As ‘n nael in die lewe in breek

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

My naels was altyd baie sterk, soos my ma s’n. Moes gereeld afvyl om korter te wees. Voordat hulle breek. Want lang naels breek in die lewe in. En dit is ‘n pynlike ding.

Toe word hulle swak, skeur en breek vir niks. Wou net glad nie groei nie. In so ‘n periode het ek besluit om my naels te laat doen. En het ek baie lank met pragtige naels gespog. Allerhande kleure gedoen, prentjies en als. Want dit was vir my baie mooi. Maar, ek het alle naels selfde kleur gehou, ek kan nie sin kry aan ‘n hand vol verskillende kleure naels nie.

‘n Paar goed het my egter laat besluit om nie meer die naels te laat doen nie.

Die fyn stof wat om ons draai as die kunsnaels met ‘n elektriese vyl gevyl word wanneer die naels verwyder word het my baie gepla. Wat as dit in my longe vassteek? Die reuk van die goed waarmee die kunsnaels verwyder word kan ek nie uitstaan nie en dit het lank reg onder my neus gestaan om die naels sag te maak. Hoe goed is dit vir my longe? En dan het ek gesien hoe my naeloppervlak al dunner word, eintlik deurskynend. So dun dat die goed my naelbed laat brand het. My naels was verskriklik verniel! Om aan die buitekant tog te fraai te lyk.

Ek het die saak so gekyk en besluit om te stop. Net daar. Die kunsnaels te laat verwyder en niks weer op te sit nie. Ek was klaar met bo blink, onder eina. My naels moes rus kry – en as dit lelike, kort naels beteken, dan is dit maar so. My naels was seer.

Aanvanklik was dit ‘n gesukkel om hulle aan die groei te kry. Sodra die nael wat oor die naelbed gelê het oor die kant begin groei het, het dit soos ‘n dun velletjie papier afgeskeur.

Ek het besluit om nie in te gee nie.

Maar ek moet ook erken dat dit nie maklik was om nie te wil ingee nie.

Want – ons het toe so pas na Kazakhstan verhuis.

Daar doen al die vrouens hulle naels. Nie soos hier waar ek die enigste in my gesin en vriendekring was nie. Almal het kunsnaels. En ek het so bietjie gevoel of hulle dink dat ek my verwaarloos.

Een van die redes waarom ek my naels in die eerste plek laat doen het, was omdat dit so lank mooi gelyk het. Twee tot drie weke, ek kon druk tot vyf, ses as ek dit net agter laat opvul het. Want kunsnaels bly voor mooi, dit groei agter uit sodat daar ‘n gaping tussen die nael en die vinger vorm soos wat die nael groei.

Stelselmatig het my naels herstel en tans is hulle hard en mooi en groei hulle teen die spoed van weerlig. Ek moet gereeld vyl dat hulle nie te lank word nie. Want lang naels breek – soos ek geskryf het – in die lewe af.

Verlede week vyl ek my naels, bekommerd dat hulle kan breek. En toe ek die wasgoed in die masjien sit, stamp ek my pinkienael teen die kant van die masjien. Die onmiddelike pyn het my ingelig – daar is bloed, dit is in die naelbed geknak. En natuurlik is dit stukkend, bloed onder die nael, maar nie morsaf gebreek nie.

Toe maak die boervrou ‘n plan.

Ek het van daardie pleister waarmee wonde toegeplak word, die smal ene. Plak die nael toe dat hy nie breek nie en hoop vir die beste. Maar die pleister is nie geskik vir naels nie, dit word los en wil afval. Al bly dit vir ‘n week op ‘n vel, op die nael wil dit nie wees nie.

Afsny kan ek nie, dit is in die lewe.

Toe besluit ek om die nael te las. In Dischem koop ek die nodige gom waarmee hulle plastiese naels vasplak – dit moet net op natuurlike naels ook werk? En ek het mos baie teesakkies. Ek het al gelees dat teesakkies gebruik kan word om die nael te las. Toe besluit ek dat die smal pleister baie beter kan werk.

Manlief gom toe pleister aan die nael en ek druk die pleister, wat ek baie smaller moes sny op die gom vas. Terwyl ek keer dat my vleis nie ook aan die gom vassit nie. Dit is nou wel nie ‘n professionele werkie nie, maar my nael het deur die nag gehou. En ek sou net dankbaar wees as my laslappie nael hou tot die gebreekte deel oor die rand van die naelbed is. Dat ek dit kan afvyl.

‘n Week later is die nael steeds vas. Maar ek moes twee keer verder plak om dit reg te kry. Van naby kan mens die lagies sien (foto 3). Maar wie kyk so naby soos my kamera na ‘n pinkienael?

Die eerste las het gehou tot ek my hare die volgende oggend was. Toe knak ek dit weer. Daar is dus nou drie lagies pleister onder die naellak. So klein stukkie pleister wys, want dit wou na die tweede plak lostrek. Dit het die derde lagie vereis. Dit is nou ‘n week later, die gebreekte deel van die nael behoort dus nou oor die naelbed se punt te wees. As dit weer losgaan, sal ek afhaal en kyk of ek korter kan vyl.

Ek vyl nie almal ook so kort nie, die ander word net effens korter gevyl dat die een nie soos seer oog uitstaan nie. Vir nou is almal steeds lank, die boervrou se plan werk.

15 gedagtes oor “As ‘n nael in die lewe in breek

  1. Ek hou mos van n boer wat n plan kan maak!. Ek het eenkeer met pratley putty vir my ‘n kunstand gemaak tie diekroon losgegaan het en nie meer wou werk nie. Het n week daarmee geloop tot die peridontis kon help. Niemand het dit agtergekom nie( hoop ek!). My naels is hopeloos. Kort en sonder kleur. Maar hulle kan darem klavier speel.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.