Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Ek is moeg getrek … en daar kom nog

Ek dink ek kan met ‘n eerlike hart sê dat ek moeg getrek is. Die afgelope drie jaar het ek elf keer getrek. En ons trek weer …

So laat ek dus tel waarom ek so moeg is.

1. Ons het in Maart 2019 met vier groot tasse, drie kleintjies en Thermie na ‘n pragtige woonstel in Oskemen in Kazakhstan getrek. As ek in die badkamer ingestap het, het musiek aangegaan. Dit was ‘n afgekeurde hospitaal wat 20 jaar lank nie klaar gebou is nie. En toe kry iemand die gedagte om dit in woonstelblokke te verander. Weens die plek naby die rivier het die inwoners die plek Riviera gedoop. Dit was egter nag. Ons was baie ver van alles af en moes ‘n taxi bestel – selfs om ‘n brood te gaan koop. Tog het ons die plek gekies omdat my woefkinders sou saamtrek na Kazakhstan. Toe kom hulle nie want seun het aangebied dat hulle by hom gaan bly. En besluit ons om weer te trek.

2. So het ons twee maande later na ‘n kleiner en leliker woonstel naby manlief se werk getrek. Dit was heerlik. Hy kon huis toe stap en ons het naby die mark, winkeltjies en alles wat ek nodig het. Ook naby Mia, die rivier en ek kon gerus oral heen stap, geen taxi’s meer nie. Daar het ons lank erg vasgevang gevoel toe ons sedert Maart 2020 nie huis toe kon kom weens die pandemie-beperkings nie.

3. In Julie 2019 het ons huis toe gekom om uit ons groot, dubbelverdiepinghuis in Ruimsig te trek sodat die huis verkoop kon word. Ons het in Kazakhstan besef dat ons nie so ‘n groot huis nodig het nie. Dit was een besige week en ons is doodmoeg terug Oskemen toe.

4. Ongeveer 14 maande later het ons in Julie 2020 1000 km suid getrek na Almaty, groot stad met baie om te doen. Mooi woonstel, maar ons kon niks doen nie, want daar was die eerste ruk steeds sterk inperkings. Op 3 Oktober 2020 kon ons begin opgewonde raak, want ons vliegkaartjies is nie weer gekanselleer nie. Die grense het oopgegaan sodat ons sonder beperkings in ons eie huis kon kom bly. En ons het die besluit geneem om vir goed huis toe te kom. Geen land sou ons weer keer om in of uit ons land te kom nie.

5. In November 2020 het manlief werk in die Noord-Kaap gekry en vir eers alleen in Kathu gaan bly. ‘n Woonstel agter in iemand se erf gekry en daar het ons vir een maand ten duurste gebly. Dit was die volgende trek.

6. Ons het tussen Oktober 2020 en Julie 2021 in ons leë huis oor naweke gaan bly. En so ‘n bed en yskas en so aan teruggetrek van die rivier af om gemaklik te lewe.

7. Toe trek ons na ‘n baie lelike groen huis in Kuruman, die pad tussen Kathu en die myn was net te sleg. En … manlief hoef nie meer naweke Kathu om huis toe te kom dat ons Gauteng toe kom nie. Hy kon sommer reguit na Kuruman ry en my oplaai en dan was ons al goed op pad teenoor die tyd toe hy Kathu om deur Kuruman moes ry.

8. In Julie 2021 het ons huis verkoop. Ons het dus ‘n klein meenthuis in Centurion gekoop omdat ons ook van Kuruman sou terugtrek Gauteng toe weens ‘n goeie werksaanbod. Dus het ons in Augustus 2021 in ons meenthuis ingetrek.

9. Die huis in Ruimsig het verkoop en sy meubels is na die meenthuis in Centurion getrek.

10. Maar, ons het skaars daar gebly, toe weet ons dat te klein te klein is. Ons sou die meenthuis uithuur en het ‘n aanbod op ‘n tweede meenthuis in Centurion gemaak. Gelukkig het die twee verkope soort van tegelykertyd plaasgevind en kon ons vanaf die een meenthuis na die ander een trek.

11. En nou maak ons gereed om meubels vanaf die rivier na ons huisie by die see te trek, wat so pas op ons naam geregistreer is.

12. Die seehuis en hierdie huis is te klein vir alles wat by die rivier is, dus gaan daar nog so paar vragte goed gelaai en iewers afgelaai moet word. Dit kan gelukkig nie as trek geklassifiseer word nie. Of nee, dit kan. Want die rivierhuis gaan op een of ander stadium ook leeggetrek moet word …

Kan jy verstaan waarom ek moeg is?

Die twee trekke in Kazakhstan en die een na Kazakhstan was nie erg nie. Ons moes tasse pak soontoe, huise word ten volle gemeubileerd verhuur. Vir die twee trekke daar, moes ons wel dit wat ons aangekoop het om te eet en die lewe lekker te maak, pak en trek. En om terug te kom, moes ons die meeste verkoop of weggee en ‘n klein bietjie pak om huis toe te bring.

Dusty moes ook gaan …

Dit was hartseer, maar ek het my eie kar in Suid-Afrika, dus was ek nie sooo hartseer nie. Maar, ons oë mis nie Dusters op die pad nie. Want ons het Kazakhstan met ons Dusty leer ken.

Iemand wat meer as ek getrek het die afgelope drie jaar? Dalk in ‘n leeftyd? Ek gaan dan steeds wen, want as vrou van ‘n opkomende mynbou-man het ek dalk selfs meer as 11 keer voor 2019 getrek …

Hooffoto: Dusty op die trok vanaf Oskemen na Almaty. Lekke rvuil, manlief het haar dadelik laat was. Die geel nommer plaat het aangedui dat ons uitlanders is en gereeld veroorsaak dat polisie ons van die pad af trek. Sodra ‘n motor verkoop word, word die nommerplaat vernietig – dit behoort net vir daardie tyd wat dit jou kar is aan jou!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Ek is moeg getrek … en daar kom nog

  1. Ek het ook al baie getrek. Ek dink jy wen eerste prys vir die Groot Trekker, maar ek is op jou hakke! Ek verstaan jou trekmoeg. Hopelik is dit nou oor. Sterkte. Vasbyt.

    Liked by 1 person

    1. Ai Anne, dit is erg om in sewe skole te wees. My dogter was in Graad 8 in haar 9de skool. En toe moet ek en haar pa belowe, dit is haar laaste skool. Daar is ‘n koshuis. Maar dit was toe nie nodig om koshuis toe te gaan nie. Seun is ook deur die skool toe sy reeds uit is. Hy was dus in heelwat minders skole as sy.

      Like

    1. My wortels sit nie so diep nie, ek gaan waar my man is. En hopenlik is dit naby my kinders ook. Maar, die gepak en soek vir plek en weggee van te veel en aankoop van te min maak my moeg. Ookdie feit dat my tyd gesteel word ….

      Like

Laat 'n boodskap na Anoniem Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.