Gepubliseer in Joernaal

Oupa se hare is klaar …

In die week vra skoondogter of ek kleinseun sal oppas, sy moet haar ma in die hospitaal gaan besoek. Ek is natuurlik dadelik gereed, ek dink almal weet hoe hartseer ek was toe ek hom eers kon sien toe hy sewe maande oud was.

Ons was mos in Kazakhstan, die grense van al die lande het gesluit en ons kon nie Maart 2020 huis toe kom om hom in die hospitaal te ontmoet soos ons met al drie sy nefies gemaak het nie. Buitendien kon niemand hom in die hospitaal gaan besoek nie. Wat ‘n sinnelose tyd in menseheugenis.

Manlief was tuis voor sy gekom het, en toe drink ons eers ‘n teetjie saam. En gesels. Met die patroontjie wat nog nie baie woorde gebruik nie, maar alles verstaan.

Hy vat aan sy mamma se hare – en sy is baie kleinserig. Vertel vir hom dit is hare. Vat aan syne en vertel vir hom dit is sy hare. En wys na oupa wat op die ander bank sit en vertel vir hom oupa het ook hare.

Kleinkind kyk sy oupa so, draai die handjies om met palmpies na bo om te wys klaar.

Want oupa se hare is klaar, daar is nie meer hare oor nie.

Ek het verskriklik lekker gelag.

Oupa het rooi gebloos.

En kleinseun het geen idee gehad waarom ons so gelag het nie …

Oupa se hare het nie uitgeval nie, dit het klaar geraak …

Dit gaan my gunsteling sêding word …

Hooffoto: Manlief in die parkie tussen sy werk en ons woonstel in Ust’-Kamenogorsk, Kazakhstan. Ons het in die somer dikwels so gemaak, dan het ek kos gevat tot daar sodat hy kan middagete eet. Daar het almal twaalfuur alles neergesit, uitgegaan en weer eenuur teruggegaan kantoor toe. Ek mis die middagetes in die parkie nogal baie …

Dit was 19 Mei, ‘n maand tevore het daar nog sneeu geval. En dit lyk klaar of dit nog die hele tyd somer was …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Oupa se hare is klaar …

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.