Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Pretoria tweede koudste plek in land vandag

Dit reën sedert Vrydag elke dag. Sag, maar deurdringend. En dus is die Hennopsrivier weer te vol. En word ons gholfbaan weens oorstromings gesluit.

Ek is elke keer verras oor presies hoe vinnig hulle die baan weer skoon kry, maar dit is nie waaroor ek wil gesels nie.

Want ek kry koud …

Ek dra vandag my Kazakhstan stewels, die stewels wat ek in die winter gedra het, maar darem sonder wolkouse.

Ek dra vandag my Kazakhstan stywe langbroek, die ene met wol aan die binnekant.

Ek dra vandag my K-way donsveerbaadjie, die ene wat ek in Kazakhstan gedra het in die lente en herfs, wanneer dit so koud soos Suid-Afrika se strafste winters is.

Want ek kry koud. En dit is nie naastenby so koud soos in Kazakhstan nie. Dink ekke?

Ek sit en wonder of my yster weer te laag is. Dit is moontlik, maar ek drink die pille meer gereeld as die vorige maande. Ek kan net nie onthou om ‘n pil te drink nie.

Daarom dat ek nooit op Die Pil was nie – ek sou vergeet om dit te drink. Of liewer, ek was ‘n maand daarop, maar dit het my so siek laat voel dat ek dit nie kon gebruik nie. Maar daaroor wil ek mos nie gesels nie.

Ek wil gesels oor koud en ek wat Kazakhstan warm aantrek in die land van ons wat nog nie eens sy winterskoene begin aantrek het nie.

En dit het my bekommer, daarom het ek maar so hier en daar gevra of my gaste ook koud kry. En so probeer assesseer of dit regtig koud is. En of my yster my weer in die steek gelaat het.

En toe vertel manlief vanaand vir my die nuus. Die Jakaranda stad was vandag die tweede koudste stad in die land. En ons is reg by Pretoria.

Ek het selfs met ‘n Kazakhstan mussie op gaan stap toe ek en seun en kleinseun in die reën gaan stap het … en hy het een van ouma se mussies ook gedra – dus ‘n dubbele Kazakhstan.

Het ek al vertel dat ek heimweë het?

Ek vermoed dit is omdat ons nie mooi kon groet nie. En waarskynlik nooit weer daarheen sal terugkeer nie.

En tog weet ek dat ek nie weer daar sal wil gaan bly nie. Ek kry nou so koud en dan wonder ek: Hoe het ek in -38 grade Celsius oorleef?

Die antwoord daarop ken ek seker ook. My huis daar was baie warmer as my huis hier. En dit is tog waar ek die meeste van die tyd is.

In my eie huis.

Hooffoto: Deur my vliegtuigvenster op 2 Desember 2019, op pad terug nadat ons gou in Suid-Afrika ‘n draai kom maak het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Pretoria tweede koudste plek in land vandag

  1. Dis moeilik om te dink dat dit elders in Suid-Afrika so koud kan wees … terwyl ons hier aan die Weskus met kortbroeke en T-hempies rond loop. Dis warm – somer warm … en vandag gaan ons weer by 30 grade draai 🌞.
    Geniet jou warm Kazahkstan klere (dalk maak dit die heimwee bietjie minder).

    Liked by 2 people

    1. Ek stem saam, ek het altyd aan Gauteng gedink as warm. Ek is skoon jaloers dat julle warm kry. Ek het netnou in die reën met my een Kaz jaz gaan stap. Dit het snaakse kappie, ek dink ek sal daaroor moet skryf. Maar ek verstaan elke keer waarom die Kaz klere so anders lyk. Terwyl dit gereën het, het ek met die kappie oor my hare geloop en het geen druppel naby my gekom nie. Terwyl diegene om my met reënjasse en sambrele moes loop!

      Liked by 1 person

  2. Hi! Ek het gou kom inloer – laaste paar dae van die vakansie. Jammer dat ek so skaars is, jy weet mos hoe dit gaan die kant. Bly julle nou in Centurion? Dis mos waar die Hennopsrivier is – as ek reg onthou? Net ‘n paar dae terug het ek van die Sesmylspruit gepraat. Nog gewonder waar die naam vandaan kom en hoekom die naam – gewonder of die rivier ses myl lank is? 🙂 Ek hoop jou Paasnaweek was lekker en hoop dat die koue nie te erg was nie. Winter is ook in lug vir julle! X

    Liked by 1 person

    1. Ai, ek mis jou baie. Ek kom amper nooit meer by my joernaal uit nie. Ja, ons woon en die Hennops loop deur ons estate. Het in die 4 maande wat ons hier bly, reeds drie keer oorstroom en klomp gemors en plastiese sakke op die gholfbaan kom neerplak. Die een keer so erg dat die baan vir ‘n ruk gesluit moes word. En die koue kom, hoor. Net anders as wat mens verwag, want dit reën steeds baie. Lekker werk en loer gereeld in, ek mis jou.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.