Gepubliseer in Joernaal

Ek is sowaar as vlermuis geklee …

So blaai ek vanoggend deur my foto’s. Om vir die eerste keer verras te word deur die feit dat ek al in vlermuis klere geparadeer het. Ek, die vrou wat vlermuise met ‘n passie haat … Ek het al vertel waarom …

Dit het so gebeur. Dit was my tweede oudste kleinseun se verjaarsdag en dit het ‘n tema gehad. En ek het saamgespeel. Ek wat sedert ons myndae in die goeie ou tyd tema partytjies met ‘n passie haat.

Toe manlief nog gestudeer het, het ons elke jaar ‘n afsluitingsfunksie by die Kamer van Mynwese gehad. Ons is – soos dei Engelse te vertelle het – “gewine en gedine.”

En dit was my soort partytjie. Tyd om ‘n mooi rokkie te kry met bypassende fyn sandale aan te trek, want die mans het swart strikdasse en pakke gedra. En ons kon in mooi rokke paradeer. Om die einde van nog ‘n studiejaar te vier.

Daarom het die mynlewe my verras. Geen idee van hoe om vir ‘n aandfunksie aan te trek nie, die mense het van tema partytjies gehou.

Ek was jong juffrou en manlief jong myner. Nou wel mynbou-ingenieur, maar hulle moes onder begin en hulself in die bestuur van myne opwerk. En hy was nie in beheer van die mynpartytjies nie, kon ook nie insette lewer nie.

Dit was soveel anders as die rugby-afsluitingsfunksies van die myne en Noord-Vrystaat, want daar het die organiseerders en die spelers en hulle vrouens hulle vir aandfunksies uitgevat. Dit was heerlik om vir my ‘n mooi aandrok te maak.

Ewenwel.

Die mynpartytjies die myners se vrouens maande was maande voor die tyd al in vervoering, aan die beplan vir wat hulle gaan aantrek om ‘n boemelaar of ‘n sirkuspersoon te wees. En ek het die koms van die aand met ‘n swaar hart weggewens.

Ek wou myself nie belaglik maak nie, die matrieks in my klas was skaars jonger as ek en dit was moeilik genoeg om juffrou te wees. Hulle ouers was by die partytjies en ek het verkies om professioneel te lyk. Verder was ons jonk, ek het ‘n karige salarissie as onderwyseres verdien en ons het nie geld gehad om rond te strooi nie. Veral nie om die tema-klere te maak of te gaan huur nie. En die temas het teen hemel en aarde geskreeu.

Ek het botweg geweier om soos ‘n boemelaar aan te trek en die aand met ‘n mooi rokkie en skoene opgedaag, met almal om my wat soos boemelaars gelyk het. Ek het vreeslik baie kyke gekry, weet nie of dit bewondering was en of hulle gedink het dat ek ‘n partytjie-bederwer was nie. Maar soos ‘n boemelaar het ek geweier om aan te trek.

Vir die sirkus een het ek effens probeer, my kleinsus se trompoppieklere geleen en so opgedaag in ‘n rompie wat werklik baie, baie kort was … en baie grimering, iets wat ek nooit doen nie. En die aand weereens baie kyke gekry … wat my laat wonder waarom ek so iets aangevang het.

Iewers tussenin het die regering verander, die myne begin swaar kry en is partytjies die een na die ander gestop. Daar is verskeie redes wat vir die stop van die partytjies bygevoeg kan word, waarop ek nie wil ingaan nie.

Maar ek was dankbaar, want my dilemma is opgelos. Ek hoef nie meer elke jaar te vrees watter gek idee iemand gaan uitdink vir die tema vir ‘n jaareindfunksie nie …

En toe – jare later – reël my dogter ‘n tema-partytjie vir kleinseun se verjaarsdag.

Superheros.

Natuurlik nog iets wat vir my vreemd is. Dat vlermuise en spinnekoppe superheros kan wees … vir my hoort beide aan die teenoorgestelde kant. Boewe waarvoor ek bang is.

En toe ek weer hoor, moet ons volgens die tema aantrek, want my dollatjie is gek oor temapartytjies – dit is blykbaar in inding op Pukke. Want waar anders kon sy van sulke goed begin hou het? Haar ma haat dit. Dalkies het ballet daarmee te doene? Of anders hou sy net baie daarvan.

En ek is in ‘n dilemma, maar nie so groot soos toe ek ‘n mynervrou was nie. Want my dogter het my intussen mak gemaak.

Ek en sy het vir jare lank jaarliks die Sisters-with-Blisters gestap. Vyf kilometer op hoge hakke en aangetrek volgens ons eie temas. Net ek en sy, of saam met ‘n groep van haar vriendinne. Dit was so lekker saam met hierdie kreatiewe dogter van my dat ek van temas begin hou het. Net om haar gesiggie te sien.

In so mate dat ek selfs daarna uitgesien het.

Die organiseerders van die mynpartytjies sou verstom gestaan het. Want hierdie vrou het wel gereed gemaak om vir ‘n temapartytjie aan te trek. Hierdie ouma kan nie uit wees nie, die kleinkinders sou nie kon droom dat ouma van jongs af nie volgens temas aantrek nie. Dit eintlik verpes het nie.

Toe vaar ek die plekke waar mens klere kan huur in. En ontdek die alleroulikste rokkies, een vir my dogter en een vir my. Sy is fyner as ek gebou en kon dus kies watter een sy wou dra. Ek het die ander een geneem. Dit was einde Mei, dus koud genoeg vir stewels, maar lekker warm in die sonnetjie.

En hier staan ons drietjies – ek, die vlermuisvrou, my dollatjie, die spinnekopwyfie en onse kleine supermannetjie!

Ek gaan sulke samesyn verskriklik baie mis. Ek vermoed ek gaan gereeld op Kulula boer, want hulle trek Riversdal toe. En ouma moet verjaarsdagpartytjies bywoon …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Ek is sowaar as vlermuis geklee …

  1. Van kleinsaf het ek niks van tema-partytjies gehou nie – die versierings en die kos is een ding, maar ek hou niks daarvan om ‘tematiese klere’ aan te trek nie! Ek voel net nie gemaklik nie 🙂

    Liked by 1 person

  2. Ek hou weer van ‘n bietjie avontuur. Ons was al op verskeie tema partytjies. Maar wie wil nou soos n boemelaar aantrek? Kon hulle nie ietsie beter uitgedink het nie? Jy lyk pragtig in jou vlermuispakkie!

    Liked by 1 person

      1. Jy het my nou laat onthou ek was een jaar Rooikappie. Daar is nou een snaakse kombinasie, My eks man was die wolf kompleet in Wolfpak.
        Wys jou net toe het hy nie die uitrusting eers nodig.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.