oupa amper van die muurtjie afval van skrik!

Ek dink nie my lewe het tydens hierdie drie gevalle verkort omdat my hart amper gaan staan het nie. Ek dink eerder die skrik het al my are mooi oopgespoel.

Kleinkindpret by Sun City

Lief my kleinkindseuntjies baie!

Gister wil ek so bietjie op die Lazy River se opblaasbande ry, maar sien nie kans om dit alleen dit alleen aan te pak nie. Izak en Chrisjan speel te lekker by die glybane en wil nie saam nie. Toe beraam ek maar ‘n plan.

Sê vir hulle dat ek dit wil doen, maar dat ek “bang” is omdat ek nie weet hoe dit werk nie.

Izak is dadelik reg om my te gaan leer en so kry ek ‘n les oor waar om die opblaasband te kry, waarheen om te gaan, hoe om in die band te klim en wanneer ek hom dan op my skoot moet tel. Chrisjan is ook saam, net om seker te maak ons twee verstaan hoe dit werk.

Toe Izak eers op my skoot is, is die lesse ook klaar. En toe ons deur die spuitende ape gaan – skaars nadat ons opgeklim het, skree ek en hy ewe hard toe die water ons oral tref en sopnat spat – volgens Izak was dit “awesome.”

Ek het die spulletjie die hele dag so bekyk en gedink dat dit nou een ding is wat ek nie gaan doen nie. Ons sou die aand saam uiteet en my nuwe kort hare sou dié natspuit nie geniet nie. Koninklike oomblikke saam met ‘n kleinkind kan mens egter nie laat verbygaan nie. En daarvoor is daar knippies ingepak om hare beter te laat lyk – net vir ingeval ek tog sou besluit om saam te swem …

A learning-oriented framework for eportfolios

I was involved in integrating eportfolios in the curriculum of a post-graduate module in distance education. In this paper, I discuss the learning-oriented framework I have developed to support the process.

The paper was published in November 2016 in the first issue of The AAEEBL ePortfolio Review. I am providing details for references at the end of this post as well as a link to download the paper.

cvanstaden-FIG-03-cvs

The paper can be read here, online, as well, just follow the instructions.


To read the paper online:   Click inside the PDF and scroll up or down.

 

[pdf]http://odel.co.za/wp-content/uploads/2016/11/AePR_Christa-ePortfolios.pdf[/pdf]

 


To download the paper:   Follow this link, and a new page showing the following table, will open. Click on the blue download link to download the paper.

screen-shot-2016-11-12-at-6-12-35-nm

 

For referencing purposes:

Van Staden, C.J. 2016. A learning-oriented framework for integrating eportfolios in a post-graduate module in distance education, The AAEEBL ePortfolio Review 1(1) pp-36-55, available at http://c.ymcdn.com/sites/www.aaeebl.org/resource/collection/ADB16DD5-E51C-4E02-9304-43CD83CED4BE/AePR_Nov_2016.pdf.

 

AAEEBL ePortfolio Review 1(1)

Follow this link to read more papers focusing on eportfolios.

 

Interested in submitting a paper to be published in The AAEEBL ePortfolio Review?

Follow this link for the access to the current Call for Papers.

 

Comments

Please feel free to comment here, or click on Contact me to leave a message.

Mahara: Hoe om jou e-portefeulje (versameling bladsye) te skep en in te dien

NEEM KENNIS

Jy kan al jou leertake op ‘n enkele bladsy plaas en die bladsy na gelang van die module benoem, byvoorbeeld INTMAEU. Dit is egter die eenvoudigste formaat vir ‘n e-portefeulje. Ek beveel egter aan dat jy ‘n bladsy vir elke leertaak skep. Om ‘n versameling (collection) te maak, volg hierdie stappe:

Kliek op Collections

Screen Shot 2017-11-04 at 6.21.37 nm..png

Kliek onder regs op New Collection en voltooi die vorm wat oopmaak deur ‘n naam vir die versameling te verskaf, die versameling te beskryf, en ‘n kernwoord (tag) te verskaf.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.22.36 nm..png

Onthou om op JA te kliek sodat die navigasie balk (navigation bar) op die bladsy sal wys. Jy kan bladsye op twee maniere by die versameling voeg. Die eerste manier is om bloot die bladsye vanaf die eerste kolom na die tweede kolom te trek.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.27.24 nm..pngJy kan egter ook op die blokkie langs elkeen van die bladsye in die linkerkantste blok kliek en dan op Add Pages kliek sodat dit na die regterkantste blok geskuif kan word.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.32.31 nm..pngNou kliek jy op die op- en afpyltjies aan die regterkant om die bladsye in die regte volgorde te plaas as dit nodig is.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.31.43 nm..png

Kliek op Done sodra jy klaar is. Jy sal nou jou versameling (collection) of e-portefeulje kan sien.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.33.20 nm..pngJy kan die volgende doen:

  • Kliek op die hamburger-ikoon (regs) as jy nog bladsye wil byvoeg of bladsye wil verwyder
  • Kliek op die pen-ikoon (regs) as jy die versameling wil redigeer
  • Kliek op die asblik-ikoon (derde ikoon aan die regterkant) as jy die versameling wil uitvee.

RAAD: Maak eers ‘n kopie van jou versameling (e-portefeulje) voordat jy dit indien. Kliek op Copy a collection en volg die stappe. Gee dit ‘n ander naam.

Screen Shot 2017-11-04 at 6.35.36 nm..pngDien die versameling in – dit is jou e-portefeulje!

Geniet dit!

 

Google is 19, spin die wiel en speel saam!

Kry ek nie nou ‘n lekker verrassing nie? Google is 19 en as mens op die drie-hoekie speel-ikoon in die loga van vandag kliek, kan jy speletjies speel.Screen Shot 2017-09-27 at 1.06.57 nm..png

Sodra jy daarop kliek, kan jy ‘n spinwiel sien

Screen Shot 2017-09-27 at 1.10.05 nm..png

Kliek op die wiel sodat hy kan draai om vir jou ‘n speletjie te kies.

Screen Shot 2017-09-27 at 1.10.19 nm..png

Jy moet op Click to Play kliek om te speel, anders kan jy die wiel weer laat draai om ‘n ander speletjie te kry.

Ek het eers die krieket een gekry en lekker gespeel. Nou het ek die slangetjie een gekry, maar ek is nie vinnig genoeg om te keer dat die arme slangetjie sterf nie.

Screen Shot 2017-09-27 at 1.10.30 nm..png

Lekker speel. Google verbaas mens gereeld met hulle oulike idees!