Gepubliseer in Joernaal

My pa verjaar vandag

Ek is so effens huiwerig om hierdie foto te deel, want dit is ‘n familiefoto. Tog gaan ek die kans waag … want my iPad het my aan hierdie dag herinner.

Pa, ma en vier van hulle vyf dogters

Van links na regs is kleinsus, wat ‘n ouditeur is en in Australië woon, tweede oudste sus, wat vepleeg, jare gelede matrone by 1 Millitêr was en nou verpleegsteropleiding en -evaluering doen, middelsus, wat ‘n haarkapster is en al die jare haar eie haarkappersalon bedryf en ekke (oudste kind), wat in die onderwys gespesialiseer het en tans navorsing oor die onderwys doen.

Maar eintlik is ek in my hart sommer net ouma van vier kleinseuntjies, hopende dat daar nog een of twee sal bykom, maak nie saak of dit ‘n seuntjie of dogtertjie is nie.

Dit was my pa se 80ste verjaarsdag, dus 7 jaar gelede.

Op die foto is my pa en ma, ek en drie van my vier susters. Tweede jongste kon nie kom nie. Ons was, as ek reg onthou, seker meer as 14 jaar gelede as gesin saam op een foto. My kleinsuster het geëmigreer en ek het twee jaar in Kazakhstan gewoon, wat saamwees geleenthede beperk het. En nou is ek ‘n Kuruman-inwoner.

Seker daarom dat hierdie foto vir my spesiaal is. Ons het onlangs weer ‘n gesinsfoto probeer neem, die keer was jongste sus nie daar nie, Australië beperk steeds vlugte na Suid-Afrika.

My skoondogter het met my -a se 80ste die foto’s gebruik om hierdie plekmatjie met ons vyf susters vir my pa te maak …

Van links na regs: Ek (oudste), tweede oudste, jongste, middelste en tweede jongste susters

Tussen al ons sussies, het my ouers net drie kleindogters, myne en my twee jongste susse s’n, wat elkeen ‘n dogter het. Eintlik het hulle vier kleindogters, my verpleegstersus wat nooit getrou het nie, het ‘n dogtertjie aangeneem wat nou so vyf jaar oud is, seker daarom dat sy eerder soos agterkleinkind as kleinkind voel.

Hierdie ouers van my wat hard probeer het om ‘n seun te kry, het bykans net kleinseuns en klein agterkleinseuns. Hulle het vyf kleinseuns, een by my, een by middelsus, een by tweede jongste sus en twee by my kleinsus. Dan het hulle reeds vier agterkleinseuns van my kant af en een agterkleindogter van middelsuster se kant af. Ons sal sien wat die ander kleinkinders oplewer, hulle is heelwat jonger as my kinders.

My pa word vandag 87 en my ma het so pas 81 geword. Haar tagtigste verjaarsdag is verlede jaar in afsondering gevier, dit was tydens die eerste weke van die ergste grendeltyd. Vanjaar kon vier van ons dit saam met haar vier, jongste was ver wag in Australië.

My pa en ma vier egter vanjaar sy verjaarsdag alleen by die see. Ek is seker dit gaan ‘n spesiale verjaarsdag wees, met my ma wat my pa bederf op sy verjaarsdag. Ek verstaan my Page-ampersussie gaan hulle vir ete uitvat vanaand. Ek weet dat my pa eintlik die dag saam met sy dogters sou wou vier, maar hulle het die vakansie nodig. Het verlede jaar hulle tyddeel betaal sonder om dit te mag gebruik.

Geniet dit pa. Dit is in elk geval my soort verjaarsdag – by die see – dus weet ek pa dit sommer baie gaan geniet. Toe ons klein was, was vakansies beperk, my pa het hard gewerk in sy slaghuis.

Ons was ‘n baie hegte gesin toe ons klein was.

Waar die een was, daar was die ander vier ook.

My pa en ma het ons nooit alleen by die huis of by ander mense gelos nie.

Ons is verskriklik geseënd om almal nog gespaar te wees, ons kinders en kleinkinders ook. Ek weet dat my ma elke aand vir elkeen van ons bid – ons op die naam aan die Here opdra. My pa ook. Ek dink dit is die wenresep om jou gesin veilig te hou – om hulle daagliks aan God op te dra vir veiligheid en beskerming.

Lekker verjaar, pa, mag dit ‘n heerlike vakansie by die see wees. Met ma aan pa se sy, sal dit altyd spesiaal wees.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

22 gedagtes oor “My pa verjaar vandag

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.