Oggend op Kuruman se gholfbaan

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

Ek skat jy weet nou al dat manlief van gholf hou. Dat ek soort van saamgeneem word om balle dop te hou, dat dit gekry kan word. En dat ek myself met my selfoonkamera in die natuur verloor, foto’s neem en so bietjie vergeet om te kyk.

Dan soek ons balle.

Manlief word nie kwaad nie, hy het tog geslaan en skeefgeslaan. Of om sy lyf geslaan. Of agter die bal geslaan. Dan gaan die bal nie so mooi na die skoonveld toe nie. Nee, dit verkies dan die bos langs die skoonveld, of die growwe veld, daar waar die balle in ‘n oop stuk grond met effens lang gras soos mis voor die son verdwyn.

Ek help soek, maar my oë kyk vir slanggate en blink lywe, want hier is blykbaar pofadders. En ek gaan nou nie met ‘n ou slangetjie stry oor wie se bal dit is nie. Hy kan maar hou, hoop hy breek sy tande op sy nuwe speelding.

As ek gholfballe gemaak het, sou dit ‘n sendertjie ingehad het. Een wat biep-biep tot ek my bal gekry het. Maar nee, mans kan nie so ver dink nie, dus soek ons die balle. Dan dwaal my oë weer, sien ek blommetjies en vlindertjies en nat spinnekoprakke en bome en boombas. Selfs manlief se houding wanneer hy aanlê om te slaan.

Skuus vir die Frans, ek het dit al iewers gehoor, seker by die mynmanne. Maar ek kan hierdie moer-en-soek speletjie glad nie verstaan nie.

Ek luister so na Jimmy Abbot toe hy nou die dag in Slank met Leandi praat oor hulle gholf. Nee wraggies, ek kan mans nie verstaan nie. Hulle wil mos kyk hoe ver hulle kan slaan. En nou is Jimmy sommer net so in die week en voor die finale uitsending van slank oorlede. Ewenwel, as daai balletjie ‘n stert na links of regs kry, dan soek jy die hard geslaande bal.

Ek sou dit soos put-put aandurf. Korter slaan, maar reguit. En ek sou so ‘n ou randjie om die spesifieke gaatjie waardeer. Een wat die bal in die skoonveld terugsit as jy te skeef gemik het.

Op die gholfbaan raak balle weg! Ons kyk en bereken en dink dat die balletjie nie te ver van die skoonveld is nie. Amper soos ouers in motors vir die kinders sê as hulle vra hoe ver nog – nie te ver nie. Beslis nie in die rowwe deel nie. En glad nie tussen bome nie. Veral nie as ek moet uitkyk vir slange nie.

Ewenwel, so kom ons menseregtedag by die baan aan. So tienuur se kant, want ekke was nie so seker ek is lus vir saamgaan nie. Dit is warm en ek kan baie ander dinge op die vakansiedag doen.

Hou nogal duim vas dat die karretjies almal gebruik is, dan sal ons beslis nie stap nie. Dit is warm, die baan is droog. Daar gekom is ons nie alleen eerste nie, maar ook die enigstes op die baan.

Manlief spot dat hulle seker nog slaap, die kroegman en baanbeampte en alles in een meen dat die manne seker nog dronk is, dit is mos lang naweek. Daar is net 9 gaatjies, mens speel die baan twee keer, net van verskillende bowwe af om by 18 gaatjies uit te kom. Manlief kies dan net 9, dan is die kinders ook nie so lank alleen tuis nie – dit is nou my vierbeenkinders.

So speel hy die eerste gaatjie en ons kry die bal maklik.

Nee wat, die mooi jong ou wat ons die vorige dag toe ons na die baan kom kyk het, met die rof banggepraat het, is verkeerd.

Dit is mooi, mens sal die bal maklik kry.

Op die eerste gat.

By die tweede gat moet ons teen ‘n steil helling teen ‘n koppie opry (foto 3). Ek sit nog so en wonder of ek nie liewer moes afklim en opstap nie, toe is ons al op pad boontoe.

Van bo af het ons ‘n uitsig oor plase aan die anderkant van die bof. Die bof is tussen bome en jy moet oor ‘n hele klomp bome slaan na ‘n skoonveld wat baie ver weg lyk (foto 6 – skoonveld is doer bo in die foto, mens moet oor die bome slaan).

Net toe manlief regstaan om die eerste bal te slaan, gaan ‘n skoot van die oorkant van die bof af. Klink besonder naby.

Snaaks dat ek nie plat neergeslaan het nie, ek het net gestaan. Wit geskrik.

Manlief se hou hang in die lug en hy vra of ek dit gehoor het en ek vra of ons bekommerd moet wees. Hy was in weermag, sal weet hoe ver die skote van ons af is.

Ek het myself oortuig ek moenie bekommerd wees nie. Want – as mens reguit aangery het en nie na die gholfbaan afgedraai het nie, het daar iets van jagplaas gestaan.

Ek was nie lus om slagoffer van ‘n verdwaalde koeël te word nie. Kon darem nie aanval op baan wees nie, ons was enigstes op die baan.

Ek neem aan dat hulle nie na die gholfers op die baan sal mik nie. Maar, hoe lyk ons twee vir hulle deur die bome op die koppie? Soos ‘n bok of twee?

Manlief moes maar vinnig slaan, ek wou net weer af. Mens speel nie met dwaalkoeëls nie. Ons het geen idee waar die jagters is en op wie hulle jag nie. Om die waarheid te vertel, ek is ook nie seker dat ek wel jagplaas raakgelees het nie.

So speel ons die baan klaar, soek hier en daar ‘n bal en geniet die oggend saam.

Twee keer het mense in ons rigting gestap – ek het gedink dit is rondlopers, sommer van die karretjie afgeklim en by manlief gaan staan. As ons aangeval word, moet ek naby hom wees. Hy was nie bekommerd nie, volgens hom weet die twee hoe hard ‘n gholfstok kan slaan. En ons het sak vol by ons, ek kan ook help verdedig. Ek het so wraggies nie daaraan gedink nie.

Ek het dag meer as manlief geniet, hy was nie so tevrede met sy spel nie. Hoe dan anders? Hy speel een keer in ‘n maand of drie. Ek neem aan mens moet so bietjie oefen ook.

Nog foto’s:

Sal ek speel?

Nee wat.

Ek het een keer lank gelede probeer, die stok het in my hand getril en ek het dit versigtig neergesit. Ek verkies om metgesel te wees. Nie eintlik om te help soek nie, maar mens doen wat jy moet doen as die son brand en jy weer by die huis wil kom. Dan soek jy saam.

‘n Paar balletjies het in die rof agtergebly, hulle was net weg. Dalk het hulle in ‘n meerkat se gat ingerol. Daar sal ek ook nie gaan soek nie. Of dalkies was hulle nie meer lus om geslaan te word nie. ek sal dit wel verstaan.

Sal ons weer daar gaan speel?

Manlief dink nie so nie, hy voel die baan is nie lekker versorg nie. Die setperke se gras is op plekke ook maar dun, selfs weg soos op foto’s gesien kan word.

En ek?

Ek dink ons sal weer gaan, nege gaatjies is soveel beter as 18. Daar is egter nie baie om af te neem nie, anders was ek net nie lus om af te neem nie. Daaroor wonder ek tog of ons weer sal gaan. Of ek manlief sal aanmoedig ….

Want een ding weet ek vir seker, hierdie baan het swaar gekry weens die inperkings. Sonder geld is dit moeilik om ‘n baan in stand te hou. Dit is soveel anders as Kathu se baan – maar daardie baan is (a) in ‘n gholf estate en (b) word deur Sischen myn in stand gehou – ‘n baan wat deur spelers se inkomste in stand gehou word, kan nie met Kathu se baan kompeteer nie.

6 gedagtes oor “Oggend op Kuruman se gholfbaan

  1. Die inperkings maak dit moeilik vir almal. ‘n Goeie aspek van julle besoek aan die gholfbaan is die vars lug, sonlig, en – as julle weer gaan – sal jy verbaas wees hoevel klein goeitjies daar is om te sien: slakke, kewers, blomme ens. Meestal is dit lekker om net saam met jou man te wees 🙂

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.