Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Buffel-dogtertjies by die speelplek

Ons landgoed het ‘n hele klomp geld uitgegee om ‘n speelplek vir die kinders by die klubhuis te bou. En ek het met soveel opwinding in my hart met kleinseun tot daar gestap om die vordering van die plek te beskou.

Ons twee het aanvanklik elke oggend so teen 10:30 daarheen gegaan dat hy so teen 11:30 moeggespeel kan wees. Dan het ons huis toe gegaan, het ek hom in sy stootwaentjie gesit met ‘n storie en dan slapies hy terwyl ek nie omgee hoe lank ek moet stoot nie omdat ek my 30 minute oefening moet inkry.

Maar, dit het gou sleg geword. Omdat daar soveel buffel-dogtertjies by die speelplek is. Met mammas wat sit en tee drink en nie toesig hou nie. Dus moet hierdie ouma die toesigwerk doen.

‘n Dogtertjie van ongeveer agt jaar oud het haar dinosaurus pop byvoorbeeld onder die ou tweejarige kleinkindjie van my se neus kom druk terwyl hy heerlik in die sirkel vol plastiese balle gespeel het. Hy is mal daaroor om so half versteek onder die balle te sit-lê. Toe die ou handjie uiteindelik reageer en die dino vat, kla sy by my dat hy die pop nie wil teruggee nie. Toe moet ek ‘n huilende seuntjie oortuig om die pop vir haar terug te gee … ‘n onnodigheid.

Ek en hy gaan speel toe maar liewer in die arena langs die kamer vir kleiner kindertjies. En daar moet ek ook raas. Sy wil by elke glyplank – daardie wurmsoort wat ook by Wimpy’s en Spur’s is af. Direk na hom. Dus tref sy die seuntjie in die rug terwyl hy nog afgly want hy het nie die momentum van die groot dogter nie. En weereens moet ouma troos.

Ek raas dat sy dit nie kan doen nie, hy is nog klein. En sy “I did not know” my.

Toe ry hy maar op die plastiese motorfietsies wat daar is. Net sodat sy en haar kleiner maatjie op die groter motorfietsies spring. Kleinseun is baie, baie vinnig op die fietsies. En sy skree vir die ander een dat hy nie mag wegkom nie, dus vat hulle kortpaaie onder deur die wurms om in hom vas te ry! En as ek raas, doen sy dit net weer.

“I did not know.”

Regtig?

Toe is ouma baie kwaad! Ek vertel haar toe baie mooi dat dit nie mooi is om ‘n boelie te wees nie.

Sy wil toe vir my kom wys dat sy ‘n gebreekte toon het. En ek kyk net na wat kleinseun doen en maak of ek nie Engels verstaan nie. Want op daardie oomblik sou sy geen simpatie by my kry nie.

Dalk het sy ander kleintjies geboelie toe die toon gebreek is? Dalk is dit haar verdiende loon? En ek was sommer ook kwaad vir myself – hoe kan ek dink dat dit ‘n kind se verdiende loon is as sy ‘n toontjie breek? Dus hou ek nie van die vrou wat ek by die speelplek moet wees om ‘n babaseuntjie te beskerm nie.

En deur die hele gesukkel sit die blonde ma en haar ewe blonde vriendin en kyk wat aangaan, sonder om in te meng. Ek was so lus om vir hulle baie mooi te gaan vertel wat ek van hulle dink. Net mooi niks nie!

Verlede week is ‘n swartkopdogtertjie daar. En sy en ‘n groter blonde meisie dink dit is baie oulik om hoog in die lug oor die tralies te klim. Gelukkig was manlief saam, het hy buitekant tee gedrink en my gewaarsku om te kyk wat kleinkind doen. Ek het gewag dat hy onder by die een wurm uitkom en nie gesien hy klim oor die tralies nie …

En so keer ek hom net toe hy amper oor is … en die ou dingetjie sou vir seker baie ver geval het. Ek het so groot geskrik. Want dollatjie se jongste het juis so maand of twee gelede sy arm by die kleuterskool op die klimraam gebreek!

Ek vra toe dat sy dit nie doen nie, want die ou kleintjie volg haar voorbeeld. Haar ouma sit binne, kyk na alles en raas ook nie. Toe sy my vol in die gesig kyk en dit net weer doen, het ek geraas dat sy die klimraam moet gebruik soos dit gebou is. En nie andersom nie.

Sy het geluister, maar toe sy later agter haar ouma uit die speelarea kom, het sy my die vieslikste kyk gegee tot sy my nie meer kon sien nie. En seker gedink ek skrik vir haar kyk.

Hierdie juffrou het haar lewe deur vir tieners skoolgehou – tot matriekvlak. Maar ek moet erken, nie een van my skoolkinders het my ooit so ‘n vuil kyk bly gee nadat ek geraas het nie. Hulle het ten minste verstaan waarom ek geraas het. Hierdie dogter (skuus ek wil nie dogtertjie vir buffels nie) dink ek is die vark in die verhaal – nie sy nie!

Weereens is die ouma nie betrokke nie. Ek moet die gevaar ontlont. En die vuil kyke van ‘n laerskoolkind aanvaar, want daar is geen respek vir gesag nie.

Verlede Sondag het skoondogter met kleinseun gaan speel. En die blonde dogtertjie het weereens vir kleinseun geboelie. Opgetel en rondgedra. Wat hom boos en huilend gemaak het.

Het ek al vertel dat die kind maklik tussen Afrikaans en Engels oorskakel? Hy het haar met sy vingertjie swaaiend ge”No, no, nooooo!” Maar sy wou net nie luister nie. Al het skoondogter vir haar gesê dat sy hom moet los.

En dit maak my baie kwaad.

Veral omdat ek vermoed dat die mammas hulle grootmaak om nie te weet hoe om met ander te speel nie.

Ek was die een dag so verras deur kleinkind se optrede. Daar was geen kinders nie en ek en hy het tee en melkskommel gedrink in die grootmensdeel van die klubhuis. Toe kom ‘n dogtertjie van sy grootte by ons verbygestap na die speelkamer toe.

Hy is dadelik op, “maatjie”, die melkskommel vergete. Agter die dogtertjie en haar ma aan. Net om in die kamer te sien hoe die mamma die dogtertjie basies van hom af weghou. Soos sy ook ‘n vorige keer gedoen het. Hulle het gesit en inkleur by die een tafeltjie en toe hy saam wil inkleur, het die dogtertjie agter haar ma gaan wegkruip.

Maar sy help darem om vir my te wys waar die inkleurpapier is. En toe gaan sit ek en kleinseun by ‘n ander tafeltjie en teken. Toe ek weer sien, kom drie swart baba-oppassers daar aan, elkeen met ‘n seuntjie van tussen ‘n jaar en twee jaar oud aan die hand. En kom sit die seuntjies op die stoele by kleinseun en teken hulle al te lekker langs mekaar speel.

Terwyl sommiges nog probeer om die kryt eerder te eet as om daarmee te teken.

Terwyl die dogtertjie geen maatjies het nie en kyk hoe die vier seuntjies by my tafel sit en teken. ‘n Ma wat dit geniet om die kind so afhanklik van haar te hou, doen die kind geen reg aan nie. Maar, sy meng ook nie met ons ander nie. Ek het al probeer gesels, sy ignoreer my basies. En toe is sy baie verras toe die oppassers van my tafel as die skool praat … en ek daaroor lag en aspris vertel dat ek ‘n juffrou is. Toe hulle wou weet of ek afgetree het, het ek vertel dat ek navorsing doen.

Later het een oppasser met ‘n tweejarige swart dogtertjie aangekom. En sy het al haar dae om die kind te probeer leer om te deel, om nie alles vir haarself te wil vat nie. En om te keer dat sy die seuntjies se goed vat.

En hierdie dogtertjie het sommer ook besluit om my vuil kyke te gee! As ek nie eens met haar geraas het nie. So speel sy die week op die swart motorfietsie met die geel wiele. En kleinseun op die een met blou wiele. Hy hou van die geel wiele, dus het hy net gewag tot sy op die klimraam klim om die fietsie oor te neem.

En toe sy sien dat hy op daardie een is, is daar oorlog. Sy huil dat die neusie loop en die trane op die vloer spat! Kwaad-kwaad-kwaad!

Ek vra kleinseun om die fietsie terug te gee. Maar, die oppasser keer. Sy het die fietsie gelos en sy moet leer om te deel. Sy kan die fietsie nie terugkry omdat sy oorlog daaroor maak nie.

Ek gaan haal toe maar die blou wiele ene, maar sy kom na my aangestorm en stamp die fietsie om toe ek dit vir haar gee!

Ek het my wenkbroue gelig en omgedraai. En vir kleinseun gevra om eerder op die een met die blou wiele te ry omdat sy baie hartseer en kwaad is. Hy is op en weg, al om die klimrame op die pad wat vir hulle gemaak is.

Die oppasser het egter gekeer dat sy die fietsie met die geel wiele vat. As sy so daaroor wil oorlog maak, kan sy nie haar sin kry nie. Die vloermoer help nie, die oppasser het gepraat.

Toe kleinseun weer omkom, tel sy hom op en sit sy hom op die geel wiele ene neer. Dat die dogter weet dat sy dit nie kan vat nie.

Ek het dit nie gesien nie, was agter my rug.

Die volgende oomblik huil kleinseun hartverskeurend toe hy op die geel fietsie sitgemaak is. Dit het toe nie gehelp nie.

Ek het hom opgetel en getroos en hy het met my hare gespeel. Wat aandui dat hy eintlik vaak is. Toe laat weet oupa dat hy buite is, ekk het hom voor die gehuil gevra om ons te kom haal omdat gat tien en elf skielik vol spelers was. En ons nie padlangs huis toe kan stap nie.

Hy het opgehou huil toe ekl vir hom sy pakkie Cheesenaks aanbied. En in sy karstoeltjie gesit en eet. Ek het koeldrank aangebied en ons het gou na seun se huis gery om die waentjie te gaan haal.

Oupa het gesê dat hy nie gaan slaap nie. Maar ouma het geweet … hy was moeg. Vyf minute later sê ek oupa kan maar omkyk, die ooglede het baie swaar geword. En toe is hy in droomland …

Maar, die ongeskikte dogtertjies is juis die rede waarom ek vandag skryf.

Die drie dogtertjies waarmee ek moes raas, en die een wat nie maatjies wil maak nie, was almal saam met hulle ma’s of oumas. En hulle het geen idee hoe buffelagtig hulle teenoor ‘n ou seuntjie optree nie. Die ma’s en oumas het hulle ook nie gehlp om te verstaan hoe mens saamspeel nie.

Die swart dogtertjie gaan dalk beter uitdraai as die dogtertjies wat onder hulle ma’s en oumas se sorg in die speelplek speel. Maar ek weet nie of die oppasser se metodes gaan werk nie omdat die dogtertjie se ma blykbaar toelaat dat die ouer seuntjie vir die oppasser skree:

Shurrup!

Ek wonder of die ouers besef watter soort dogtertjies hulle grootmaak as hulle nie ingryp wanneer dit noodsaaklik is nie? Ek het die nare vermoede dat al vier dogters buffels gaan word. Daar is ‘n ander diersoort se vroulike vorm wat dalk beter van toepassing gaan wees, maar ek verkies tog om nie so na vrouens te verwys nie. Nie eens na my eie woefdollatjie nie!

Die drie seuntjies met die oulike maniere en mooi houding teenoor my was almal saam met hulle swart oppassers. En hierdie drie vrouens behoort gehuur te word omdat hulle die seuntjies leer om te deel, om saam te kuier – al is dit nog langs mekaar. En ek vermoed die seuntjies se mammas werk net so hard tuis aan mooi maniere.

Terloops, al die kindertjies is wit, behalwe nou vir die swart dogtertjie.

En ek hoop dat die mense wie se seuntjies by die speelplek onder die toesig van hulle oppassers is, weet watter juwele hulle in diens het. Ek sal elkeen van hulle sonder voorbehoud aanbeveel!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Buffel-dogtertjies by die speelplek

  1. As teachers we have met far too many parents who ‘wash their hands’ of any responsibility regarding their children once they step over the threshold of a school. As you have observed here, the same applies to any public space – and even in the homes of the people they visit!

    Liked by 1 person

    1. Ag, Anne, dit is so hartseer. Want daar is een massiewe verskil tussen die maniere van die seuntjies wat deur oppassers grootgemaak word en die dogtertjies wat deur ma’s en oumas grootgemaak word. Dit maak mens aan die een kant hartseer, maar aan die ander kant is ek verskriklik beïndruk met die oppassers se werk.

      Liked by 1 person

  2. Respek en basiese maniere … dis eintlik so eenvoudig. En iets wat my ouers my van ‘n baie jong ouderdom af geleer het – ek dink as ouers dit kan regkry (en is dit regtig so moeilik?), gaan ons jongklomp ‘n spogklomp word. Maar dan … ek is nie ‘n ouer nie en weet nie veel van kinders grootmaak nie, maar ek weet wat dit is om respek vir mekaar te he.

    Liked by 2 people

  3. I thought that’s tricky work navigating through that maze of child’s-play! Then just before I read the following this is exactly what struck me as perhaps the missing component with many children and adults as well these days. “There is no respect for authority.” That’s got to be it or a big part of the problem; I see it as a bigger societal problem to be quite honest where lack of respect overall is running rampant coupled with a lacking of kindness and consideration; thus hardly any manners or a healthy give and take between human beings or true cooperation! The adage of “it’s my way or the highway” comes to mind here and I bet the parents if they were observed very carefully throughout the day without their knowing it especially; would readily display this lack I point out from your experience!
    I have no children but many nieces and nephews and I’ve seen a change in behavior or attitudes with the young people following in suit with the change in the adults in this world today; sad to see but the common reality! I might be oversimplifying things in many people’s minds but perhaps the lack of genuine faith in God and an overall loss of a genuine meaning to life with respect and love of God has crippled civilization immensely; the old adage “trying to go it alone” is what many human beings have become, kind of like a sinking ship and its “everyone for themselves;” and it is “going off he rails sadly!”
    I pray things improve, especially for the younger ones coming up into this complex world!

    Blessings to all and thank you for this insight or view!

    Liked by 2 people

  4. I hope I don’t overload here but it slipped my mind until later responding to another posting; that I had written a lengthy piece about what I think is the root cause of human conflict these days.
    Again I hope I’m not offering too much but I just hope there is something helpful for anyone who needs it in here.

    “Jesus had much to say about selflessness during His earthly ministry. In the Sermon on the Mount, He goes beyond what some may think of as selflessness.”

    https://lawrencemorra.com/2022/06/13/selflessness-devoid-of-selfishness-saint/

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.