Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Ons besoek Boesmangat in die Noord-Kaap

Ons het verlede week saam met manlief se werksmense uitgeëet, ek moet nog daarvan vertel. Maar toe vertel die een ou vir ons van twee besienswaardighede naby Kuruman, naamlik die Wonderwerkgrotte en Boesmangat.

Natuurlik het ek gevra dat ons sommer hierdie Sondag gaan ondersoek instel. Want foto’s vir my reisjoernaal moet ek kry.

Wonderwerkgrotte is so net na die 40 km bordjie op die Daniëlskuilpad. En ja, ek skat die naam is gepas, want dit is lyk my ‘n wonderwerk as jy dit oop kry. Maar nee, dit is eintlik tipies Noord-Kaap. Alle nie-noodsaaklike plekke is Sondae toe. Soos ek grootgemaak is. Hierdie besienswaardigheid is egter sommer die hele naweek toe. Dus kon ons nie gaan kyk nie, moes ons by die hek omdraai.

Ons was besig om om te draai toe ‘n swart man kaal bolyf uit die kamer langs die kantoor by die hek kom. Met groot fanfare na die venster stap en vir ons die wit bordjie met rooi geskryf – wat ons reeds gesien het en ons laat besluit het om om te draai – wys. Naweke gesluit. Ons vra toe of hy weet waar die Boesmangat is. En hy verduidelik vir manlief.

“My lanie [ek ken die woord van Arendvlei reeks wat ek kyk as iets soos meneer] jy ry nou tot by die T-junction” en hy wys met sy hande ‘n T,. “Dan draai jy regs. Dan ry jy so 20 km tot jy die groot bome kry.” Soos hy gedraai en verduidelik het, verstaan ons dit is aan die linkerkant van die pad. “Dit is daar. Daar waar die pad stukkend was. “Daar waar die karre …”

Ons verstaan. Ons sal dit kry, dit klink heel maklik. Ons sal weet as ons ‘n stukkende pad kry. Of karre …

So 20 km verder kry ons die hoë bome langs die pad, effens na binne. Met ‘n bordjie Mount Carmel Safari’s. Niks oor die Boesmansgat nie. Ons vermoed dit is daar, want dit is hoë bome. Die res van die veld is vol lang gras en kort struike.

Maar ry ons verder, die pad is nie stukkend of onlangs reggemaak nie. Ons ry verder en kry weer hoë bome langs die pad. ‘n Plaashuis. Maar ons is seker dit moes by Mount Carmel gewees het.

Ons besluit om tot by Daniëlskuil te ry – dit is so 30 km verder, foto’s te neem en terug te kom. Dit kan nie ‘n ander plek wees nie. Ek sal bietjie foto’s van die dorpie deel. Nou wil ek eers van ons besoek aan Boesmansgat vertel.

***

Op pad terug het ek geGoogle en gesien dat die gat wel op die plaas Mount Carmel is. Dus het ons daar ingedraai. Die plaaspad het ‘n draai na regs gemaak en ons het verby ‘n heining aan die regterkant gery wat met lang pale gemaak is. Met die geraamtes van bokkoppe en hulle horings so hier en daar aan die muur vasgemaak.

Dit is seker versiering vir buitelanders en jagters, dit het my effens hoendervleis gegee. Dalk was die hoendervleis daaraan te danke dat manlief se kollega vertel het dat twee mense in Boesmansgat gesterf het. Die tweede een het probeer om die eerste een se liggaam te herwin.

Verderaan het ons ‘n gebou aan die regterkant van die pad gekry. Mooi skildery van bokke teen die muur. Dit het verlate gelyk, maar die skildery is nuwerig. Dus het manlief gevra dat ek ingaan en hoor of ons na die gat kan gaan kyk. Onthou – ons het gedink dat dit dalk toe kan wees. Soos Wonderwerkgrotte.

Ek het die trappies opgeklim en voor my was ‘n soort van onthaalvetrek. Met houtstoele regs agter die deel wat ek as ‘n kroegtoonbank sou beskou. Speelgoed vir kinders. Maar – dit is lanklaas gebruik, dit was vol spinnerakke. Geen mens in sig, dit het soort van verlate gevoel.

Links van my was ‘n lae muurtjie, hoog genoeg dat ek manlief en die bakkie skaars kon sien. Voor my die muur met die skildery wat ek wou afneem. In 2018 of ’19 gedoen, ek kan nou nie die datum onthou nie. Toe loer ek eers weer na die skildery – deur ‘n CE Klopper gedoen in 2019.

En heel voor by die skildery was ‘n deurgang na regs.

Ek het moed bymekaar geskraap gestap. Voor my was ‘n onderdakstoep met kamers aan die regterkant. Ou bankies voor die deure en links van my was een kamer se deure. Amper soos die een helfte van die letter T.

‘n Gastehuis? Maar in onbruik? Tog het die kamers versorg gelyk, so op ‘n afstand. Geen spinnerakke nie. Maar ek het besef ek is alleen, geen ontvangsdame om my te verwelkom nie …

Net toe ek wil omvlieg om na manlief te gaan, kom ‘n ouerige swart vrou van die linkerkant af deur bome op ‘n voetpaadjie aangestap. Ek kon sien dat daar ‘n huis of kantoor anderkant die bome is.

Ek het vir haar gevra of ons na die gat kan gaan kyk en sy het gesê ek moet die voetpaadjie volg wat sy so pas gebruik het. Die mense is daar.

Ek het gevra of daar honde is, want ek het geen heining gesien nie en sy het ja gesê, hulle sal nie byt nie. Ja hoor, ek het daardie een al gehoor, ek vat honde nie weer alleen aan nie.

Dus is ek uit na manlief om hom saam te sleep.

Hy is saam met my die trappies op en toe ons deur die ingang stap, kom daar ‘n man juis met die voetpaadjie aangestap. Lyk soos boer, kort broek en bruingebrande bene. Ons het aangeneem hy kom na ons toe en het gevra of ons na die gat kan gaan kyk. Hy het gesê dit is reg, kos R150 per voertuig en ons het gesê dit is reg.

Toe sê hy dat ons moet om die huis ry, hy moet vir ons ‘n kaart gee om daar te kom. Hy het eintlik uitgekom om te kyk waarom die kamers se krag afgaan. En toe staan hy by die bord en werk met die skakelaars. Teen die muur. Waarom die bord daar is, sal ek graag wil weet. Enige iemand kan dit ongesiens afsit …

Ek het glad nie ongemaklik gevoel nie, ‘n plaasboer, soos ek boere ken. Maar toe begin my verbeelding met my parte speel …

Ons het omgery, waar ek manlief gespot het toe ons verby ‘n plek ry wat my aan ‘n slagplek herinner het. Sien boonste foto. Sy skuld, hy het dit begin met die plek laat hom aan Die Byl se stories dink.

Wel, Die Byl ondersoek reeksmoorde … dus het ek gevra waarvoor hy dink die hake en saag daar is … En myself sommer ook in die proses banggepraat. Ons het nie eens vir die kinders vertel waarheen ons gaan nie. Niemand weet ons het vandag by hierdie plaaspad afgedraai nie!

Hoe meer ek waarneem, hoe meer voel ek ongemaklik.

Ons het ‘n klein entjie verder in die plaaspad gestop, met die huis effens dieper in na regs en groot store aan die linkerkant. Met groot deure, wat van die vloer tot die dak strek.

Oral het karre rondgestaan, maar dit het gelyk of hulle lanklaas gebruik is. Wie se karre is dit? Ek sien dan niemand nie …

In die stoor staan ‘n kombi en bokant hom hang ‘n kappie vir ‘n bakkie aan die dak. Die karre se nommerplate is GP en NC. Waar is die eienaars? Is die die karre waarvan die man by Wonderwerkgrot ons vertel het?

En ek en manlief terg mekaar verder.

Wie se karre is dit? Waar is hulle? En waarvoor is die hake en saag? Ek is naderhand so effens onrustig.

Ons sit en wag en manlief kondig aan dat hy kom.

Ek kyk voor my, deur sy venster aan sy kant en ook so om agtertoe. En sien niks nie. Geen man in sig nie.

Ek vra waar en manlief het te vertelle dat hy nou aan my kant omkom.

Ek maak seker my deur is gesluit en kyk deur my venster, in die kantspieëltjie en sien niks.

‘n Koue rilling gaan teen my ruggraat af, want net manlief kan die man sien wat ons altwee net-nou gesien het.

En ons gespottery met mekaar het glad nie gehelp nie.

Ek het weer gevra waar die man is. Manlief het beduie aan my kant en toe word ek vies, ek sien niks nie.

Toe lag manlief en sê hy praat nie van die man nie, hy praat van die hond!

Ek het my kop teen die venster gedruk afgekyk en die swart hond, wat mens aan ‘n kwaai hond laat dink, gesien. Al ruikend by die wiele. Natuurlik! Dit is wat honde doen!

Ek sou nie die hond alleen op sy werf wou trotseer nie.

Toe kom ‘n skaaphond ook aan. En ‘n rukkie daarna die man. Hy het ‘n kaart wat hy op ‘n stuk papier geteken het in sy hand. Manlief bied R200 aan en kry R50 terug.

Die man leun teen sy venster en gesels met hom.

Onbewus van ons twee se getergery oor Die Byl. Maar ek hou elke beweging dop. Moet hy in die kar inleun?

En daar gaan ons.

Ek was dankbaar dat ons omdraai om terug te ry soos ons gekom het en nie verby en dieper in nie. Kyk net wat kan my verbeelding doen …

Ten spyte daarvan dat die man duidelik ‘n ordentlike mens is.

Ek moet baie, baie minder van Die Byl se stories kyk. En my glad nie so inleef wanneer ek en manlief mekaar terg nie.

Maar, ek dink tog dat die skrywers van Die Byl met my sou saamstem dat dit ‘n baie interessante plek sou wees om ‘n storie te skryf wat mense bang kan maak.

Ons het die kaart gevolg, bykans 10 km op sy plaas gery met gras en kort struike aan albei kante. Dit lyk glad nie soos die foto’s op die internet nie – daardie foto’s is geneem toe die deel van die land soos woestyn gelyk het. Dit het mos hierdie jaar baie reën gekry.

Ek moes ‘n plaashek oopmaak, maar eers die som maak oor hoe om dit te doen. Want die haak by die hek kon nie afgehaak word nie en die een aan die ketting ook nie. Toe sien ek die skakel wat ingedruk moet word om die hek los te haak. Goeie idee.

Die hek het oopgekraak, wat my weereens aan spookstories laat dink het. Ons het op teen ‘n koppie gery, effens afgesak en toe om die holte aan die regterkant gery na die groot boom waarvan die man gepraat het. Hy het gesien dat my skoene nie vir die uitstappie gemaak is nie, dit is minder steil van daardie kant af na die gat toe.

As ek nie geweet het hoe diep die gat is nie, sou ek seker minder versigtig gewees het. Ek wou nie te ver af nie. En, ek wou ook nie dat manlief met sy plakkies op die gladde rotse te ver stap nie. Die man het hoogtevrees. Toe neem hy sowaar nie vir my foto’s waar hy oor die rand van die rotse afkyk in die gat nie. Want hy kan nie …

Ek kan nie kla nie, ek het ook nie naby genoeg gegaan om mooi in die gat af te kyk nie. Hier is darem ‘n paar foto’s.

Is dit die R150 werd? Beslis, dit is ‘n belewenis om te kan vertel dat ek daar was. Dat ek die gat gesien het, dat ons foto’s van die gat en die rotse geneem het. Dit is suid van Kuruman, ons sou nie sommer weer die pad in daardie koers gevat het nie. Ek weet ook nie of ek die Wondergrotte ooit sal sien nie, want dit is net op weeksdae oop.

Aangesien Boesmansgat bekend is, gaan ek so bietjie meer oor sy geskeidenis vertel.

***

Boesmansgat is ‘n bekende, vertikale, natuurlike onderwatergrot op die plaas Mount Carmel in die Noord-Kaap, op die pad tussen Kuruman en Daniëlskuil. Daar word gespekuleer dat die grot aanvanklik ‘n rotsagtige dak gehad het, maar dat die water die dak van die grot laat inval het toe die dolomitiese rots opgelos en verweer is. Die deksel is toe weg om die diep watergat te ontbloot.

Ek het die sketse geGoogle, dit is nie my eie nie.

Tans is die ingang van die grot so onder die oppervlak van ‘n dam van so 100 meter in omtrek versteek. Toegang tot die oorstroomde grot word verkry deur ‘n bedrieglike nou gang wat so 20 meter onder die oppervlak van die is. Die grot en dam is met vars water gevul. Die dam is omring met steil kranse, tot 80 meter hoog, wat dit moeilik maak om tot by die watervlak te kom. Mense word aangeraai om die wonder van die gat eerder van die rotslaag te waardeer as om af te klim na die watervlak toe.

Daar is met sonar bepaal dat Boesmansgat so 270 meter diep is, wat dit blykbaar die sesde diepste varswatergrot in die wêreld maak. Die watervlak van die dam – as mens dit so kan noem – is bykans altyd met groen plante bedek. Die holte word ook ‘n sinkgat genoem.

Foto’s geGoogle, nie myne nie: Boessmansgat uit die lug en foto’s van die water, ons het nie soveel oorgebuig om te kan afneem nie.

Kyk asseblief na foto drie: Hoekom sien ek ‘n dier? Ek sien ore, oë, gesigvorm en ook tande … Dit is ‘n uiters onaangename gedagte. Ek het weer gaan soek en op twee ander webblaaie foto’s gekry wat ook die dier in die rotse wys – en niemand sien dit raak nie …

Foto-krediete: Kathu se webblad en Postmasburg se webblad met selfde artikel en foto’s. Ek hoop ek wys vir hulle iets nuuts … Dus het ek die eienaars gekontak, ek hoop hulle antwoord terug.

Hulle het toe geantwoord, nie hulle of enige iemand anders het dit gesien nie. Ek is die eerste mens volgens hulle …

Daar is geen fossiele in die Boesmansgat nie, maar dit is van geografiese en geologiese waarde. Daar word aangeneem dat die water in die gat ‘n oorsprong het vanaf ‘n sinkgat 60 km noord.

Hierdie oorstroomde grot is baie diep, daar is al tot ‘n diepte van 282,6 m geduik. Volgens oorlewering was Mike Rathbourne die eerste amateurduiker wat die gat in 1977 ondersoek het. Nuno Gomes het in 1966 die diepste geduik, naamlik 282,6 meter.

Duikers moet goed voorberei om in die gat te duik aangesien dit 1 500 m bo seespieël geleë is. Op hierdie hoogte word duikers aan druk blootgestel wat gelykstaande is aan ‘n dekompressie skedule vir ‘n 339 m duik by seespieël. Sy lewe was in gevaar aangesien hy vir twee minute in die modder aan die onderkant van die gat vasgevang was.

In 2004 het Verna van Schaik die Guinness Woman’s World Record gestel vir die diepste duik deur ‘n vrou, naamlik 221 meter.

Baie ervare duikers het al in Boesmansgat geduik om wêreldrekords op te stel. Drie ervare duikers het gesterf.

Eben Leyden het in 1993 gesterf.

Deon Dreyer het in 1994 op ‘n diepte van 50 meter gesterf en sy liggaam het in die grot agtergebly totdat dit 10 jaar later deur David Shaw op ‘n diepte van 270 meter gevind is.

Shaw het op 8 Januarie 2008 gesterf terwyl hy probeer het om Dreyer se liggaam na die oppervlak te bring. Sy lyne van die oorskot van Dreyer se liggaam het hom verstrengel. Sy ondersteunersduiker en vriend – Don Shirley – het amper ook gesterf en het permanente skade in sy ore opgedoen wat sy balans versteur. Beide Dreyer en Shaw se liggame het egter toe boontoe gedryf en is vier dae later naby die oppervlakte ontdek terwyl die span dele van die tegniese toerusting uit die gat gehaal het. Hier is ‘n voorstelling van die gebeure – soos op die internet gevind.

‘n Plaat is by die ingang gesit om hierdie mense se lewens te herdenk en Tilla Louw het ‘n gedig getiteld Boesmansgat geskryf om die duikers se lewens te herdenk.

Boesmansgat – deur Tilla Louw

Danielskuil
Boesmansgat
Watergrot
Watergraf

In jou donker dieptes
 – ‘n Dekade verskuil –
word die verdwyn van ‘n jong duiker
se droom,
om jou duistere geheime
te ontgin,
die begin
van makkers se verhaal
wat hul lewens sou waag
om die tol tóé ge-eis
op te hys,
diep uit jou maag.

Jou prys was weer te hoog.
Nóg ‘n duiker se lewe gevra.
Nóg ‘n nuwe ster aan die hemelboog.
Nóg harte wat leed moet kan dra.

Ons bring hulde aan duikers wat
vir solank jy roep,
sal bly soek
–  in jou lokkende dieptes –
na antwoorde,
na ‘n dappere makker se
watergraf.
In die watergrot,
Boesmansgat.
By Danielskuil.

Volg gerus die skakel om die artikel (en gedig) in Engels te lees.

Waarom mense in die gat wil afduik om tot die donkerste dieptes te gaan, weet ek nie. Maar dit is ‘n besienswaardigheid wat die moeite werd is.

Mens kan wild sien terwyl jy na die gat ry. Ons het blouwildebeeste gesien.

Hier is ‘n kort video wat meer oor die gat wys … daar is baie ander op YouTube beskikbaar.

https://youtu.be/QUm7zCOLSWg

Bronne

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

23 gedagtes oor “Ons besoek Boesmangat in die Noord-Kaap

  1. “Seeing familiar objects or patterns in otherwise random or unrelated objects or patterns is called pareidolia.The ability to experience pareidolia is more developed in some people and less in others.” Ek is lief om patrone – en veral gesigte – in wolke, rotse en selfs op vloere te sien. Jou dier is dus maklik vir my om te sien. Met al die vrae (seker danksy Die Byl) wat jy hier vra het jy reeds ‘n skets van ‘n storie!

    Liked by 1 person

  2. Aangrypend. Ek het video gekyk. Ek sien n dier, aar dalk nie dieselfde as jy nie. Die eerste, donker foto lyk soos n cartoon hasie. Ore, gesiggie met bolwangetjies, lyf en wye pootjies onder. Die ander foto’s lyk soos n lammetjie wat blêr ook met voorpootjies. As mens dit anders bekyk sien jy n dierkop vd kant af gesien met oop bek met tande. Iets soos n wolf of iets. Hierdie herinner my aan die Rorschach toetse!

    Liked by 1 person

  3. Ja! Nou sien ek hom duidelik!! Groot! Dit lyk vir my egter nie na tande nie maar na plooie op sy neus, amper soos n hond wat sy lippe effens optrek as hy grom. Dit kan n wolf wees of n bees. Of die grot se bewaker

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.