Gepubliseer in Resepte

Resep vir aartappelskyfies in lugbraaier

Toe ons in Kazakstan gebly het, het seun ons van air fryers vertel. Iets wat ek glad nie geken het nie. Hoe goed hulle daarmee kos maak – olielose slap skyfies byvoorbeeld. Gesond. En ek was op die plek lus om ook ene te kry – my kleinkinders hou baie van slap skyfies.

My eie kinders het nie daarmee groot geword nie. Dit is vir my ‘n hele beslommernis om die aartappels te sny, die olie die regte hitte te kry en dan te sorg dat die skyfies gaar is. En nie gebrand proe nie. Voor ek soveel moeite doen, stop ek by McDonalds vir hulle lekker dun skyfies. Of by KFC vir die dikker soort.

Skoonseun het my intussen geleer wanneer die skyfies gaar is. As dit opstyg, is dit gaar, dan los mens bietjie dat dit bruiner word. Ek het so nou en dan in Kazakhstan gemaak – want daar ken hulle nie chips nie. Maar mens, ek hou nie van die proses om die olie van die skyfies af te kry nie. Teen die tyd wat die olie gedreineer het, is die skyfies koud.

Ust’- Kamnogorsk (Öskemen) is heel noord, 1000 km vanaf Almaty (vorige hoofstad) in die suide en ook 1000 km wes van Nur-Sultan (nuwe hoofstad). Die beskawing vorder stadig tot daar. In die tweede jaar in Ust’ kon ons hier en daar frie (skyfies) bestel. Met ‘n massiewe gesukkel. Hulle het dit op die spyskaart gekry, maar die kelners verstaan nie dat iemand dit wil bestel nie. Gewoonlik kon ons op foto’s druk om te verduidelik wat ons soek. Ons het mos nie Russies verstaan of gepraat nie.

Olieloos het dus my aandag getrek, veral omdat mens die skyfies in die laaitjie sit, geen olie byvoeg nie, temperatuur en tyd stel en dan roep die masjien my as dit gereed is. Dus het ons in Ust’ en Almaty na air fryers gesoek – en niemand kon ons help nie, hierdie tegnologie het nog nie daar vasskopplek gekry nie.

Tuisgekom het ek gesoek, op Takealot gekry en seun gevra wat hy dink. Die antwoord was nee, daardie soort is nie groot genoeg nie. Die groter masjiene, wat skaars sigbaar groter is, het ‘n plaas se prys gekos.

Ma het ten minste die 1 kg nodig nodig.

Dit is nou hoeveel in die laai gelaai kan word … verstaan ek. En nie hoe swaar die masjien is nie.

Toe ons een oggend in Makro loop, sien ek ‘n 1,2 kg ene op die rak. Haal dit af en sit dit in my mandjie. Maar ‘n Indiër koper wat ook na die lugbraaiers kyk, keer my.

Moenie daardie ene koop nie, Philps is die beste. En dit is vandag op ‘n winskopie. Kos amper net soveel soos daardie kleiner een wat jy in jou waentjie gesit het.

Gevolglik is ek met die Philips uit die winkel. Hy het instellings vir verskeie geregte, vanaf skyfies tot hoender en vele meer. Jy klik net daarop en laat die masjien haar gang gaan tot sy jou roep.

Tuis toets ons die masjien met selfgeskilde en -gesnyde aartappels, maar ons is nie so gelukkig met die resultaat nie. Dus staan die masjien soos wit olifant (al is hy swart) op die toonbank in die kombuis. Natuurlik het die masjien saamgekom Kuruman toe, maar ek het nie gedink dat ek hom gaan gebruik nie.

En toe ontdek ons McCain se krinkelsnit slap skyfies in Spar. In Kaz het ek slapskyfies in groot maat by Metro gekoop en dan in olie gebraai. Baie makliker as om self te skil. McCain se slap skyfies werk wonderlik in die masjien.

Ek genruik nie die ingeboude instellings van die masjien nie. By skoondogter oor paasnaweek geleer om self te kies. Dit is waarskynlik waarom ek nou met die resultate tevrede is.

Die resep is as volg

Bestanddele

McCain slap skyfies

Metode

  • Trek die laaitjie uit
  • Strooi ‘n lagie bevore skyfies in die laaitjie, nie te dik nie
  • Stel die tyd op 16 minute
  • Stel die temperatuur op 165 grade
  • Druk die knoppie om te begin
  • Wag vir die klokkie om jou te roep.
  • Skep uit en geniet.
  • Herhaal indien jy meer benodig

Jy kan na 10 minute kyk en die rakkie bietjie skud, maar dit is onnodig. Dit kom elke keer perfek uit.

Hoe maklik kan dit nie word om kos te maak nie – sonder om dit die hele tyd dop te hou. My soort manier van kos maak …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

38 gedagtes oor “Resep vir aartappelskyfies in lugbraaier

          1. Nou die aand kom manlief moeg by die huis. Ek het hoendervlerkies en wors uitgehaal vir braai en hy wou nie. Toe braai ek dit daarin – volgens hom baie lekker. En hy is fitterig oor gebraaide vleis.

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.