Gepubliseer in Joernaal

Toespraak oor begaafde kinders vir SAOU

Julle gaan sowaar glo dat ek ‘n vrou is wat nie by my woord hou nie. Want ek het skaars ‘n maand of drie gelede geskryf dat ek nie weer ‘n toespraak gaan lewer nie. Wel … dit het so gekom.

Ek wil nie ‘n toespraak lewer nie want dit is stresvol verby om een te lewer. Die voorafgaande dae stres ek my op, die tyd tot en met die toespraak ook. As ek eers daar staan en dit is tyd vir ligte, kamera, aksie, dan is ek op my gemak. Want ek weet ek het goed voorberei. Die spanning is egter so sleg vir my dat ek van mening is dat ek nie weer gaan praat nie.

En dan kry ek ‘n boodskap op Facebook.

Toevallig, want ek besoek Facebook sedert die ultimatum aan WhatsApp en my gevolglike verlating van WhatsApp selde. ‘n Tegnologiereus wat dink dat hy my kan manipuleer moet maar besef. Hy is presies dit. Besit ‘n tegnologie, vir my sommer glad nie. En die tegnologie is vervangbaar. Die belangrike vraag is waarom dit vir FB nodig is om toegang tot my gesprekke ook te kry. Dit is ‘n gesprek vir ‘n ander dag. Hier gesels ek oor die toevalLIGheid van my FB-besoek.

Daar is ‘n boodskap, kan ek die dame kontak asseblief. Dringend, sy is van die SAOU. Ek sit nog so en wonder of iemand op my onderwysergroep iets kwytgeraak het wat problematies is, maar toe weet ek dit is moontlik maar nie regtig nie. Ons het die groep mooi opgelei. Hulle gesels professioneel met mekaar. Dus soek sy my?

Ek stuur die e-pos en vergeet half daarvan, toe ek ‘n antwoord kry. Sal ek asseblief instaan met toespraak oor begaafde kinders. Hulle spreekster het op kort kennisgewing laat weet sy kan nie meer nie.

En ek sit met ‘n tammeletjie.

Dit is ‘n Zoom-konferensie, dus soveel makliker as om in die vlees te gaan en te sit en wag vir my beurt. Hoe kan ek sommer net nee?

Dit gaan oor begaafde kinders. En ek sukkel nou maande lank dat Facebook my webwerf begaafdekind.com van hulle swart lys afhaal. Wat my weer by ‘n frustrasie met ‘n tegnologie bring – waarom word ‘n webwerf oor begaafde kinders geswartlys? Presies hoe onnosel is die tegnologie se robotte presies? En dan dink hulle robotte gaan die mens se plek kan inneem? Ek lag in hulle gesig – logika kan nie aan ‘n robot geleer word nie.

Al wat sin maak, is dat die robotte jaloers geraak het toe hulle hoor van begaafdheid – hulle kan net doen waarvoor hulle geprogrammeer word. En dan maak hulle (a) ‘n gemors daarvan en (b) erken hulle nie dat hulle ‘n fout gemaak het nie en maak hulle die fout dus ook nie reg nie.

Dit is natuurlik ook moontlik dat Zuckie op skool nie vir begaafdekindonderwys geïdentifiseer is nie. En dat hy ‘n weersin daaraan het. En die robotte so geprogrammeer het dat enige iets oor begaafde kinders summier gestop word. Iedergeval, ek is moeg en siek en sat vir Facebook en sy onkunde, onvermoë en agterbaksheid. Is die tegnologie nie juis uit agterbaksheid gebore nie? Zuckie is mos juis vir agterbaksheid oor die tegnologie se ontstaan gedagvaar …

Dit daar gelaat, die SAOU is in die knyp en ek beskik oor die nodige kennis en vaardigheid om die toespraak oor te neem. Dit kan nie afgestel word nie, 500 onderwysers het reeds hulle “sitplekke” bespreek.

FB het dit moeilik gemaak om begaafdekind.com te bemark. En nou bied die SAOU aan my die geleentheid om oor begaafde kinders te gesels. En so kan ek met 500 onderwysers gesels wat werklik in die begaafde kind belangstel.

‘n Wen-wen situasie – as ek die besluit om nie weer ‘n toespraak te lewer nie, hersien.

Dit is op kort kennisgewing – want die aanvanklike spreker het op kort kennisgewing onttrek. Ek kan egter ‘n toespraak op kort kennisgewing ontwikkel, met ‘n PowerPoint om dit te vergesel.

Dus staan ek vanmiddag vieruur voor my rekenaar, reg om ‘n toespraak ook die behoefte aan onderwys vir begaafde kinders aan te bied. Want – daar is in Suid-Afrika baie, baie min navorsing oor begaafde kinders gedoen sedert ek my honneurs en meestersgraad daarin gedoen het.

Die staat glo mos in ‘n inklussiewe klaskamer. Kinders druip soos vlieë sodat ‘n klein persentasie kinders matriek skryf, waarvan amper 23% dan nog druip ook. En navorsing in ander lande toon dat ‘n beduidende persentasie van hierdie druipelinge begaafde kinders is.

Omdat ‘n skolestelsel nie op hulle behoeftes ook konsentreer nie.

Wanneer gaan die staat leer dat die onderwys nie ‘n een-grootte-pas-almal stelsel is nie?

As ek dan my mond moet oopmaak om kinders te help, dan gaan ek my ongemak met toesprake vir een keer weer opsyskuif. Om ‘n spreekbuis te wees vir hulle wat moedeloos in klaskamers sit.

Laat ek dus voor my rekenaar regskuif …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

20 gedagtes oor “Toespraak oor begaafde kinders vir SAOU

  1. Ek glo dit sou goed gegaan het. Dalk het jy sommer n bietjie sense in die ow dept ook ingepraat. Hulle glo in inklusiewe onderwys maar bou dan vaardigheidskole by die honderde vir kinders wat afgeval het van die onderste spektrum omdat hulle nie in die inklusiewe skole die nodige aandag gekry het tor hulle dut nodig gehad het nie. Die heel boonste outjies val ook af en gaan ook verlore.

    Liked by 2 people

  2. Ek wil soveel meer oor begaafde kinders weet…ek het twee kinders in my kring, ek dink hulle is uiters begaafd maar ek weet nie waar om te begin om seker te maak dit is so nie….

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.