Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Elke dag by die see is vir my slegte haardag

Ek blaai so deur my foto’s en kyk in hierdie ene vas, wat my eers laat dink dat elke dag by die see ‘n slegte haardag is. Want, daar is baie soortgelykes … my hare krul ontembaar by die see.

Hierdie foto bring baie herinneringe terug … Die foto is in Februarie 2017 op Amanzimtoti se strand geneem.

Ek het by kongres in Durban gepraat en toe loop ons twee op ons spore terug na die strand waar ons twee ons eerste vakansie as pasgetroudes gehou het. Wittebrood in Amanzimtoti.

***

Staaltjie oor die naam. Een van my blogvriendinne het iewers die afgelope twee jaar met die naam gespot. Nie A-man-zim-toti nie. Maar Ander-man-se-… En dit het my teruggegooi na ons wittebrood en beplanning daarvan. Want ek het ewe verleë vertel dat my skoonma ons so gespot het toe ons vertel het waar ons ons dae na die troue gaan verwyl.

Sy was ‘n verpleegster, alles gewoond en het die ding by die naam genoem met vier seuns wat sy grootgemaak het.

Ek was preuts, het baie preuts grootgeword, ons het ‘n naam vir die vroulike weergawe gehad wat niemand sou herken as ons dit in die openbaar sou gebruik nie. Van seuns en hulle geslagsdele het ons nie geweet nie en beslis nie in ‘n huis met vyf dogters daaroor gepraat nie.

My ma was skaam, en het haar dogters grootgemaak om haar nie in die skande te steek nie. En ek is doodeerlik as ek skryf dat ek dankbaar daarvoor is. Ek verstaan nie waarom kinders vandag so vroeg oor die dinge moet leer nie. Ek stem heelhartig saam met my ma se opvoeding – vroeg ryp, vroeg vrot! En so het ek my twee grootgemaak.

Iedergeval, ek het gedink dat dit is baie, baie lelik van my skoonma is. Dink nog steeds so en ons is al bykans 40 jaar getroud. Om nie alleen in ‘n geselskap die woord te gebruik nie, maar ook om ander mans s’n in die prentjie te bring as ek pas getroud is. Snaaks was dit nie.

***

Terug by hare en Amanzimtoti.

Ons het oor die strand gestap, na die woonstel gekyk waar ons gebly het. En waarvan ons soveel mooi foto’s in ons albums het. En ons harte was eintlik so bietjie seer. Dit lyk anders, is nie meer veilig nie en dit is vervalle. Tog was dit lekker om daar rond te stap.

En ons het gelag …

Daar is ‘n staaltjie oor ons eerste vakansie op Amanzimtoti te vertelle. Ek het nie bikini’s gedra nie, eers later jare oorgeskakel. My vollyf baaibroek het ‘n halterbandjie gehad. Manlief is eerste by die SuperTube af en toe ekke. En toe ek opstaan, druk hy my kop onder die water! Ek was mooi kwaad, want ek moes uit die pad kom van die mense agter my, wat my in die rug sou tref. Toe sis hy vir my, trek jou baaibroek reg. En toe ek afkyk, sit die bandjies tussen my kaal borste. Ek wou doodgaan van skaamte. Die man wat die kaartjies verkoop, het toe vir ons nog ‘n stel verniet gegee. Maar ek wou nie weer afgaan nie … nie eens met ‘n T-hemp bo-oor nie. Ek wou net wegkom …

Wat die foto betref, die vog in die seelug trek so in my hare in dat ek niks anders kan doen as om maar die krulle te geniet nie …

Geen sjampoe help nie.

En my GSD kan dit maar gelyk stryk,. as ek buite kom lyk my hare so. Tog is dit lekker ook, al kry ek dit nie so as ons weer terug by die huis is nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

27 gedagtes oor “Elke dag by die see is vir my slegte haardag

    1. Ek dink ook dit lyk mooi so. Die A in daar die naam klink my meer soos “haar”. Dan klink die naam effens beter. Ek stem saam oor geslagsopvoeding. Miskien kan jy die onderwysdept beînvloed…

      Liked by 1 person

  1. Ai Christa…ek het nie eers n supertube nodig gehad nie….net ‘n brander en ‘n boob tube baaibroek…en ‘n paar bene teen wie ek bostukloos vasgespoel het. Om alles te kroon het die bene behoort aan ‘n klient van die bank by wie ek gewerk het……

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.